Minette Brink

 
 

'n Krampagtige vasklou aan 'n verdwene jeug
 

 
 
NA jare se desperate gesoek na die regte kopdokter en die regte pille om die chemiese wanbalanse in die brein te herstel, vind ek uiteindelik stilte in my gemoed.
Vir twee jaar na die groot ontdekking leer ken ons mekaar (ek, die kopdokter en die pille) en sowat 'n maand gelede kan ek vir die eerste keer in my lewe sê ek dink ek gaan orraait wees.
Die man met die grys jas staan nie meer op elke straathoek nie, die swart hond loop nie meer in die nanag nie en die wurggreep van angs pers nie meer die laaste lug uit my lyf nie.
Dit gaan goed. Ek is gesond. Ek is happy.
En toe hou 'n gesinstydskrif 'n kompetisie vir sexy oumas.
Toe ek daardie bladsy omblaai, is dit soos tyd wat vries. In daardie gevriesde oomblik slaat jou brein, jou lyf, jou hele wese brieke aan dat die rook trek.
Maar helaas. Tyd kan nie teruggedraai word nie.
Want jy moes nie omgeblaai het nie omdat dit wat jy daar sien, links bo in die hoek, laat alle emosies, vrese en neuroses met geweld weer losbars, soos V.S.B. (voor suksesvolle behandeling.)
Nee, nee, nee, brul dit in jou siel soos 'n ou kasset wat trek.
Maar jy kan nie jou verstarde oë wegskeur van die skokkende tonele op die blad nie.
Boude, borste, bobene, pruilmonde, gepluisde hare, mini-rompe soos boordjies, uitpeulbloese sonder skroom, gedrapeer oor rusbanke, uitgestrek op snoekertafels, bedruip oor gordynreëlings, geknoop om vensterknippe.
Oumas.
Ek word in die hoësorg-eenheid wakker met die kopdokter wat oor my hang.
Werklik, sug hy. Was dit nou regtig so erg?
Ek gaan aan die bewe en besef ek klou nog steeds aan die tydskrif.
“Hhnn….hhhnnn…”is al wat ek uitkry, beduie na Daai Een links bo in die hoek.
Hy sit nader en bekyk met skrefiesoë die rede vir my groot floute.
En kry terstond asemnood.
“Jy’s nie 'n kopdokter se dinges werd nie,” sê ek vies.”Die vrou het my jare teruggesit. Ek gaan sue, maar vir wie?”
Maar hy lag so dat ek nie gehoor word nie.
Ek pak my sakkie, gryp Die Tydskrif en storm by die hospitaal uit.
Skryf die ounag koud oor my diepe emosionele ontwrigting oor OUMAS en druk die send-knoppie met geweld.
Eers toe kan ek vir die eerste keer ontspan en die rede vir my ontwrigting probeer uitpluis.
Ek ken net een soort ouma. Dié met die grys hare en die potblou oë en die sagte hande.
Die ouma wat kosmaak, koekies bak, saam met die kinders met klei speel en babahondjies help vang.
Ouma met die breë skoot en die beskermende arms en die reuk van jasmyn, karringmelkbeskuit en anys.
My ouma wat net kerk toe 'n smeerseltjie ligpienk lipstiffie aangestip het sonder rooi kloue vir naels en hoog, geboë, pikswart wenkbroue. Sonder stywe nommertjies en hemelhoë spykerhakke om haar 75-jarige lyf op te balanseer.
Ja, stenig my op die markplein, noem my verkramp, eng, wat ook.
'n Ouma is 'n sagte, liefdevolle mens wat die lewe verstaan, wat baie lag, wat poetse bak, wat seerplekke wegtoor, wat skelm 'n geldjie in die hand stop.
Ouma lyk soos die enigste ligpunt onder al die inskrywings. Die même op die rotse van wie haar kleinkind skryf: my ouma is so sag soos sjokolade.
Nie iemand wat lyk soos 'n paaldanser in 'n ontkleeklub nie. Dink net hoe verskrik daai arme, arme kleinkindertjies saans moet wees om deur so iets in die bed gesit te word.
“Pasop Ouma, daai silikoon gaan ontplof as Ouma my so hard druk. Nee, nee, moenie my soen nie, daai rooi verf gaan NOOIT van my wang afkom nie! WHAA! EINA! Ouma se wrede nael het my oog uitgehaal!”
Ek is terug in intensiewe berading en 'n dubbele dosis medikasie. Daai Een links bo in die hoek…