Minette Brink

 
 

Groente en Dinge
 

 
 
Die een wat nou die dag in ‘n supermark “N$ 12 VIR ‘N KOMKOMMER?” gegil het, was ek.
En dan het die ou groen dingetjie meer gelyk soos ‘n jong aspersie op steroids.
Hartseer tamaties wat verlep oor die rakke lê en loer, ingeduikte miniatuur aartappels, verrotte appels, dié dryf my na vrywillige skeurbuik.
Ek verneem onlangs by ‘n vriend in die handel dat dieselfde sakkie aartappels wat in Suid-Afrika R30 kos, hier by ons ‘n volle N$60 kos.
Nou vra ek jou. Watter vorm van vervoer word ingespan om die sakkie hier te kry? In ‘n vergulde houer uitgevoer met purper satynlap? Word elke aartappel individueel per hand oor die grens gehelp? Begelei deur die president self?
Nee, werklik, so kan dit nie aangaan nie.
Dit my jare geneem om vrywilliglik brokkoli, blomkool en boontjies in te neem. My ma was so trots. Maar nou het my gesondheid begin ly onder die druk van onbesonne pryse.
Toe krap ek gisteraand in een van die vele bokse wat na die laaste trek (en glo my, dit was beslis die laaste trek) nog nie uitgepak is nie. Daar val die dagboek uit wat ek op die kibbutz gehou het en skielik staan die mense wat ek lankal vergeet het en al die sports daar in die vreemde na tien jaar weer voor my.
Dis die oplossing, dink ek na die traantjies van nostalgie opgedroog het.
Ons moet ‘n kibbutz-sisteem in hierdie land implementeer.
Iewers moet die regering tog ‘n stuk (of meer) grond oorhê waar haweloses selfonderhoudend kan raak deur groente aan onse eie mense te voorsien. Dit sal seker nie die maklikste projek op aarde wees nie, maar ek glo dat dit op die lange duur ‘n reuse sukses kan wees.
Dink net, ‘n plasie net buite Windhoek waarheen ‘n mens oor naweke kan ry en die kinders hoenders kan rondjaag en bokke voer. Dan kan die “kibbutzwerkers” handgemaakte items uitstal en kos verkoop.
Sodra die groente in volle glorie op die landerye pryk, kan ‘n “Boeremark” (oeps, deesdae moet ek dit seker ‘n “Dankie-dat-ek-nog-my-plaas-het mark noem..) Saterdagoggende gehou word waar lede van die publiek teen sonop die heel varste groente teen die heel laagste pryse kan koop. So ‘n “first come first serve”-bedryf.
Begin sommer ‘n steenmakery ook sodat al die aanbouings vir ‘n skooltjie, ‘n industriële kombuis, ‘n amfiteater en ‘n kliniek sommer self gedoen kan word.
Ja, ek is ‘n dromer en seker nie lekker in voeling met al die papierwerk, finansies, logistieke probleme, bla-bla-bla nie, maar as dit in Israel kan werk, hoekom kan ons dit nie hier maak werk nie? Die tronke is mos oorvol. Span eerder die lede in wat “petty crimes” gepleeg het om in die grond te skoffel en al daai slegte gewoontes met harde arbeid uit te sweet. Teen drie etes per dag wat hulle self aan geplant, geploeg en geoes het. Sal dit nie ook sommer die menswaardigheid terugploeg nie?
Maar terwyl ek wag vir die minister van landbou om my te kontak vir die volledige uitleg rondom my briljante konsep, sal ek maar die vitamienpilletjies bly sluk en my groente boikot deurvoer. Al voel my tande losserig en is my gesig redelik geel, maar aan ‘n N$10 avokado sal jy my nie sien kou nie…