Minette Brink

 
 

Taalrestaurant

 
 

SINTUIGLIKE oorlading, wat ʼn wonderlike ervaring.
Op die aand van my 37ste verjaarsdag word ek dié bederf gegee, danksy Ruhan.
“Ek gaan nie vir jou ʼn persent gee nie, ek gaan jou vir ete vat,” sê hy die week tevore so in die verbyloop.
Dis chaos in die kantoor. Einde van die jaar stresvlakke skree oorverdowend, almal sit met opgetrekke spasma-skouers en slaat laaste stories op sleutelborde uit.
“Ons gaan Taal toe,” sê Ruhan.
Ek gee een van my diep fronse.
“Taal? Watse taal? Wat praat jy?”
Hy klik vererg.
‘Man, die Taalrestaurant. Moenie vir jou aspris kom dof hou nie. Eet jy Indiese kos?”
En net daar begin die sensoriese prikkels.
“Ek eet alles, jy kan mos sien hoe lyk ek, ek was nog nooit by ʼn Indiese restaurant nie, ek vrek oor anderste kosse van ander lande en al daai bakkies met die goetertjies, kan ons met ons hande eet, o lekker, o dankie,” babbel ek tot erge irritasie van kollegas.
Die oomblik toe ek oor die drumpel van die Taal tree, verander die wêreld. Ek is nie meer in Iendépidins éwwinjoe nie. Ek is nie meer in Namibië nie.
Die musiek, die personeel, die sjefs duidelik sigbaar in die kombuis, die bome, die tafels en stoele, alles speel saam om my op te lig en ver weg te voer.
Gilbert is sy naam, sê die kelner in die kleed.
Soos ʼn skim verskyn en verdwyn hy op net die regte oomblikke.
Op die tafel loer die platbrode met die onbekende bruin saadjies in.
Stukkies word afgebreek en kou-kou raak ons aan die gesels.
“Dis die probleem in vandag se lewe. Ons jaag deur alles. Wanneer laas het jy geproé wat jy eet,” sug Ruhan en ek stem saam.
Tot die spyskaart waarsku teen die gejaag.
Geheimsinnige geure spiraal deur die lug, warrel veerlig onder my neus verby, sodat ek behaaglik diep snuif. Die sintuie roer.
‘Is waar,” sug ek. “Eet het soos tandeborsel geword. Net nog iets wat jy elke dag uit gewoonte doen.”
En ons kom ooreen om dié aand uit te rek en elke stukkie kos met oorgawe en oortuiging te geniet.
Elke happie met toe oë te ontdek en toe te laat dat die kruie en speserye en geheime bestanddele met ons praat.
“It yields the fruit of righteousness to those who follow the moral law, pleasure to those who follow lust, restraint for the unruly, discipline for the followers of rule…” seg ene Bharata voor in die spyskaart.
Barra Boti, Reshmi Kebab Kali Mirch, Palak Paneer, Kulfi. Tot die name van die geregte rol eksoties oor my tong.
Hoender en vegetariese samoosas vir voorgereg, ʼn palatumsimfonie.
Te gou is dit tyd vir die hoofgereg.
“Dis te veel,” sug ek droomverlore. “Waar begin mens kies?”
Dan val my oog op ʼn gereg met bestanddele wat ek nog altyd saam wou proe.
“O! O! Die ene, die ene...eeehh, die Badshahi Badam Pasanda,” probeer ek my tong om die woorde krul.
Ruhan is duidelik ʼn kenner, want saam met dié bestel hy Chicken Vandaloo, Jeera-rys en Knoffel Naan.
Gilbert se kleed swiep geluidloos kombuis toe.
Voor ons kan sê Sitar en Tabla sit die kelner die hordes bakkies neer. “Kan 45 minute al om wees” vra ons tegelyk.
Ek het nie woorde om die eerste happie te beskryf nie. Elke hoekie van my lyf sug “fluweel.”
“Lewendig,” knik ons oor die Vandaloo.
“Geniepsig,” hyg ons vir die atjars.
Dis te veel, dink ek beneweld. Dis soos besoeke aan katedrale in Europa. Oorweldigend, ongelooflik, verbysterend mooi.
“Nooit kon dink dat kos my tot trane kan dryf nie. En ek praat nie van die rissies nie,” sê ek.
Teen die tyd wat ons nagereg moet bestel, was ek om die wêreld en terug.
Met ʼn swaar hart neem ek afskeid van die Taal.
By ons motors kan ek nie genoeg dankie sê nie.
“Van nou af gaan ons elke sintuig inspan om van vooraf te ontdek,” beloof ons mekaar en groet.
“Het jy ook die seilskepe gelaai met speserye gesien? En die eksotiese dansers in die maanlig,” vra ek voor ek in die kar klim.
Ruhan het net geglimlag.