Minette Brink

 
 

Boelies
 

 
 
EK het die perfekte blyplek gekry. Ons trek nou Solitaire toe waar ons vrede vir ons siele en die lafenis van oordowende stilte vir ons gemoedere kan kry.
Ek gaan die tuig neerlê en vir Moose help brood bak en vir toeriste liegstories oor my herkoms vertel.
Dit lyk in elk geval of die eindtye op hande is met ‘n oorlog en ‘n bloedbad in elke tweede land.
En dis nie net beperk tot die grootmense nie.
Toe ek gister my kinders by die skool gaan optel, is die oudste bitter hartseer.
“En die trane? En die bloed,” wil ek weet.
“Daai een het my in die maag geskop,” beduie hy.
Satan’s little helper sit en grinnik op ‘n swaai, seker om die beste aanvalshoek op my maermerries te bepaal.
My eerste reaksie is om te ontplof, maar tyd leer ken en ek weet darem al dat kinders net die weerkaatsing van hulle ouers se woorde, dade en houdings is.
Toe vee ons maar die bloed op en probeer verduidelik dat dit nie vreeslik normaal is om so aggressief te wees nie. “Ja, maar hy skop die juffrouens ook,” en die juffrou wat beangs in die kantoor wegkruip, loer deur die venster en sê “ons weet nie meer wat om met die kind te doen nie. Sy pa sê dis natuurlik vir ‘n laatie om so te baklei….”
My verbeelding gaan op hol en ek kan my net indink hoe lyk familiebyeenkomste van sulke ‘geweldige’ gawe mense.
‘Hey, ou Bulla, kom fleks bietjie daai nuwe massils hier vir Oom Jips en die fêmilie! Heits, hier kom pa se grootseun. Kom ons gooi mekaar teen die grond. Een wat eerste bloei is chicken!’
Grootseun is vyf jaar oud en kan sy pa se vingers breek. Albumsvol trotse foto’s is getuie hiervan.
Wanneer Bulla saam met Pa voor ongevalle sit en rook, wys Pa vir hom hoe om ongemerk motors se voorruite met sy elmboog te kraak. En Bulla, ou Grootseun, leer so vinnig.
Net daarna ruk Bulla ‘n pasiënt se krukke onder hom uit en lag harder as Pa wanneer die arme man net betyds deur ‘n verpleegster gevang word.
Teen die tyd is almal in die vertrek goed boos en word die verbysterende sterk pa en seun die gebou belet.
Ek is raadop met die geweld, die aggressie en die kompetisie wat reeds onder vierjariges heers.
“Oee,” sê ‘n dogtertjie vir ‘n maatjie by die kleuterskool. “Waar kry jy daai mooi kryte?”
Maatjie gooi haar koppie kant toe en tuit haar lippies.
“IN LONNDIINNNN…”
“Wat is ‘n Londinnn,’ wil die ander een verward weet.
“Oee, maar jy’s stupid,” snou die klein juffroutjie.
Ek gee op. Niemand moet by my kom sit en sug en vra hoekom die wêreld in so ‘n gemors is nie.
En as dit lyk of ek weghardloop van die probleem, dan is dit daarnatoe.
Maar iewers daar buite lê feëtjiesirkels in die veld vir ons en wag, plekke waar ons nog mens kan wees en net kan wéés. Waar niemand jou in die maag skop nie, waar niemand eers wonder wat ‘n Londiinn is nie en waar Bulla en sy familie uit ‘n gebrek aan belangstelling nie langer as ‘n dag sal wil bly nie.
Daarom trek ons nou Solitaire toe.
Dis nou as iemand die pad kan beduie…