|
EK is nie die slimste blond in die land nie, maar ek weet wanneer ‘n ding
nie lekker werk nie. Al is dit deur vreeslike slim mense uitgedink en teen
miljoene dollars vervolmaak.
Dis baie lekker om deesdae jou melk en sappies in bokse te kan rondkarwei,
net jammer jy verloor die helfte van die inhoud daarvan wanneer jy die
eerste keer skink. Die indrukwekkende flaptuitjie aan die voorkant werk
ongelukkig nie, want die voggies kom met ‘n sierlike boog uitgespoeg, al
gooi jy hoe stadig en al mik jy hoe versigtig, dis altyd of bo-oor die glas
of op jou skoen.
Soos met die sakkies melk (wat in ‘n patetiese plastiekhopie ineenstort
nadat jy dit oopgeknip het en vir die skinkslag elke keer regop gehelp moet
word), is die triek om ‘n gat aan beide kante te maak om iets aan die
lugdruk daarbinne te verander. Maar dan is die boksie permanent oop en die
rondkarwei-aksie daarmee heen. Op die ou einde is dit minder moeite en stres
om die hele koei saam te vat op kampeersessies.
Die energiedrankies met die ruimte- eeuse tegnologiese wondertuit is net so
onprakties. Behalwe dat jy jou tande tjip met die ooptrek-bytslag, kan jy
nooit te hard suig of die botteltjie ‘n druk gee nie, want die strale
energievog spuit dan aan weerskante van jou wange verby en daar sit jy, van
ore tot tone bedruip. Terwyl die tuit met sy miniskule gaatjie aan jou
tongpunt vassuig en jy teen die lessenaar moet vasskop om die ding af te
trek.
Nog ‘n flop is glasflesse met beet en agurkies. Die beet is met mening tot
bo ingeskweez sodat jy na die eerste skepslag soos die slagter uit die hel
lyk met al die rooi spatsels die wêreld vol.
Die laaste agurkies doer onder in die fles moet jy soos goudvisse in die
rondte jaag voordat jy hulle met die hand gevang kry, want raakgesteek, dié
kry jy hulle nie.
Maar aan die ander kant is dit ‘n uitstekende tydverdryf vir kinders. “Mag
ek ‘n agurkie kry, Mamma?”
“Ja, my skat, help jouself.” Drie ure later is die kind nog steeds besig om
sy kos te probeer vang. Ten volle gehipnotiseer deur die kolkaksie voor sy
oë.
Koffieblikke is eintlik lewensgevaarlik, want daai oënskynlike gladde rande
wag net om jou hand by die pols te amputeer as jy nie versigtig is nie. En
dan het die vervaardigers nog die vermetelheid om ‘sealed for your
protection’ op die foelieflap te druk.
Maar die wenner van innovasies is sonskerms vir motorvoorruite. Enige
verveelde persoon is welkom om te kom kyk wanneer ek dié kontrêpsie probeer
opsit en afhaal. Die ding is veronderstel om heel pikant in ‘n klein ronde
pierinkie op te vou, maar laat ek dit probeer?
Dit lyk meer asof ek met die kar se airbag stoei soos dit rondglip en my
herhaaldelik heen-en-weer klap. Ek oorweeg regstappe teen dié sadistiese
vervaardigers.
Maar soos ek sê, ek is nie land se slimste nie. Ook nie die geduldigste nie.
|
|