Minette Brink

 
 

Bikers
 

 
 
My ma sê ek moet by ‘n klub of sosiale organisasie aansluit. Dan sal ek nuwe vriende maak en my horison verbreed.
Nie dat daar fout is met die bestaande vriende nie, maar daar is altyd plek vir nog en dis sommer nonsens dat Saterdae net gebruik word om wasgoed te was en voor die TV te lê.
Nou die vraag: waar om aan te sluit.
Rolbal? Nog nie oud genoeg nie.
Tennis? Nie meer die krag of die longkapasiteit nie.
Gholf? Ha, dié het ek een keer op Henties probeer en gate om die bal geslaan voordat ek die ou stokkie die verte in geslinger het. (Ek was wel uiters suksesvol by die Negentiende Putjie.)
Wat bly oor? Perdry, karate, hekel en brei is alles net te veel werk en teen Vrydae is ek lui, lui, lui.
Maar toe breek Saterdag 5 Julie aan,‘n lieflike wintersoggend.
Laai die rondekop huisdiertjies in die kar en vat die pad.
Ons begin by die kerk se poppekas waar die Oom vir die kinders leer dat die evolusieteorie ‘n ‘stinkstorie’ is, daarna ‘n draai by ‘n ander kerk se basaar waar die jongste amper haar regterlob verloor op die springkasteel, toe na ‘daai Bierhuis’ toe waar die oudste die Khoi’s met neute probeer doodgooi en teen skemer Spur toe vir burgers en genadiglik geen verdere ongevalle nie.
Maar nog is dit het einde niet.
Een selfoonoproepie van ‘n ou vriend en tien minute later staan ek en kindertjies in ‘n rooi en wit tent omring deur wrede mense in leer- en denimuitrustings. Ek bly toe maar glimlag en sorg dat ek aan niemand stamp of dat die kinders op iemand se reuse stewels spring nie.
Want ons is omsingel.
Deur bikers.
Maar weldra begin ek ontspan, want niemand is kwaad nie, niemand swaai kettings rond nie en nêrens lê iemand roggelend en bloei nie.
Brian Finch kook op die verhoog en toe ek weer kyk, dans die een-wat-van-springkastele-afval met ‘n lid van ZZ-Top. My oordrewe verantwoordeliksheidsin slaan in paranoïese kolle oor my lyf uit en ek stoei deur die massas om die kind te gaan red voordat iemand die welsyn bel. ZZ Top het egter ander planne en ek word gegryp om saam te dans. Wat ek uit vrees toe maar doen, totdat die woeste man sy donkerbril afhaal en ek sien dis die symste dokter wat verlede naweek by ongevalle aan diens was.
En my brein skiet oop, want dis hier waar ek wil wees. Tussen oënskynlike rowwe mense wat nie net ‘n passie vir rowwe voertuie deel nie, maar ook die lewe met intensiteit ervaar en met drif geniet. Ou mense, minder ou mense, jongmense en (verrassing!) honderde kinders wat saam kuier en dans, soos dit hoort. Soos wat ek nog net op Mafia-troues in flieks gesien het.
Toe begin ek met oortuiging dans.
Baie, baie later die aand sleep ek twee op kinders huis toe en ek klim met ‘n salige gerustheid in die bed.
Want môre koop ek die leerbroek en die bandanna, die denimbaadjie en die stewels het ek klaar. En as iemand met ‘n rowwe tweewiel my ‘n lift wil gee, kry net eers ‘n sidecar, want die huisdiere gaan saam.