|
Dit is seker een van die mees senutergende beroepe, dié van radio-omroeper.
Self het ek dit nog nie gewaag nie en ek dink ook nie ek sal ooit die guts
hê om dit te doen nie, maar as jy so dapper wil wees, dink tog net voor jy
praat.
Een Sondagoggend is ek heel dikbek besig om die week se kleertjies te stryk
toe die vroulike omroepster oor die radio met die volgende genialiteit
vorendag kom:
‘ … en vir die luisteraars wat nou in die kerk sit en wie se gedagtes by
vandag se krieket is, hier is die jongste telling...’
Die strykyster stol in die lug terwyl my lippe die plank tref.
Ek kan nie glo wat ek hoor nie.
Hoe dink die vrou? Behalwe as sy aan die een of ander denominasie behoort
waar kerkgangers by die tempel se deur van mini- transmittertjies voorsien
word, is daar groot fout.
Ek het net gewag dat ‘n kerkganger moet inbel en sê, ‘Hallo, ek was juis
besig met ‘n psalm toe ek wonder wat gaan op Nuweland aan. Baie dankie vir
julle wonderlike diens. Ag, en terwyl ek nou op die lug is, wil ek tog net
vir Maria by die huis sê om te kyk dat die braaihoendertjie in die oond nie
uitdroog nie.’
Verbeel jou.
Dan is daar omroepers wat in spanne uitsaai en mekaar probeer troef met
intellek en woordspoed. Die een is tog net te slim vir die ander een en so
praat almal gelyk en al hoe harder.
Soms knip my oë al vinniger soos ek probeer om die ‘gesprek’ of ‘debat’ te
volg. Maar al wat ek optel is ‘n migraine.
Nog ‘n gunsteling is natuurlik die vroulike omroepsters wat in sulke hoë
ek-kan-tog-glas-kraak stemmetjies teem of so erg nasaal is dat ‘n mens hulle
wil bel en ‘n goeie oor-, neus- en keelspesialis aanbeveel.
Ek is nie ‘n formidabele musiekkenner nie, maar ek weet darem wie die
kunstenaars van my gunstelingliedjies is. Dan moet ‘n DJ nie aanmekaar sê
‘en dit was Elton John met…’ as dit ROBERT DOWNEY JUNIOR was nie. (Ja, hy
kan sing ook, vra maar vir enige Ally McBeal-aanhanger.) Ek sal mos nooit,
ooit my radio harder draai vir daai ander snaakse man met die simpel brille
nie.
En hoekom moet DJ’s vir amper twee minute bo-oor musiek praat wanneer die
song begin? Die dae van ‘aftape’ is tog verby of is die DJ ‘n sadis wie se
tone omkrul van lekkerte omdat hy in sy geestesoog kan sien hoe tienduisende
luisteraars hiperventileer in ‘n poging om tog net daai song te kan hoor!
Daash deejaysh wat fweeshlike shpwaakpwobweme het en shê iemand tof viw my
wat die idee van die geshuis ish?
Hulle moet saam met die Aymêrriekin-nabootsers gepos word.
Soos ek sê, ekselwers kan dit nie beter doen nie, maar dan sou ek as die
Baas van die Geraasplaas liewer non-stop musiek speel totdat ek die perfekte
DJ kry.
Ek is darem nie net ‘n genadelose bondel kritiek nie. Party oggende kry ek
die DJ’s wat verjaarsdagmense moet gelukwens, baie jammer.
Dit is vroeg in die oggend, ja, maar dink net hoe moet die omroepers én die
persone wat die boodskap aangevra het voel wanneer die uitverkorene na ‘n
groot gesukkel uiteindelik op die lug kom en die volgende reaksie toon:
‘Hallo, is Petros daar?’
‘Gmmfffgghhh….’
‘Kan ek met Petros praat? Dis Abe van Radio FLM.’
‘Uhm….’
‘Petros? Geluk met jou verjaarsdag! Jy moet ‘n great dag hê! Jou hele
familie aanbid die grond waarop jy loop! Jy is in almal se harte vandag!
Almal is lief vir jou! Radio FLM stuur vir jou ‘n tjek van N$50 000 omdat jy
ons eerste verjaarsdagwens vir die week ontvang! Baie geluk!’
‘Ok…’ Klik, sit Petros die telefoon neer.
Dis ‘n goeie ding dat ek nie op die lug losgelaat word nie. Ek sal binne ‘n
week soveel dagvaardigings ontvang dat die stasie sal sluit. Petros sal
emigreer as ek met hom klaar is.
Daarom ook ‘n pluimpie vir die omroepers wat op hulle tande byt en vinnig op
die voete kan dink sonder om enigsins te laat blyk dat hulle op enige gegewe
oomblik eerder wou skree: GET A LIFE, MAN!!! |
|