Minette Brink

 
 

Een dag op, ander dag af
 

 
 
Dis een van daai dae wanneer alles in sync is. Van die oomblik wat jy opstaan en jou eerste asemteug van hierdie beautiful land se ongelooflike lug intrek, nog halfdonker buite met silwer strepe op die horison. En wanneer die son oor die bergtop krul, waai die palmbome se blare goudblink in die ligte bries wat van ver lande vol geheime aangesweef kom.
Dis dae soos vandag wat jy meer as mens voel, wanneer jy besef daar is iets onsigbaar om jou, iets wat jou anderste laat kyk na die alledaagse, asof die samestelling van jou oë verander het.
En alles klink anders, sagter, vreemd-bekend.
En jy weet hierdie gevoel is net tydelik en kan môre vir te lank weer weg wees, dalk oor tien minute verdwyn, maar dis genoeg om die lewe sin te gee, om weer te besef, ons weet niks. Ons kan net ervaar.
Koerante vol slegte nuus beteken niks, is alles van verbygaande aard…oh, pah-leeze…rol Neels sy oë toe hy oor my skouer lees. Is jy verlief?
Nee, sê ek, net bly vir hierdie enigste ou lewe in hierdie ou deurmekaarste mooiste land.
Aggassablieftog, blaas Neels, en my verhewe gevoelstatus wil-wil verdwyn. Gaan weg, kners ek liefies en genadiglik sleep hy homself terug na sy tafel toe.
Net toe ek weer terug in die “gevoel” is, swaai hy sy stoel om en rol tot by my lessenaar.
Ag toe nou, por hy my aan. Jy is verlief, né, né? Kom. Sê my, sê my. En hy gee een van sy vermakerige grinnike wat my teen die mure uitdryf.
Die “gevoel” verdamp ook sommer op die plek, want soos altyd, het Neels die manier om my binne ‘n millisekonde te laat strip (terwyl hy homself besimpeld lag oor hy dit elke keer regkry.)
Ek is nie verlief nie, gil ek vir die wêreld om te hoor.
‘n Massiewe stilte daal oor die kantoor neer soos vingers bo sleutelborde vries en ore regop spring.
Izziiiiiit, suis dit oor die vloer.
“Nou hoekom moet ons van die begin van die jaar af luister na die liefde terugsit in die lug, die jaar van romanties wees, bla-bla-bla,” snou Neels vermakerig.
“En moet tog net nie vergeet van skrikkeljaar nie. Jy het tog sekerlik plannetjies om ‘n man aan te keer sodat jy die wit rokkie en die haartjies en die flappende duifies in die katedraal–ding kan doen,” en Neels lê soos hy lag vir sy eie ou grappies.
Agassablief, blaas ek. Liefde is soos die kolkende branders van die see. Pragtig, skouspelagtig, inspirerend en dodelik. Los my nou uit, brom ek en geleidelik keer die kantoor terug na normaal.
Dis een van daai dae wanneer alles deurmekaar is. Van die oomblik wat jy opstaan en met altwee voete verkeerd trap, die lug so ‘n vaal-grou dof is en wanneer jy ‘n diep asemteug wil neem, gaan jy aan die hoes van al die kieme op aarde.
Wanneer die son opkom, brand hy die wit waks uit jou uit en die palmbome slaan almal in verleptheid neer. Dis dae soos vandag dat ‘n mens allesbehalwe ‘n mens wil wees…”Ek weet nou,” skree Neels oor my skouer. “Daai koppie raas want sy het ophou rook!”
“Sy probeer, ok, sy probeer,” sug ek baie swaar en eet toe maar nog ‘n pastei.