Minette Brink

 
 

Diep dankbaar
 

 
 
Met ‘n diepe dankbaarheid is ek na die vakansie terug in die land waar ek hoort. Agt kilogram swaarder met ‘n tan wat klaar aan die afpeul is. Maar dis ook reg, want hierdie jaar gaan lekker dinge gebeur, ek voel dit aan (nee, nie met die helmet gebore nie) en ek is bly dié dinge gaan in hierdie land gebeur tussen die menste mense in die wêreld.
Oy, die Kaap is groen en asemrowend en vol kultuur en dinge om te doen, maar daar is ‘n melankolie in die lug, asof iemand die plek se siel gesteel het.
Die mense is vriendelik en pragtig en hoogs ingelig oor sake van die dag, maar wat van sake van die hart? Waar is die spontaniteit, die warmte en die blatante eerlikheid wat Namibiërs so uniek maak?
Ek trap sommer met die intrapslag op tone met dié veralgemening en dalk is dit blote onaanpasbaarheid aan my kant om in ‘n Groot Stad te oorleef, maar daar wil ek nie bly nie. En hulle sal my ook nie daar wil hê nie, want ek is hopeloos te onverfynd vir daardie vorm van beskaafdheid.
Hulle doen ook oënskynlike vername dinge wat my laat opkrul van die lag. Soos die “persoonlike” kolom in ‘n bekende dagblad wat as volg lui:
“Professor Doktor en Mevrou de Lillie van Swendelaarswater sal oor die Kersseisoen saam met hulle dogter, Jillie, van Hoogenhoutsfontein, en haar verloofde, Jip du Pré, op Stilstrand vakansie hou waarna hulle Europa sal besoek.
Mnr. Ambie Dahl van Pniel sterk tans tuis aan nadat die kampeerstoel onder hom meegegee het.
Me. Yosi de Haag en haar maltese poedel, Floozy, kuier tans by haar ouers op Gordonsbaai waarna sy haar studies in Uiters Gevordere Wiskundige Statistieke aan die Universiteit van Cambridge sal voortsit.”
En hoekom wil ons dit nou weet? Dan betaal hulle nog ten duurste om die broodnodige inligting gepubliseer te kry.
Miskien sit ek die pot lelik mis hier, maar is dit nie ietwat belaglik nie of is ek te kommin om te verstaan?
En hoekom is die alewige titels so belangrik?
Gaan staan in die ry by die supermark of die apteek, en binne vyf minute sal jy dosyne kere aankondigings moet aanhoor soos “dit is my aanstaande skoonseun, William. Hy is ‘n dokter. Van Toronto. In Kanada.” Die spreker het groot hare en stywe dun lippies en ‘n stem wat deur been klief. Jy verwag dat William van Kanada ook nasaal gaan oorkom, maar dan sê hy met ‘n lekker Malmesbury-brei vir die apteker: “Miggag, Anita. Goed om jou weeg te sien.” En die apteker begin lag en sê: Hallo, WILLEM, onthou jy my sowaar?
Tannie Hare ruk haar op en sleep vir Willem by die deur uit, seker om hom ‘n les in Stellenbosch-etiket te gaan gee voor hy met haar dogtertjie mag trou.
Nee, werklik, sowat van tyd- en energiemors het ek lanklaas gesien.
Gee my ‘n duisend maal eerder boksiewyn in ‘n plastiekglas en ‘n stuk biltong in die hand as ‘n kristalnommer driekwart gevul met Merlot teen die perfekte temperatuur.
Gee vir my die Namibiese son en die woestyn en die veld, eerder as die Kaapse wind en die Waterfront en die Berg.
Liewer onse kerk se mense wat ‘n halfuur laat by Hosea Kutako aangejaag kom om jou op te laai en dan “sorry ek is laat” uit volle bors oor verwilderde toeriste se koppe skree en dan terug in die kar sê: ons gaan by Kapps stop. Ek het klaar vir die kinders Fantas bestel.”
Dan sit jy by Kapps en ‘n paar windverwaaide bikers kom ingedrentel en almal gesels oor dit en dat en jy sug van lekkerkry oor jy by die huis is.
Omdat tyd hier stilstaan en mense nog tyd het. Vir mekaar, vir die lewe.
Omdat die Kaapse groen nooit die Namibiese groen kan wees nie.