|
Die dag na my pa se begrafnis in ‘n mistroostige koue, nat Kaap, bel ek my
niggie.
“Sê asseblief jou karavaan is oop,” smeek ek blatant.
“Ja,” sê sy genadiglik, “Enige tyd, die huurders kom eers in Januarie. Bly
solank julle wil.”
Nog diep tranerig oor oupa Skroefies se skielike “wegglip Hemel toe,” kry my
twee gunsteling rondekop huisdiertjies darem sulke halwe glimlagte toe ek
oordrewe jil, pak, ons gaan see toe!”
Die vodde Rooi Karretjie, is tot die dak gelaai.
Net ‘n spleet tussen die beddegoed en die boogie boards sodat Ma darem in
die tru-spieël kan sien.
Dis nodig vir wanneer die jaagduiwels, aan ons agterent kom plak nadat hulle met skreeuende bande tien vragmotors
opdraand oor sperstrepe verbygeblits het. (Ek gooi altyd met ‘n moerse
glimlag vir die beenkoppe ‘n duim boontoe en skree kliphard: BRAVO. Helaas
het dit egter nog nooit enige wysheid gebring nie.)
Maar op dié grys en koue reëndag wil dit lyk of tot die moedswilliges weet,
hier gaan ‘n karretjie vol hartseer verby.
Niemand druk ons van agter nie, op die Sir Lowry’s-pas kom niemand aan die
verkeerde kant van die pad afgejaag nie en tot die verkeerstannie duskant
die Peregrine-padstal waai met ‘n groot glimlag.
Die selfoon skrou.
Antwoord tog, vra ek vir my meisiekind, iewers onder baie goed op die
agtersitplek. Oor die steil berge en dale op pad Onrus toe, is dit
beenkopstories om agter die wiel die koordlose klets te wil doen.
“Dis tannie Nicky,” sê Meisiekind na sy afgelui het.
“O, en wat wil sy hê? Het jy gesê ons is weg vir die week,” vra ek.
“Ja, sy’t gesê: eeuuwww.”
“Hoekom?”
“Omdat ons gaan kamp.”
“En?”
“Sy sê sy gaan eerder vir die res van haar lewe vir highlights met die cap
as om ‘n badkamer met kommin mense te deel en in ‘n beknopte karavaan
depressie op te tel.”
“Tannie Nicky is ‘n snob,” brom die Broer hier langs my en ons ry in stilte
bergaf.
Ek het darem begrip vir ‘snobs’ soos my vriendin Nicky wat gril vir kamp en
alles wat daarmee saamgaan. Dit lê nie onder almal se rok om in semi-primitiwiteit
kommunaal te raak nie.
Wil egter amper self begin ‘ver-snob’ toe ons Onrus in gietende strome van
water inkruie. By Niggie se staanplek is een reuse moddergat voor die
karavaan.
Teen die tyd wat Rooi Karretjie afgelaai is, die tentraad (huisraad wat in
die karavaan toegesluit word) in die tent uitgepak is en die tentpale stewig
geanker is, die kragboks in die hoek van die erf opgespoor is en die regte
nommer skakelaar opgedruk is, lyk ons soos ou druppende moppe in
staatshospitale. Nie aantreklik nie. En koud. Bitter koud.
Ek deel handdoeke uit en skakel die ketel aan.
“Teetjie!” sê ons gelyk, soos Oupa Skroefies altyd met blydskap kon jubel
oor die vooruitsig van ‘n beker stomende soet warmte.
En ons voel ook sommer stukke beter, elkeen met ‘n beker in die hand, droë
klere aan en toegedraai in duvets en slaapsakke.
Terwyl ons kyk hoe dit buite sous.
“Onrus is wonderlik,” sug Meisiekind droomverlore.
“Dit is. Dis altyd of iets gaan gebeur, of iets om die draai wag,” stem
Broer saam in ‘n oomblik van selde ooreenstemmende opinies.
Ek sê niks, knik net gehipnotiseerd starend na die druppels wat soos lang
silwer spykers uit die hemel afskiet.
Want dis wat Onrus doen, hy suig jou saggies in, dop jou kop om en hou jou
daar, vir dae nadat jy daar weggery het.
Buite op die tafel onder die tentdak, staan ‘n vaas spierwit rose. Vir oupa
Skroefies.
Sommer net vir die gedagte. Omdat hy nou hier sou wees, sou saam Teetjie,
later saam met Broer ‘n vuurtjie pak, tjoppies en hoenderstukke á la
Skroefies braai.
