|
HIER volg
een van my briljante visioene.
Met alle respek gesê en uit die diepte van my hart.
Vervang politiek met sport. Dis al hoe wêreldvrede gevestig kan word.
Voor almal nou weer hulle oë rol en ag ja “whatever”, vroumens, sug, dink
eers.
Vergelyk ʼn bietjie die aantal mense wat dag na dag na sportuitsendings kyk
met dié wat politieke debatte volg.
Hoeveel mense ken jy wat die wekker vir skuins na middernag stel om tog NET
NIE die openingsrede van die Verenigde Nasies se Veiligsraad te mis nie?
Hoeveel mense slaap vir dae in die gietende reën voor regeringsgeboue om
“ringside seats” tydens die opening van die parlement te kry?
Wie het ʼn ondertekende fotoplakkaat van al die kabinetslede teen sy of haar
kamermuur?
WIE het al ʼn doktersbrief ‘bekook’ om weke ‘afgeboek’ te wees net sodat jy
die President se besoek aan China kan volg? In China. Nie op TV nie.
Politiek lok skares om verwarrende redes. Politiek is ʼn ongesonde sport
waarvan min die reëls ken en volg. Dis nou waar daar wel reëls in plek is.
Politiek is die duurste sport in die wêreld met in die meeste gevalle,
belonings vir eie gewin. Politiek roem om ʼn spansport sonder vergelyk te
wees, maar is selde indien ooit.
Politici inspireer nie sommer met kleurvolle uitrustings, neon-sonskerm,
punt innie wind hare en “funky” sonbrille nie. (Nou goed, ek moet erken ons
het wel ʼn minister of twee wat die stylding met oorgawe doen.)
En dan is daar die troefkaart: kaalnaelers.
Ek kan my nie indink dat iemand kaalbas agter ʼn “MP” in die hoofstraat gaan
afhol en dieselfde gewaardeerde impak as ʼn bleekboud Bok-ondersteuner oor
Nuweland sal hê nie.
Inteendeel. Die “honourable member” én sy “ondersteuner” sal tien teen een
met gesperde neusvleuels in geskokte stilte verafsku word. En in die koerant
lees dat die gewaardeerde lid stil-stil bevorder is. Drimiopsis toe. As
bokwagter.
En dink net die reaksie as nartjies vol vodka oor die Parlementsvloer moet
vlieg na ʼn nare optrede. Of iemand uit blydskap die Mexican Wave tussen die
gewyde mure moet begin. En wanneer laas het ʼn bierbrouery die nasie laat
“rock” met ʼn hiper-cool advertensieveldtog oor aand-parlementsittings.
Okei, okei, ek ruk nou hande uit. Grappies op ʼn stokkie. Ek vra verskoning
indien dit mag voorkom dat ek geen respek het vir ons landsleiers nie. Dit
is nie die geval nie.
Ek wil net probeer om bietjie woema in die andersoortige spansport te gee.
Politiek het nou een maal nié die oemf van ʼn nasionale sokker-oorwinning in
die verre nie, of die aardskuddende impak van ʼn Wêreldbekereindstryd nie.
Is maar net oor al daai lipgimnastiek dat u so ʼn beperkte kykertal het.
“Howzat!” |
|