|
TOE Neels se bakkie nou die dag gesteel word, begin soek ek vir ‘n ander
land. Terug Suid-Afrika toe sal nie werk nie, daar was ek klaar en daar gaan
dit erger. My hart is seer en sommer kwaad want waar in die wêreld, Kietie?
Op die internet lyk Australië na ‘n idee, Kanada sal seker ook werk en
Amerika is darem derde.
Maar dis ‘n halfhartige soektog want ek wil nie regtig hier weg nie. Dis mos
my plek, vol van my goed.
En sal daar mense aan die ander kant wees wat my taal praat en nog kan
verstaan waaroor jy lag, waaroor jy huil?
Maar intussen gaan die lewe voort en elke dag se opstaan is beswaard en met
geen hoop vir hierdie duister kontinent nie.
En op ‘n dag beland sy op ‘n pad na die noorde en sy weet hier kom ‘n ding.
In alle onskuld het sy gesmeek vir ontvlugting uit die stad, vir ‘n beter
lewe, vir hoop. En toe sy op die C39 klim dink sy ‘liewe Vader, wat het nou
oor my pad op hierdie pad gekom?’
En as iemand haar ooit so vra nou waantoe nou, sou sy sê gaan ry die stofpad
tussen Outjo en Otavi.
Die C39, skuins voor sononder. ‘n Anderster wêreld met anderster wolke,
anderster kleure.
Soos haar hare, wit verstok van die stof op die wind se rug, verlaat die
styfheid van te-veel-vir-een mens haar lyf.
Die reuke van onsigbare mensies agter kol-kol groen bossies se aandvure, die
soetsuur van jong gras vrolik in die lug, die knip-knip van die ou koedoebul
se oë langs die pad.
Ek ken jou, sê die jakkals voor hy druipstert die bosse inglip.
Aits, skel die gompou wat net betyds voor die suisende wiele verbyskiet.
Haar gedagtes vlieg by die venster uit en hardloop luglangs voor die kar uit.
Sy maak ‘n wye draai oor Ghamkarab, sien hoe die Dorslandtrekkers uitspan,
‘n kerk oprig, beeste aanjaag, kinders kry, kinders begrawe.
Bollemakiesies deur die wolke, terug in die kar.
Hou stil, sê sy vir die bestuurder na ‘n vlakvark se skrik om ‘n draai.
Sy vaar die veld in en kyk droomverlore oor die stuk oopte waar mielies een
van die dae gaan bontstaan.
In die verte kom die skaapwagter met sy trop aan. Mirrag, prewel hy en lig
sy laphoedjie. Mirrag, glimlag sy terug en verwonder haar oor sy oë waarin
die wysheid van die eeue lê.
Die sakkende son streep pienk-oranje agter die berge in en die warm lug kry
plek-plek koeler ondertone van aand. Die brand op die linkerarm se heeldag
sonsit snak verlig na asem in die nuwe koue.
Ons moet ry, sê die drywer en sy wens sy kon haar tassie agter uit die
bakkie haal en sommer net hier bly, maar daar’s werk en die pad is lank en
sy weet nie hoe om skape op te pas nie.
Op ‘n noorde-dorp ontmoet sy ‘n kollega wat vir weke al ‘n hofsaak bywoon en
die weersiens is opwindend, is ‘n inhaal van
wat-gebeur-hier-en-wat-gebeur-by-die-kantoor.
Dis cowboy-wêreld hierdie, sê hy. Ja, sê sy, dit het sy gesien en weet jy
die mense drink rum ‘n raspberry?
Cowboys met ‘n verskil, besluit hulle. Elkeen het maar sy vallei, sy manier
van doen. So leer ons dag vir dag, broeders.
Drie dae voel soos maande in die verstikkende hitte en haar brein smelt saam
met die teer toe hulle terugry.
Iewers langs die pad jaag ‘n bakkie verby.
“Dit lyk soos my oue,” sê Neels. ”Ek mis my kar.”
Natuurlik, sê ek, maar jy het darem nog hiér.
Hier waar ek ook sal bly.
|
|