Minette Brink

 
 


Vrot
 

 
 
EK word oud. Verby is die dae of liewer nagte van ‘n “non-stop” partytjie tot die hane kraai. En dankie tog daarvoor.
Want dit wat ek die naweek moes deurworstel, was erg genoeg om my ʼn leeftyd by te bly.
Ek is nié verkramp nie. Ek is nie ʼn sedepreker nie. Ek weet hoe om ʼn baie lekker tyd te hê. Maar nie ten koste van ʼn skare vreemdelinge nie.
En ek weet nie wie is te blameer vir die vrotspul wat by Saterdagaand se rockkonsert my medemenslikheid ʼn stewige knou gegee het nie.
Sowat van dronk KINDERS het ek nog nie op een plek gesien nie. Al klouend aan mekaar, strompelend, vallend, skuim om die mond soos hondsdolles, glasige oë, klere wat waai en ʼn gevloek wat selfs ʼn ou matroos aan sy rum sal laat stik.
Die doedies wat soos Siamese drielinge aan mekaar vasgehou het, was aanvanklik baie koddig, later irriterend, want die gegiggel het in skrille krete ontaard.
“Oe, hy’t gekyk, HY’T GEKYK!” En whaaaaa, storm ons hand om die lyf by die toilette in. Om wie weet wat te gaan doen. Seker die lipstiek te gaan aanplak, lagie nommer 20.
Voor die verhoog skrop ek en vrinne ʼn plekkie oop waar ons kan saamwieg. (Die “headbang” dae is lankal verby…helaas.)
Maar nie lank nie en een of ander af lid wil waaragtig ʼn langarmdansie met sy pops tussen die duisendes deurstuur. Al stampend en stotend beur hy sy pad oop.
Hy is weldra getimmer.
Nie hard genoeg nie, want na hy sy pops op die grond laat val het, het hy sowaar die krag gehad om o so manlik ʼn hele bier af te slurp, te burp en toe deur die mense sy pad oop te storm na nog drank.
In die proses is 200 ordentlikes met bloukolle en gekraakte ribbes gelaat.
Hy is weer getimmer.
Met Swaksak uit die pad probeer ons weer die bedrywe op die verhoog volg. Intussen het die besope Hercules voor ons sy mater op die nek getel en swaai gevaarlik hier voor ons rond. Die nekryer hang al hoe verder agtertoe en dis met die opsteek van die vredestekens wat altwee dit verloor en hulself desmoers val.
Mooi.
ʼn Suurruikende kaalbolyf-nommer (met verskriklike glasige oë soos daai wanneer jou goudvis al twee dae dood is en jy hom in die pens pomp net om seker te maak) druk sy oksels hier teen jou neus en spring op sy eie ritme soos ʼn stokman met stywe bene. Belaglik.
Gelukkig knak die ou knietjies en slat Suur gesig eerste in die grond neer. Bly net daar lê terwyl almal nou bo-op hom spring.
Teen daai tyd is ek al goed naar.
Wat is dit met die mensdom, of moet ek eerder sê, mens-dom?
Ek kry die anderdag ʼn e-pos van ʼn vreeslike filosofiese vrind.
“You’re obliged to pretend respect for people you think absurd.
You live attached in a cowardly fashion to moral and social conventions, you despise, condemn and know lack all foundation. It’s that permanent contradictions between your ideas and desires and all the dead formalities and vain pretenses of your civilization which make you sad, troubled and unbalanced.
“In that intolerable conflict you lose all joy of life and all feeling of personality, because at every moment they suppress and restrain and check the free play of your powers. That’s the poisoned and mortal wound of the civilized world.”
Inderdaad.
Met die woorde wat deur my kop maal, vergeet ek van die konsert en bekyk die mense om my aandagtig.
Hoekom is mense so kwaad, so ooglopend aggressief, so skoorsoekerig?
Wie se skuld is dit? Hulle nie-omgee-nie ouers sʼn? Hul eie?
Maar voor ek heel verstrengel raak in ʼn tragiese maalkolk van wroeging, trek Arno Carstens op die verhoog los en vee alle donker gedagtes met fenomenale suiwer talent weg.
“Lonely, lonely never us again,
A galaxy to explore,
Don't wanna return to a world at war,
From the galaxy of blues to a universe we choose,
No more crying and just maybe somebody to hold...”

En dis asof ʼn kalmte oor die reuse-skare neerdaal, asof sy boodskap van liefde die hart van elke bitter persoon raak.
En ek sê dankie dat daar mense is wat nie sal ophou glo nie, wat hulle Godgegewe talente gebruik om die wêreld ʼn beter plek te maak, gif en al.