|
EK het ʼn magdom nuwejaarsvoornemens en
nie een daarvan is positief nie.
Eerstens maak ek vrede met my 104 kilogram lyf en die feit dat die groot 40
op die horison flikker.
Tweedens sal ek nie ophou rook nie omdat ek swak is, geen wilskrag het nie
en nié wil ophou nie.
Ek sal vanjaar minstens een keer per dag lank en swaar op my kar se hoeter
lê vir elke pad-idioot wat my bloeddruk opjaag.
Instansies soos winkels wat bompa-bompa-whaa-haaa musiek teen tienduisend
desibels speel sal so oorval word met onophoudelike oproepe en klagtes dat
hulle later die prop uittrek. Net om mý gekerm stil te kry.
Handelaars wat herhaaldelik items ‘per ongeluk’ by die verkeerde stafiekodes
op die rakke pak sodat dat jy dink die ding kos N$5, maar by die kassier
slaat hulle jou met N$15, sal gedagvaar word.
Swak diens sal met luide ontevredenheid begroet word ten aanhore van die
wêreld.
Onbeskofte mense wat indruk in rye, in jou ore kou in die fliek, selfone
laat skrou by formele geleenthede en lawaai in stiltetye gaan vanjaar ly.
Ek. Het. Genoeg. Gehad.
Ek sal nie meer miesies Niceguy ten koste van my gesondheid speel nie.
Ek sal nie meer op my tande byt en water oor akkers laat loop nie.
Sou iemand by die ontvangs van enige maatskappy, instansie of handelaar die
telefoon met ʼn ‘êêê’ beantwoord, gaan ek lostrek met ʼn luide Babelse
gebrabbel met baie teen-êêê tussenin.
Die lys is nimmereindigend en dit voel goed.
Ek gaan ook die persoon probeer opspoor wat duidelik nog nie gehoor het van
die sinchronisering van verkeersligte nie.
Kom ek verduidelik: gestel daar is 10 verkeersligte in ʼn straat, net etlike
meters uit mekaar. Jy wag geduldig by lig een en trek weg met die groen. Jy
kom egter nooit uit eerste rat nie, want lig twee het intussen rooi geslaat.
Jy hou weer stil. En wag geduldig. Die lig slaat groen. Jy trek weg. En hou
onmiddelik weer stil vir lig drie wat haai nooit rooi geslaan het. Hallo!
Was daar nie net die anderdag ʼn petrolkrisis in die land nie?
Om nie te praat van die onnodige slytasie en verweer van jou karretjie is
binnegoete nie.
Ek gaan ook vanjaar verskriklik baie vrae vra. ʼn Vierjarige se hoekoms sal
nie ʼn kans staan teen myne nie.
Hoekom is daar ʼn hekpersoon by die internasionale lughawe se ingang? Wat
almal altyd vaal van verveeldheid met so ʼn pap hand inwaai.
Hoekom is daar so ʼn vieslike spoedwal voor daai selle hek wat jou kar se
onderstel kan afhaal as jy nie almal laat uitklim en die kar oorstoot nie?
Oorry kan jy beslis nie.
Hoekom mag taxis steeds die ingange, uitgange, sygange en oorgange by Maerua
Mall blokkeer?
Hoekom kry mense net piepklein boetes as hulle bome afkap? Dis nou AS hulle
ooit betrap word.
Hoekom mag mense brakke aanhou wat 24/7 teen jou kamervenster kef?
Hoekom moet mense N$3000 vir ʼn eenslaapkamer woonstel betaal? Water en ligte
uitgesluit?
Hoe kry die munisipaliteit dit reg om jou kragrekening van maand tot maand
drasties te laat verskil?
My kop is nou seer.
Ek gaan in my karretjie klim en ʼn sigaret opsteek. Dan lank op my hoeter lê
en ietsie gaan soek om te eet.
Dan weer terugkom en liewers van vooraf probeer. So kan gʼn mens die nuwejaar
aanpak nie.
Een: kry lidmaatskap by gym.
Twee: wees nice…
|
|