Minette Brink

 
 

Krismis
 

 
 
Kersfees maak my knorrig.
Ek is nie gemaak vir vrolike liedjies oor rendiere met rooi neuse en klingelende klokke wat aan slees weergalm nie.
Winkels vol blink versierings maak my bewerig en ek sit nie my voete tussen Desember en Nuwejaar in sulke plekke nie.
Daar is nie ‘n wetenskaplike verduideliking vir dié fobies nie. Ek hou maar net nie daarvan nie, oukei?
Dit voel net te oordrewe, al die wense van voorspoed-en-mag-al-jou-wense-waar-word, wat tot ‘n spesifieke tyd van die jaar beperk word en net so vinnig vergeet word wanneer die son op die 2e Januarie sy gesig wys.
Die hordes geskenke wat jy moet aankoop is klaar ‘n teken van ernstige breinspoeling, want hoeveel mense kan in alle eerlikheid sê dat hulle met graagte elke jaar honderde rande spandeer op ander mense van wie hulle eintlik nie hou nie?
En die kaartjies!
Ek red liewer ‘n paar bome as om Kerskaarte met sneeubedekte lanings en tragiese verse te koop.
Miskien het die aversie vastrapplek gekry toe my ma my beplan het, want ek verjaar drie dae voor Kersfees en kan jy dink watter keel ek elke jaar moes opsit net om gehoor te word tussen al die familie wat ook aandag soek?
Miskien het ek ‘n geknou gekry omdat ek te veel Kerskaartjies gekry het waarin die sender sommer onderaan die tragiese vers geskryf het: en baai-de-wy, sommer baie, baie geluk met jou verjaarsdag. Soos ‘n geforseerde nagedagte.
Maar voordat ek van selfbejammering aangekla word, laat ek liewer by die waarheid uitkom.
Ek hou nie van Kerfees nie, want dit my hartseer.
Wanneer ek by my familie in die Kaap sit en myself volstop met ma se kos en klappers skiet en daai belaglike plastiek koptooisel op het, kan ek nie anders as om te dink aan die miljoene kinders, oumense en eensames nie. Mense wat op daardie oomblik, wanneer ek die wensbeentjie breek, alleen is, sonder die blye gevoel van die blye tye. En dis seker pateties om so morbied te wees, juis wanneer ek in die bevoorregte posisie is om nié alleen te wees nie.
Maar soos altyd worrie ek oor goed waaroor ek nie beheer het nie en dis ‘n siekte waarvoor daar nie pille is nie.
Dan trek ek maar daai wensbeentjie en ek wens in die stilligheid dat wonderwerke in oorvloed oor die ou aarde sal neerdaal.
Dat kinders nie meer mishandel sal word nie, dat oumense nie vergeet sal word nie, dat eensames die moed bymekaar sal skraap om mekaar op te soek.
Want Kersfees moét ‘n feestelike geleentheid wees, met minder blink geskenke en meer liefde, vir almal.
Maar laat ons nie beswaard raak nie.
Laat ons liewer bly wees oor dit wat ons het en dit wat Vader Kersfees vir ons gaan bring soos geduld, wysheid en insig saam met geloof, hoop en liefde.
Mag almal veilig aan al die kante uitkom, uitrus, nie meer as vyf kilogram optel nie en mag niemand ‘n tand tjip op tannie Miems se krismiskoek met die toegedraaide muntstukke in nie.
Mag al die vissermanne met ‘daai grote’ huis toe kom en die oorwerkte ma’s en pa’s hande saamslaan oor die stroopsoet kinders.
Mag niemand sonsteek opdoen nie en niemand in die braaivleisvuur aan die slaap raak nie.
En ‘n Z3, ‘n huisie by die see en daai donkerkopman met die blou oë en die bokbaard sal gaaf wees, dankie.
Miskien is Krismis nie so ‘n slegte idee nie…