|
Ek soek 'n
winkel wat verpakte porsies vir een verkoop. My gesin bestaan uit een en
twee halwes waarvan laasgenoemde nie tuna, snaakse pasta-mengsels of
spinasie-en-feta eet nie.
Nou moet ek noodgedwonge die héle pakkie (serves 4 to 6) wat-ookal alleen
verorber of dit in die yskas laat muteer tot 'n eksotiese fungus.
Van die disse kan ook nie gevries word nie en daarom moet ek soms vergeet
van kwylende lekkertes omdat ek nie kans sien vir smoked oysters (op
special) vier dae in 'n ry nie.
Of gestel jy word vir 'n braai genooi en jy het nie tyd om by die slaghuis
aan te gaan nie. Nou móét jy of nege tjops of agtien hoenderboude of twaalf
meter wors vat. En omdat jy armlastig is, kan jy dit nie bekostig nie en los
jy dan maar die ou braai.
Ek weet daar is afdelings in winkels waar jy porsies na keuse kan bestel,
maar ek gaan gewoonlik na vyf smiddae shop en dan is die hele Windhoek ook
daar en die assistente agter die toonbanke is te moeg om te gaan krap vir
twee los tjoppies en 'n halwe meter wors.
Wat van kasies vir een? Ek ly aan laktose-intoleransie en kan derhalwe net
een keer 'n maand myself vergryp aan suiwel in sy beste vorm. Die geel blok
sal dan heel verdrietig al hoe verder agtertoe skuifel in die yskas en teen
maand twee homself voorstel wanneer jy niksvermoedend die deur oopmaak.
Gouda, aangename kennis…
Ek is seker daar is baie singletons wat dieselfde probleem het. Natuurlik is
kleiner verpakkings duurder as die dis self, maar die massas alleenlopers
sal in strome begin koop en dan is die probleem mos opgelos.
Nog 'n gerieflikheid wat met luide goedkeuring begroet sal word is
kinderoppassers in winkelsentrums. Ek kan alle bestuurders en eienaars
waarborg dat kliënte met kinders baie meer sal bestee as hulle tydsaam en
ongehinderd kan shop. Hoeveel maal het ek nie al by die huis gekom en gesien
dat ek alles behalwe dit wat op my 'lysie' staan aangeskaf het nie? Net
omdat ek die heeltyd moes keer en stoei en verskoning maak vir kinders onder
trolliewiele, twee gesprekke gelyk moes voer en dan in die proses vier pakke
Smarties inlaai in plaas van melk en botter nie.
My lyf is skoon seer as ek uit die winkel ontsnap en die kinders
hiperventileer van al die beweging om hulle.
Kan daar nie 'n ruimte ingerig word waar die kinders ingeboek word vir 'n
uur of twee nie? Hulle kry dan elkeen 'n armband soos in die hospitaal met
'n bar code op wat net die ouers kan verwyder met 'n kodewoord. Dan kan
mense met siek kindergryp-gedagtes nie die nasate ontvoer nie, want alarms
regoor die sentrum sal gillend begin loei en alle ingange sal onmiddellik
versper word. Dit sal 'n blye dag wees as ek weer normaal kan inkopies doen.
Ek hou van kla.
Daar is nog iets wat my grensloos irriteer.
Hoekom moet ek na Boom-Shaka gangster musiek teen dertig duisend desibels
luister as ek in klerewinkels kom? Ek raak later so verbouereerd oor my hart
wat op die rand van ontploffing staan vanweë die 'in-your-face' ritme dat ek
alles neergooi en hygend teen 'n paal buite my asem probeer terugkry.
Bedryfsielkundiges kan gerus ingespan word om winkeleienaars te oortuig van
die waarde van onder andere klassieke musiek wat strelend op die oor en in
die gemoed speel.
Daar is al bewys dat geharde misdadigers in lammetjies verander het na die
herhaalde blootstelling aan Mozart en Chopin.
En dat genoemde misdadigers hul eerste misdade in klerewinkels gepleeg het
as gevolg van die breingolf-versteurende musiek daarbinne.
Ek steek deesdae net my kop by 'n winkel se deur in om eers te hoor watter
geluide binne afspeel en laat ek net een beat te veel in die 'melodie' hoor,
dan beweeg ek so vinnig as moontlik weg.
Maar nou ly ons al honger en ons klere is aan flarde.
Iemand moet asseblief help.
|
|