Feministe en Aspoestertjies moet asseblief nie verder lees
nie.
Vandag wil ek ‘n lansie breek vir die manne, al spot sommige
van hulle met ons ontharingsrituele.
Ek kry mans bitterlik jammer omdat hulle so verskriklik
ontwrig word deur ‘feministe’ wat hul onderklere in hope wil verbrand en
male-bashers wat elke man as iets uit die hel beskou.
My ma het lankal moed opgegee met my, want ek kan nie ‘n
lady wees nie. Dis regtig baie werk.
Ek hou van kaalvoet loop, onbeskaamd lag, met my hande eet,
deurmekaar hare en min make-up. My ma het my wel een ding geleer: laat ‘n
man toe om jou soos ‘n lady te bederf. En gee hom erkenning daarvoor.
Maar jy moenie aandring op spesiale behandeling en dan die
man soos ‘n aap laat voel omdat jy nie vandag op die regte hormonale vlakke
beweeg nie.
Moet ook nie die groot femme fatale speel en dan huil
as hy jou vasvat nie.
Natuurlik veralgemeen ek. Maar trek gerus die
glaspantoffeltjie aan as dit jou pas.
Die geheim lê in die balans wat ‘n mens moet probeer handhaaf.
Ek kan nie verstaan waarom jou geslag jou effektiwiteit
beïnvloed wanneer dit kom by werksaanstellings nie. ‘n Dokter bly ‘n dokter,
‘n prokureur ‘n prokureur.
Sou ek vir vyftien jaar by ‘n maatskappy werk en telkens vir
bevordering oorgesien word sodat die mans kan voortblom, sal ek beslis meer
as onderklere begin verbrand.
‘n Vrou is ook nie ‘n vloerlap nie. Hieroor wil ek liewer nie
te veel uitbrei nie. Enige man wat homself hieraan skuldig maak, verdien die
doodstraf. Maar aan die ander kant is dit ook die vrou se keuse of sy dit
toelaat, of hoe?
Ek ken ‘n paartjie (of sal ek liewer sê, onpaartjie)
waarvan die man sy kos elke aand sus en so berei wil hê, sy hemde só gestryk,
sy vroutjie só geklee. Snert, sê ek.
Balans, broers, balans.
Om terug te keer na my oorspronklike lansiebrekery: nie alle
mans is van die ot-spesie of sharks nie.
Vrydagaand het ek net weer besef watter verskil ‘n genuine
glimlag en die regte houding kan vermag. Sodra jy soos ‘n normale mens
met ‘n man gesels, sonder enige bymotiewe, begin hulle ontspan en kan jy net
hande saamslaan oor hoe eenvoudig die man-vrou kwessie eintlik is.
Die primitiewe drange is vreeslik
basic.
Man jag, vrou keer. Man sterk, vrou broos. Man baklei, vrou
sulk. Uggah-uggah.
Maklik.
Maar nou kom elke quasi-Freud en analiseer alle fasette van
menswees tot die dood toe. Op die ou einde is dit meer ‘n tug-o’-war
as ‘n doodgewone verhouding.
Ek het ‘n boks vol ou loveletters wat ek van tyd tot tyd
uithaal.
Party laat my smile, party maak my hartseer.
Ek sal dit nooit weggooi nie, want ‘n man wat bereid is om sy
gevoelens vir jou op papier neer te pen, is ‘n ware jintelman en ‘n
aardsromantikus.
Al skryf hy goed soos: Jy is my meisie/Jou hare lyk soos
lusern/Droog en geel in die maanlig/Jou oë is blou soos môredou/Ek gaan jou
trou.
Waardeer elke gebaar wat jou man uit die diepte van sy hart
en die oortuiging van sy liefde vir jou doen. Al koop hy nooit vir jou
blomme nie, al tap hy nooit vir jou ‘n skuimbad nie.
Ek is seker hy doen ander lekker goeters.
Dalk stop hy met skreeuende bande op die hoofweg en storm
veld in om vir jou ‘n pers blom te pluk. Dalk maak hy jou twee-uur in die
oggend wakker net om in jou oor te fluister dat hy sopas die hele garage
reggepak het. Alles net vir jou.
Al is hy die stil sterk soort wat nooit op partytjies sy
liefde vir jou voor almal uitbasuin nie, gee hy lekker drukkies wat jou
heeltemal lam laat.
Dis waar die liefde lê.
Party mense is nooit tevrede nie en soek vir ewig na “daai
ene, daai ene”-die Perfekte Een.
Daar bestaan nie so iemand nie. Jy leef in ‘n droomwêreld en
kyk meer moewies as ek as jy so dink.
Maar jy kan jou partner vir ‘n slag uit ‘n ander hoek bekyk,
besef hy’s ok ma’ mens en dan jou eie faerie tale skep. (Al kry jy‘n boor
vir Kersfees.)
Aan die ‘feministe’ wat in die teenwoordigheid van ‘n peleton
mans self deure wil oopmaak, vuisslaan oor die restaurantrekening, vloek
soos ‘n matroos: klim tog terug in daai onderkleertjies.
Dis soveel meer pret.
|