Met daai skewe glimlag skimp: Hoe lyk dit, Meidjie? Gaan jy vir my agurkies
dun sny vir my braaibroodjie? En ‘n dun lagie blatjang? Ag probeer dit tog
net een keer, eggo sy laggie en warrel weg.
Ek druk die trane wat in my neus en oë opstoot met geweld in my keel af.
“Raait,” sê ek vir die kinders. “Wat wil julle doen?”
Die twee kyk vir mekaar.
“Hermanus toe ry en gaan fliek!”
“Gaan eet by die Spur!”
Buite sous dit sonder einde. En dis nou eers 11 uur. In die oggend.
“Ha!” verpletter ek die drome van stadskindertjies.
“Alles behalwe. Ons gaan nêrens nie. Wat wil julle doen, hier, in hierdie
tent, vir die res van die dag, selfs week, as ek buite kyk...”
Brom-brom gaan haal hulle die gewone en die UNO-kaarte, die stapels
biblioteekboeke (hoekom so baie, ons gaan mos nie tyd kry vir lees by die
see nie?) wat ons die vorige dag uitgeneem het, die sketsboeke en die
tekenpotlode.
Elkeen kry ‘n hoekie in die tent, maar sit en staar net vir mekaar.
Ek sien aspris niks en begin bestanddele uitdink vir ‘n kampkos-feesmaal.
‘n Uur later staan ek rooiwyn (in ‘n blikbeker, lekker) in die hand, KFM
speel die heerlikste reënweer-musiek oor die karavaanradio, op die stofie
blaas en spoeg die potjies en pannetjies en die kinders is tjoepstil aan’t
teken en verf. Buite sous dit nog steeds.
Magies vol, ogies toe.
Tot Boeta Ek-is-te-groot-vir-middagslapies kap later om.
Drie ure later word ons stuk-stuk en heel dof, maar diep tevrede, wakker.
Buite sous dit.
Ons hol in die reën die 200 meter badkamer toe. Daar gekom is Ablusie
Gesluit- Kry Sleutel by Kantoor (indien nog nie van een voorsien).
Ons hol terug karavaan toe. Gryp Nig se bos sleutels en gly-val weer deur
die modderpoel.
Ek lag. Waar is Nicky nou?
Uitasem na al die draaie, is ons terug.
Afgedroog hark ons die kaarte nader en speel Rummie tot hande kramp.
Dik ertjiesop prut op die stofie, tyd prut saam.
Ek skink nog ‘n bekertjie, die kinders maak smakgeluide oor hul Milo,
verdiep in die stapels biblioteekboeke.
Die krag skop af. In die stikdonkerte voel-voel Boeta sy pad tot by sy
koplamp. Suster agterna vir hare.
Met koplampe wat aan die rekke om en om geswaai word, word daar ge-disco,
danksy die karavaanradio op batterykrag. Ons sing saam, lag, val oor
tentraad, hol verskeie kere weer Ablusie Gesluit toe, dans, klink ‘n
heildronk op oupa Skroefies (julle is lekker laf, sou hy lag) en val uitasem
in die bed.
Vir drie dae sous dit.
Vir drie dae speel ons kaart, maak ons asemsnakkende kunswerke, eet ons te
veel, deel ons nuutgevonde kennis oor dinosaurusse, prehistoriese
seemonsters, hoe om babahondjies te versorg, herontdek ek weer die wonders
van Karel Schoeman, Franci Phillips en Elsa Joubert, als op die maat van
reënmusiek.
Vir drie dae het my piepklein gesinnetjie mekaar weer ráákgesien en gehoor,
van vooraf liefgekry en die besef dat ons tot in ewigheid onlosmaaklik deel
van mekaar is, in ons wese vasgemessel.
Toe die son ons op die vierde dag deur die karavaanvensters wakkerbrand, is
dit tyd om vir oupa Skroefies te laat gaan.
Rose in die hand drentel ons af see toe. Die son brand. By die verste punt
van Onrus se strand, by die rotsagtige baatjie, daar het ons elkeen op sy
eie, in eie woorde, vir oupa koebaai gesê en die rose een vir een vir die
branders laat glip.
Natuurlik het ons gehuil, maar nie vir lank nie.
Want die son het geskyn, die lug was blou-blou (soos oupa se ogies, né Ma?),
die see was in ons neuse en hare en oor ons lywe.
Wat wil julle doen, het ek gevra.
Kom ons gaan terug karavaan toe, het hulle my verbaas.
Ek wil vir oupa gaan teken, die een.
Ek het nog een boek oor om te lees, die ander.
Toe die vuurtjie begin gesels, begin maak ek vir ons braaibroodjies.
Met dun snye agurkies. En ‘n lagie blatjang.
|
|