|
DAAR is min dinge wat so seer is soos ‘n hart aan flarde.
En dit maak nie saak wie watter woorde van wysheid in aller goedbedoelde
oomblikke probeer bydra nie, dit werk nie.
Wanneer ‘n verhouding op die rotse te pletter geloop het, vat dit meer as
boksevol tjoklits en emmersvol trane om te herstel.
Dit vat jare.
Veral as jy vir die eerste keer in ses jaar so simpel was om jou siel vir
die opsny in roerbraai-repies beskikbaar te stel. Omdat jy gedink het, dié
keer is ek net te slim, te wys, te gehard om dieselfde foute te maak.
Maar daar gebeur dit toe. En hier sit ek met dik oë.
En ‘n diep begeerte om vir die res van my lewe onder my duvet te bly en
nooit weer ‘n woord te praat nie.
Maar die kinders is honger en Mams bly verdrietig en dit klink al meer soos
‘n Briel-song.
En die vertwyfeling vreet soos ‘n rot in die Builepesjare. Wat is fout met
my? Is ek te ernstig, te laf, te stil, te veel? Moet ek ‘n nuwe
persoonlikheid aanskaf?
Maar daar is nie antwoorde nie en op ‘n stadium moes ek toe opstaan en
aangaan met die ou lewe. In rou gedompel. Vir ewig.
Nie eers Saartjie se verwronge sin vir humor kry my uit die put van donker
ellende en pyn nie. Selfs die kopdokter se bydrae van “daar is niks fout met
jou nie. Jy is nie die wêreld se grootste konformis nie, miskien by tye ‘n
tikkie bizarre, maar niks wat jare se medikasie nie kan regstel nie,” laat
my enigsins beter voel nie. Inteendeel…
En in dié toestand word ek plaas toe gestuur vir ‘n storie waaroor ek
normaalweg sou op en af spring, maar in die geval met ‘n sug aanvaar.
Vat die langpad aan gewapen met al die hartseerste musiek wat ek bymekaar
kon skraap en huil die eerste 100 kilometer asof my ingewande uitgeruk word.
Sommer oor alles, die lewe wat so wreed is, die man wat my nie wil hê nie,
die dom koringkrieke wat ek in troppe op die pad moet platry om iewers te
kom…
En skielik begin die musiek my irriteer en begin die trane opdroog sodat ek
wyer kan kyk. Kan sien hoe ongelooflik mooi ons land is, hoe helder die lug
in die aankomende winterson is. Teen die tyd wat ek deur ‘n klein dorpie ry,
is daar genoeg van my ou self terug om vir Saartjie ‘n SMS te stuur: “Wow,
imposante stad, dié Witvlei…” En ek lag te lekker vir my eie simpel grappie.
Op die grondpad Drimiopsis toe, speel ek Paris to Dakkar en verbeel my ek is
die wêreldkampioen soos die bakkie in die dik sand rondwoel.
By die plaashek aangekom, staan ‘n kennisgewing opgerig wat lui: Jy is
gelukkig om veilig aan te kom. Geniet jou verblyf.
Ek is inderdaad gelukkig. Want ek het nuwe mense ontmoet, die mooiste diere
gesien, ‘n mak eland se attensies met waardigheid ontwyk, my verkyk aan ‘n
sonsondergang en laatnag oor die biljoene sterre gesnak. En ek het my
verblyf meer as geniet, ek het daarin my kop skoongemaak, myself weer op die
voete gekry, weer bevestiging gekry dat die lewe tog die moeite werd is.
Al is die koringkrieke dom en ons almal by tye ‘n tikkie bizarre.
En miskien, miskien moet ek tog maar vir die eerste keer in ses jaar die
kans vat en myself maar gaan voorstel aan daai man wat ek dink my nie wil hê
nie…
|
|