|
EK het pas die oplossing vir die hoë werkloosheidsyfer in die land gevind.
Iewers op hierdie wye vlaktes moet daar genoeg ontwerperstalent wees om die
volgende tekort aan te vul.
Vrouens bars deesdae in trane uit wanneer hulle die swangerskaptyding kry.
Oor niks ander as die besef dat hulle hulself vir die volgende paar maande
in die mees bisarre uitrustings moet belaglik maak nie.
Nie almal het die geld om handgeweefde kraamdrag uit Indonesië in te voer
nie en is derhalwe verplig om die pienk soufflé of die babablou
meringue-look te aanvaar.
Dis tragies.
In dié tyd is ‘n vrou op haar mooiste en weerloosste, maar die sadistiese
‘kraamdrag-ontwerpers’ se hoofdoel is om die ma-in-wording die teiken van
bespotting te maak.
Ek het geweier om weer in daglig op straat te verskyn toe ek niks anders op
‘n vooruitstrewende maand agt kon kry behalwe ‘n Walton-agtige paar
dungarees nie. Want die eerste keer toe my vriende my daarin sien, het hulle
‘Nag, JimBoy! Nag, Mary-Lou! Nag, Mary-Ellen!’ geskree en hulself terdeë
geniet toe ek heel bedinges wegwaggel. En ek wil nie eens dink hoe ek van
agter af gelyk het in dié siek uitrusting nie.
My tannie skenk toe uit die goedheid van haar hart ‘n paar kraamrokkies en
ek dog toe ek is gered, want sy bly immers in Johannesburg, die Mekka van
Styl.
Maar groot is my ontnugtering toe ek die eerste ‘rokkie’ voor my hou en dit
waaier soos ‘n valskerm na weerskante toe oop. Lank het ek die gedoente
staan en betrag en dit was maklik twee minute voordat die soom die grond
getref het soos die ding aanhou rol en rol en rol het. Ek dink daar was ten
minste 75 meter materiaal gebruik om dit aanmekaar te sit. Dis deesdae ‘n
grondseil vir my seun se kampsessies.
‘Rokkie’ nommer twee was vlootblou met die gepasde skitterwit matrooskragie.
Matrooskragie kon maklik op sy eie oor die sewe oseane vaar, so breed was hy.
Ek het nie eers die res uitgepak nie, want my oog het ‘n verskriklike
blomnommer gevang en ek was bang ek gaan in vroeë kraam deur die ‘ontwerp’
te aanskou.
Gelukkig het niemand ooit vir my een van daai T-shirts gegee waarop
staan’Baby Under Construction’ met ‘n pyl wat maagwaarts wys nie.
Daarom beskou ek dit as ‘n uitdaging vir enige voornemende entrepreneur om
met praktiese, bekostigbare en DRA-BARE kraamdrag vorendag te kom.
Dit sal die lewe vir die pa-in-wording net soveel verbeter aangesien
vroutjie se bui aansienlik ligter sal wees. Sy mag selfs kans sien vir Baba
nommer twee omdat sy nie meer ‘n gevangene in haar eie huis hoef te wees as
gevolg van belaglike kraamklere nie.
En om van die skoene nie eers te praat nie.
Onthou, daar is vrouens( myself ingesluit) wat hul liggaamsgewig verdubbel
en dan word ‘n gewone skoentjie tot ‘n plat smeerseltjie leer getrap. Bou
tog ‘n stewige trapper wat ook die geswolle enkels vlei?
Miskien is dit darem te veel gevra en daar is mos die getroue ou Groen Kruis
skoene.
Maar dié lyk darem nie heeltemal vars by Matrooskragie en kie nie en ek kan
nie eers dink hoe balanseer Mammie op ‘n paar (gebuigde) stelte wat wel by
die ‘rokkies’ hoort nie.
Dis net ‘n paar idees. Dalk kan iemand verligting bring vir hierdie
mo(e)de(r)front-flaters?
|
|