|
BETS verjaar een van die dae. Soos ‘n ordentlike Kreef betaam word die
uitnodigings in stylvolle romanties-nostalgiese formaat uitgestuur.
Sy sê haar 37ste verjaarsdag het "nes dié van Lucy Jordan (sug) gekom en
gegaan sónder 'n sportmotor, wind-deur-my-hare, boulevard-in-Parys.
”Maar net toe ek op die vooraand van my 38ste 'n Lucy op myself wou trek,
onthou ek daar is darem nog julle - my wonderlike vriende - en Franse
restaurant. Al is dit minus die Seine, Notre Dame en Champs d'Elysées..."
Nadat ek heeltemal oorgretig die uitnodiging ja, sjoe, klink fantasties,
dankie, aanvaar het, het ‘n veraf verlange stadig deur my begin sif.
Marianne Faithful doen dit aan mens. Weet nie of dit haar stem, haar
ek-het-die-lewe-gesien gesig of haar lirieke is nie. Sy doen dit net. Veral
met Lucy Jordan se ballade.
Miskien omdat ek weet ek sal nooit daar wees nie. Nie net in Parys in daai
sportmotor met die wind deur my hare nie, maar op soveel ander droomplekke
in fantasieverhale.
Want niemand glo meer daaraan nie. Ons neem eerder videos en DVD's by die
stapels uit en leef so ‘n ander man se droom.
Die werklikheid is te allesoorheersend, te…wel…werklik.
Roetine, verantwoordelikheid, verpligtinge, paaiemente, skuld, spertye.
Alles te veel om nog plek of lus of energie vir die lekker te los.
Maandag tot Vrydag, 8 tot 5, naweek-inkopies, skoolsport, wasgoed was en
stryk, miskien tyd vir braai of Sondagete by vriende.
Maar selfs dié het die afgelope tyd vreugde verloor. Niemand het meer iets
te sê nie. Kla net oor die regering, die korrupsie oraloor, die stygende
misdaad, bakhand bedelaars, die bure se bedwelmde tromslanerkind en die
vroueslaner oorkant die pad.
Bottel vat is deesdae die meeste se nuwe beste vriend. Bacchus se gif wat
jou laat vergeet en vergewe, kuier sonder sorge, grap soos ‘n sirkusnar,
gevul met ongekende selfvertroue om in ‘n wêreld van apatie op jou eie
mishoop te kan koning kraai.
Ek wil eerder maak soos Marianne sing. "Running for our lives, at least
we're pretending we are…"
Maar selfs dit is nie meer so maklik soos net nou die dag nog nie. Dis nie
sommer net vir bootsies aantrek, rugsakkie laai en daar gooi ons duim na
waar die pad ookal lei nie.
Ek het te versigtig geraak. Te min lus vir sukkel van scratch af. Dalk omdat
ek twee kinders het. Dalk omdat ek net plein moeg is. Dalk het ek moed
opgegee.
Ek weet ek is nie happy waar ek is nie. Ek neem nog steeds stapels vol
videos uit en leef ander se drome asof dit regtig myne is.
Ek werk nog steeds Maandag tot Vrydag, 8 tot 5, doen naweke inkopies, woon
skoolsport by, was die wasgoed, skrop die vloer, maak die kos, eet dalk
Sondag by iemand.
Dis nie dat ek ondankbaar is nie. Dis net so onromanties, so werklik, so
gestroop van fantasie en droombestaan.
"Running for our lives, at least we're pretending we are, running for our
lives, we never get very far…"
Miskien moet ek soos almal ook maar ‘n boek skryf. ‘n Boek oor die
werklikheid van my lewe. Dalk kan iemand ‘n romantiese movie daarvan maak.
Ek sal graag die lead wil speel. So ‘n Marianne Faithful-karakter.
Bets se uitnodiging kom weer in fokus hier voor my, trek my weer uit my
dagdroom ( of is dit dagmerrie?).
Sies vir jou, sê Die Stemmetjie.
Ek bekyk die foto van die Eiffeltoring so in die dynserige sonsak. Skaam jou,
Minette Brink. Daar's’n hele wêreld vol romanse daar buite. Daar's ‘n hele
lewe vol idees wat wag om getap te word. Daar is vriende soos Bets.
Ek moet gaan. Om ‘n flambojante romp, baret en stringe krale te gaan koop.
Happy Birthday, Bets.
En dankie, nie net vir die uitnodiging nie.
|
|