|
Ek is van nature nie ‘n romantiese mens nie.
Daar is vir my geen sin in die oorrompeling deur kaartjies en blomme, wat in
elk geval klaar vrek is teen die tyd wat jy met hulle in jou hand staan, en
die geykte kersligete nie.
Nie dat ek ondankbaar is wanneer dié geluk wel oor my pad kom nie, dis net
nie vir my so oorweldigend soos vir baie ander nie.
In te veel gevalle is dit net ‘n geldmaakstorie, soos Kersfees se
geskenkmanie, en die arme persoon met die ‘goeie bedoelinge’ sit met jare se
skuld en angsaanvalle oor wanneer die balju aan die deur gaan klop.
Dis net te maklik om die telefoon op te tel, die grootste bos blomme vir jou
geliefde te bestel en dan sommer die bewoording speel-speel op te maak, asof
jy nog jou lewe lank die Groot Poeët is. Of nog beter, kry jou sekretaresse
om alles te doen. Sy is mos ‘n vrou en weet immers meer as jy as dit by die
regte woorde kom.
Die hartseerstorie is dat die meeste vrouens dwarsdeur hul mans se pogings
sien en dan ter wille van die vrede ligte snakgeluidjies van bewondering en
kamma verbasing oor dié ‘onverwagtheid’ maak.
Vrydag word al my bogenoemde oortuigings egter verpletter toe ek vaskyk in
‘n bos rooi rose met ‘n kaartjie wat sê: Remember Israel. En ek dog ek gaan
flou val, want die afsender bly in Port Elizabeth en ons het mekaar in 1992
laas in lewende lywe gesien toe ons betraand op die kibbutz afskeid geneem
het. Dit was een van daai ‘ek-sal-jou-nooit-vergeet-nie’ afskeide waarna die
Israeliese owerhede vir ewig verwens sou word omdat hulle nie my groot
liefde se visa vir die vierde keer wou hernieu nie.
Na twee weke het die trane opgedroog en het sy gesig bitter vinnig vervaag,
nie omdat ek wou nie, maar omdat ek net te jonk was vir so ‘n verskriklike
diepe verbintenis wat oor ‘n kontinent sou strek. En ek het in elk geval
later gehoor dat hy en sy ou skoolkys mekaar gevind het wat my dus van alle
emosionele blaam onthef.
Twee jaar gelede het ek ‘n wilde bevlieging gehad en al die verlore kennisse
probeer opspoor deur middel van intense speurmetodes en ou adresboekies.
Soos die mens maar is het die aanvanklike opwinding oor die optel van ou
drade weldra ook vervaag en moes e-posse een keer elke ses maande die
gewetens sus.
Daarom beteken die bos blomme meer as net ‘n gedagte op Valentynsdag. Dit
roep beelde op van sneeubedekte valleie, appelboorde in wording,
knoffelgevegte in die pakkamers, trekkers wat vassteek in die avokadoboorde,
liefde soos net eerste liefde kan.
En ek sug die hele Vrydag lank oor dit wat was en dit wat kon gewees het.
Maar nog is het einde niet.
In my semi-beswyming klouter die skoonmaakster teen die trappe op met ‘n
enkele geel roos in haar hand.
‘Vir jou,’ sê sy en hou dit na my toe uit. Ek kyk om, maar daar is net muur
aan die agterkant.
Ek is uitgevang. Stom.
Die kaartjie gee ook geen aanduiding vanwaar dit kom nie en my hart wil-wil
met my weghol.
Toe ek my stem terugkry, word die arme vrou onder kruisverhoor geplaas.
‘Wie het dit afgelewer? Hoe lyk hy? Wat het hy gesê? Waarmee ry hy? Wat het
hy aangehad?’ Maar die inligting bly skraps.
Daarom vra ek dat die blonde man met die wit bakkie dak my asseblief uit my
ellende sal verlos. Ek slaap nie saans nie, maar net omdat ek dood van
nuuskierigheid.
Ek is mos nie ‘n romantiese mens nie…?
|
|