Taalgrille en geite

 
 

Minette Brink
 

 
 
Ek is mal oor Afrikaans – al gebruik ek so baie sleng.

Blaai eendag deur die HAT en ‘n wonderwêreld sal vir jou oopgaan. Dis net nie aldag moontlik om volgens die boek te praat nie.

Mense gaan mos lag as ek kla dat te veel tieners deesdae in helder flanelet voor winkelsentrums flaneer. Of: met die bou van my huis het die plasing van die argitrawe my hoofbrekens besorg.

In ballas vaar is toe nie so seer as wat dit klink nie. Die skip is net sonder vrag.
Indien ek praat van die blompens, verwys ek na die ingewande van herkouers en nie na die jongste tattoeëertendense nie.

Is daar enige iemand wat hierdie taal praat…eh…besig? My erudisie is te klein daarvoor.

‘n Verskriklike kwaai Oom het eendag met my kom baklei omdat ek die Rooitaal so meng met die Moeder s’n. Ek was maar bang vir sy smaad en ek wou ‘n alterkasie so ver moontlik vermy. Toe verduur ek maar die skrobbering en beloof om my skrupuleus aan alle voorwaardes te hou.

Werklik.

Ek kry dikwels kritiek op my gemieksery, maar ek kan myself nie anders uitdruk nie. Die gevoel wat jy probeer skep met sekere woordkeuses sal heeltemal verlore gaan indien jy verplig word om elke keer die ‘korrekte Afrikaans’ te gebruik. Dit voel ook of ek erg nasaal en dunbelip moet raak tydens die korrektheid. Tot my nek trek styf as ek die Groot Taalpuris speel.

Korrekte Afrikaans word net deur ‘n geselekteerde groepie benut en ek dink dis ‘n gawe waarmee jy gebore word, soos iemand met natuurlike kuns- of musiektalent. Ek bewonder diesulkes opreg, want dit lê nie onder my rok nie.

Maar net soos ek respek het vir die Puriste, moet sommige van hulle meer toeganklik raak ten opsigte van ander se taalgebruik. Soos ons gelowe en politiese oortuigings verskil en verander deur die jare, so moet ons almal aanpasbaar wees en mekaar ruimte gun vir taalverskille.

Ons praat tog nie meer die Afrikaans van 1920 nie? Daar is woorde wat nou in woordeboeke verskyn waaroor my ouma die horries (‘n heerlike woord!) sou kry. Die f-woord is byvoorbeeld in al sy vorme beskikbaar in die HAT. Ons moet die rede ontfutsel!

Nou is ek op. Dis geweldige inspanning, en ek weet regtig nie hoe doen mense dit so uit die vuis uit nie.

Miskien is ek net te dom en moet asseblief nie dink ek kén al die hogere woorde wat ek hier gebruik nie. Ek het hulle net so uit die woordeboek gehaal en ek is nie eers seker of dit in die regte konteks aangewend is nie.

Ek hoop van harte dat my Afrikaanse onderwysers my sal vergewe dat ek hul verbete pogings tot verbeterde taalgebruik so minag.

Dalk help dit so ‘n bietjie as ek vir hulle sê dat Afrikaans een van my gunsteling vakke was...

Dit was die klasse waar ek ken in die hand na begeesterde vertolkings van NP van Wyk Louw geluister het. Waar my gedagtes saam met perfekte rym en ongelooflike beeldspraak by die venster uitgesweef het. Die begin van ‘n groot liefdesverhouding wat dag vir dag sterker geword het. Liefde vir woorde en woordspeletjies en die die daaglikse ontdekking van nuwe woordskatte.

Soos dat die Afrikaans vir ‘n g-string glo ‘n tergtoutjie of ‘n snakstringetjie is. Die williewerkie-wals of die vakbondvastrap is die verbeterde weergawe van die toi-toi.
Is dit nie ongelooflik nie? Waar wil jy ‘n meer beskrywende taal kry?

Maar alle grappies op ‘n stokkie:
Wanneer die siel praat, is daar net een Afrikaans en dit is die taal van die digter. Sonder jouself af en lees, in algehele stilte, die woorde van een van ons grootste digters.

My naakte siel wil sonder skrome in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome, soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense, en die heilige, nooit-gehoorde dinge sê, waarvoor die mense huiwer, en wat om die grense flikker van my duister woorde.