|
DIS Skrikkeljaar, Dames, en vir die wat
nie weet nie, die jaar waarin ons die Vraag mag vra.
Die legende lui dat hierdie tradisie sy oorsprong in die 5e eeu in Ierland
gehad het, toe Sint Bridget (sien, daar ís vroulike heiliges!) by Sint
Patrick gekla het oor die mans daai tyd al so lank gevat het om op hulle
knieë neer te val en die ja-woord te vra.
Sint Patrick, wyse man wat hy is, sê toe dat vrouens voortaan op die 29e
Februarie die vrawerk mag doen omdat dié dag volgens die engelse regstelsel
geen wettige status gehad het nie en gevolglik die ideale dag was om ‘n
verouderde en onregverdige gebruik reg te stel.
In 1288 is ‘n wet in Skotland aanvaar waarin vrouens toegelaat is om
gedurende Skrikkeljaar “trou-met-my” te prewel. Die beste deel van dié wet
is dat enige man wat so ‘n huweliksaamsoek sou weier (en nou raak dit lekker),
‘n boete moes betaal wat wissel van ‘n boetedoeningskus of ‘n paar
syhandskoene. (Ek sou raai dat die meeste vrouens die laaste opsie sou kies,
want wie wil nou gesoen word deur die symste man wat pas jou aansoek afgelag
het?)
Die Grieke waarsku egter dat ‘n mens nie in ‘n Skrikkeljaar moet trou nie,
aangesien die paartjie vir ewig verdoem sal wees.
Daarom, Dames, is dit nou die tyd om tot aksie oor te gaan.
Ek wil die liefde in die lug terugsit en ek gaan nou ‘n hoekie vir eensames
in Namibië begin.
Na aanleiding van die menigte klagtes wat ek sedert verlede jaar moes
aanhoor, het ek dit goed gedink om dié in nood by te staan.
Belangstellendes van beide geslagte kan skryf aan: Onder die Dekmantel,
Windhoek, en briewe moet in die volgende formaat wees met die inligting soos
aangedui:
‘Poppeloppie van Windhoek is ‘n 50-jarige enkelma van twaalf wat (al weer)
op soek is na haar sielemaat. Mans wat hou van kosmaak, die natuur, dans,
musiek, rofstoei, motors, kinders, tuinmaak, kleremaak, huishou, bederf,
groot geskenke koop, braai, vrugte inlê en visvang, moet dadelik skryf. Geen
rokers, drinkers of kansvatters. Ek is ernstig, met roesrooi skouerlengte
hare en ligpers oë, 1.3 meter lank en weeg 378 kg.’
Of: ‘Damduiker van Drimiopsis is ‘n 104-jarige manlike skuba-entoesias met
geen onafhanklikes. Dowwe blou oë, geen hare, eie tande, stewige bou en
bankbalans. Dames tussen die ouderdomme van 75 en 100 met eie vervoer en
geldige rybewyse kan skryf. Foto’s is verpligtend.’
Om sake vir die vrouens met voornemens verder te vergemaklik, bied ek ‘n
paar goue reëls aan om, hopelik, mans beter te kan verstaan:
Sportuitsendings, veral op Saterdae, is soos volmaan of die verandering van
die getye. Aanvaar dit. En as jy iets moet vra, doen dit tydens die
advertensies.
Om inkopies te doen word nie as ‘n sportsoort beskou nie en nee, mans gaan
nooit hulle opinie hieroor verander nie.
‘n Tranedal is niks anders as afpersing nie en vra as jy iets wil hê, want
skimpe werk nie.
As jy dink jy is oorgewig, is die kanse goed dat jy wel ‘n paar kilo’s moet
afskud. Moenie die man daaroor vra nie.
Alle mans kan net ‘n handvol kleure onderskei. Appelkoos is ‘n vrug,
turkoois is ‘n gesteente en geen man het ‘n idee wat mauve is nie.
Moet nooit, nooit ‘n man dwing om tussen jou en sy motorfiets te kies nie,
want die kans is goed dat jy gaan verloor.
As ‘n man jou vra wat fout is, moenie sê: niks nie. Die man weet jy jok,
maar is nie lus om die moeite aan te gaan nie en sal aanhou optree asof daar
niks fout is nie.
Christopher Columbus het nie rigtingaanwysings nodig gehad nie en daarom het
geen man dit nodig nie.
En Dames, die laaste, maar volgens die manne die belangrikste reël: ‘n
hoofpyn wat sewentien maande duur, is nie normaal nie. Maak ‘n afspraak by
die dokter.
Ek neem aan Windhoek sal op 29 Februarie leegloop, want al die enkellopende
mans sal skielik onthou van belangrike sake in die buiteland en met hulle
terugkeer gelaai wees met boksevol syhandskoene… |
|