|
TROTS is niemand se speelmaat nie. Met baie teer herinneringe blaai ek
die ander aand deur foto’s van my oorlede ouma. En ek begin lag, oor dié
ouma, koningin van Trots. In Boeretaal sal ʼn mens dit seker as plein
hardkoppigheid beskryf, maar dis juis wat haar uniek en so ongelooflik
spesiaal gemaak het.
Ouma was die grootste dame wat ek ooit geken het. Al het sy dit gereeld
te ver gevoer, tot groot (verskuilde) vermaak van die familie. Soos die
keer wat sy vir ons uit Johannesburg kom kuier het en ons afgepiekel het
Swakop toe. Met die uittog na die eerste strandpiekniek, is ons redelik
verstom toe Ouma van kop tot tone gedress, sykouse en Bally-skoene
inkluis, haar in die kar sitmaak. Ek is die taktlose een in die familie
en vra toe nou maar die vraag wat op almal se lippe brand. “Oums, ons
gaan strand toe. Oums kan mos nie met daai mooi klere gaan nie?” Sy gee
ʼn ligte, dog uiters vroulike snorkie en druk haar reeds perfek gedoende
hare reg. “Gmf, dink jy ek weet dit nie.” En dan met ʼn diep sug,”ek is
immers ʼn gas in hierdie dorp. Mens moet betaamlik lyk. Mens weet nooit
wie jy kan teëkom nie.” Ons is toe see toe. Ons het niemand teëgekom nie.
Maar Ouma was in haar element op haar reuse strandhanddoek en dis al wat
tel. Bally-skoenhakke pikant in die sand geanker.
Die ander saak van trots was die weiering om ʼn gehoorstuk te dra. Nie
dat sy aan ʼn erge graad van hardhorendheid gelei het nie, maar dit kon
dalk vir minder verwarring gesorg het. Sy en ma gaan koop eendag rokke
en die verkoopsman staan nader. “May I be of assistance,” vra hy baie
beleefd. “SISTERS? Nooooo, mother and daughter,” lag Ouma hoogs gevlei
terwyl sy deur die winkel wegwals.
Een aand bespreek stiefpa sy reisreëlings met ma. Hy was oppad Rundu toe
en sê hy gaan sommer vir Perd (een van laatlamboet se byname) saamvat.
“TE PERD,” stik Ouma in haar tee. “Gaan julle nie moeg raak nie?” En die
kommer oor die enigste kleinseun keep twee nuwe plooie om haar mond.
Ouma was gek oor televisiekyk, maar soms sou dié tegnologiese wonder vir
haar net een te veel wees.
Gillette se World Sport Special het haar tot raserny gedryf. Aan die
begin en einde van die program is daar die standaard skote van tollende
motorfietse, vallende bergklimmers, ruiters wat van perde aftuimel en so
aan voort. “O lot!” Die geskokte gilletjie sou aand na aand deur die
huis weergalm. Oor dieselfde ding wat sy die afgelope week na kyk en
elke keer oor skrik. Dan moet ons mooi verduidelik dat niemand seergekry
het nie en dat dit heruitsendings is, maar nee. So ‘o lot’ ons die hele
vakansie deur.
Verwarrende kuisheid het ook ʼn groot rol gespeel. Sou ons videos kyk en
daar’s ʼn vrytoneel (nee, niks onder die belt nie, ons is ordentlike
mense) dan sou sy heel geskok haar hand oor haar oë drapeer en so tussen
die vingers deur loer. En ‘ag nee, skaamte’ prewel. As ma dan sê miskien
moet ons liewer ʼn ander video kyk, dan skop Ouma vas. “Nee, nee, nee,
netnou mis ek iets.”
Uit respekte kon ʼn mens nie ʼn argument aanknoop nie, want die logika
agter dié versoek was verbysterend.
Ek verlang verskriklik na my ouma. Ten minste het ek ʼn ordentlike porsie
hardegatgyt geërf. |
|