Minette Brink

 
 

Anoeschka
 

 
 
Soms kom daar mense oor jou pad wat net anders is. Anoeschka von Meck is en sal altyd ‘n enigma bly.
Ek kan nie sę dat ons vriendinne was nie, ook nie kennisse nie, al het ons mekaar ten minste een keer ‘n maand gebel om te hoor of dit ‘donker hool’ of ‘chlorofil’ sal wees. Dan sou ons tussen een en twee of by die mees verskanste tafel van ‘n donker kuierplek in Sam Nujoma gaan sit en brom of kwekery toe ry vir vars lug en muesli-shakes.
Soms sou ons vreeslik diep raak en die lewe uitmekaar trek en weer aanmekaar probeer sit. Ander kere sou ons sommer net niks sę nie, net oor mekaar se skouers die niet in staar.
Vrydagmiddag het sy haar hoekie in die kantoor kom leegmaak en koebaai gesę. Toe sy weg is, het ek by haar tafel gaan staan en gesien dat die Bybeltekste en Kinderbybelprentjies net so teen die mure gelos is. Miskien in die hoop dat die volgende een wat daar gaan sit net so hoog op geloof sou raak soos sy. Dis erg, die leegheid wat iemand kan agterlaat. Dit hang in die lug, druk swaar op my hart.
Teen halfsewe Vrydagaand staan ‘n paar van ons op die stasie om die trein Upington toe af te sien. In die laaste wa kry ons haar, besig om haar aardse besittings in twee tasse en ‘n paar sakke te rangskik. Haar oë blink toe sy ons sien en daai breë smile trek nog wyer as gewoonlik. “Haai,” lag sy, “ek kan dit nie glo nie.”
Natuurlik, wil ek sę, maar soms is daar nie woorde wat reg genoeg klink vir hartstories nie.
Toe praat almal maar oor nonsies en die weer in Upington en of sy genoeg padkos het en tussendeur neem iemand foto’s.
Ek beny haar, die manier hoe sy nooit wortelskiet nie, hoe maklik sy haar goed kan pak en aanbeweeg na ‘n volgende plek, land, avontuur.
“Kan ek nie maar saamry nie,” vra ek. “Ek het die kinders se paspoorte hier in my sak.”
“Klim,” lag sy en ons kyk vir mekaar met ‘n anderste verstaan. “Eendag,” sę ek en gooi my arms om haar nek.
Die trein maak wegtrekfluite en stadig kom die wiele aan die rol. Ek en die kinders hardloop saam.
“Geniet alles,” skree ek uitasem deur die oop venster. “Ek sal,” skree sy terug en gee dan laaste orders.” Kyk in my onderste laai, daar’s nog baie goed wat jy kan gebruik. Skryf, suster, skryf!” En dan is ons by die brug en kan ons nie verder nie. Ons waai en waai en waai totdat die agterste trok se liggies streperige spikkels in die verte maak. En dan is sy ręrig weg. Sommer net so. Weg.
Ek voel skielik verskriklik alleen. Daar in die donker op ‘n perron wat eintlik enige plek op aarde kon wees. ‘n Spikkeltjie mens in die grote wye węreld wat op daai oomblik so bitterlik graag vir iemand wil vertel hoe baie ek vir Anoeschka gaan mis.
Omdat sy soggens en saans die honde langs die pad na haar huis toe polonie gevoer het. Oorlat sy gestap het waar sy wou wees en nooit bang was vir die donker nie.
Vir die geweet het, verstaan het, vir die dieper kon kyk en vir niemand anders vertel het wat sy onder die vel kon sien nie. Omdat sy die enigste mens is wat ek ken wat onvoorwaardelik lief is vir die mensdom. Met al sy geite.
Ek weet ek sal haar weer eendag raakloop. Hopelik in ‘n donker hool in ‘n systraatjie in Marokko. Dalk teen ‘n piramide iewers langs die Nyl.
En dan sal ons ons prate verder praat en lag oor die lewe wat vir ons dag na dag uitmekaar trek en weer aanmekaar sit.
Maar tot dan sal ons annerkant die longdrop bly kyk en bly hoop, bly glo.
Mooi loop, Snoek, en skryf, suster, skryf…