|
HULLE moet dit nie aan my doen nie. Dis nou die mense wat aspirant
motorbestuurders touwys of liewer “street wise” probeer maak.
Want hulle doen dit op die mees onmoontlike plekke en tye sodat ek myself in
‘n spasma in lag wanneer ek agter diesulkes in die verkeer beland.
Hoe kan jy ‘n leerlingbestuurder helder oordag in ons chaotiese en
taxibesmette strate agter ‘n stuurwiel inskuif en verwag die arme persoon se
hart moet dit hou? Wat nog te sê ‘n slaagpunt behaal. Newwermaaind sy of
haar selfbeeld wat aan flarde geruk word soos ander padgebruikers lag of op
toeters lê of pleinweg obsene handgebare maak?
Dis verskriklik wreed van my om so onbeskaamd te lag, maar dis regtig
onmoontlik om op my tande te byt en te maak of ek nie die drama voor my by
die verkeerslig raaksien nie.
Van ver af begin ek giggel as my oog die reuse rooi “L” op die agterruit
sien, want daar’s altyd die opgewondenheid in my binneste van
wat-gaan-ons-nou-sien?
Net na die opmerk van die “L”, sien jy gewoonlik die spierwit kneukels wat
krampagtig in die tien-voor-tweeposisie om die stuurwiel klem, en die
stokstywe nekkie wat met rukkerige bewegings heen en weer swaai om asseblief
tog net dubbel seker te maak dat ons NIE voor die lorrie wat drie kilometer
ver teen tien kilometer per uur teen die bult opgekruie kom, in te ry nie.
(Al is die lig vir ons groen…lankal…)
Dan, sodra ons alle opsies uitgekyk, oorweeg en heroorweeg het, gooi ons die
karretjie in reverse en jaag teen die uwe vas. Maar die uwe is in ‘n
hulpelose bondel oor die stuurwiel gedrapeer en lag so dat sy net kan beduie,
dis ok, dis ok, ry net, want haar eie karretjie is in elk geval vodde.
Leerlingbestuurder se oë is groter as wawiele in die tru-spieëltjie en
Dryfinstrukteur sit hande in die hare (dit sal hom leer…)
Teen die tyd dat Leerling weer begin asemhaal en eerste rat gekry het,
vergeet sy van alle ligte en jaag met rukke en stote en rokende uitlaatpyp,
ja, natuurlik, reg voor die aankruiende lorrie in. Gelukkig het dié ‘n ou
hand op die stokke en kom almal veilig, dog wasbleek, aan die anderkant uit.
Leerling besluit genoeg is genoeg en maak net daar ‘n hoogs betraande u-draai
terug in die aankomende verkeer in terwyl die instrukteur se mond oop en toe
wapper van skok.
Dit bring my by ‘n ander gedagte. Watter soort mense stel hulleself
beskikbaar as dryfinstrukteurs? Is dit werklik raadsaam om jou weerlose
liggaam in die hande van ‘n leek te waag? Dalk staan die “L” vir “Lunatic?”
Is dit nie beter om ‘n gebied by die toetsgronde af te baken waar ‘n besige
straattoneel gesimuleer word terwyl die instrukteur op ‘n veilige afstand
die petalje dophou nie? Dan mag die leerling eers na ‘n jaar op regte paaie
losgelaat word.
Geseënd is dié wat as vyfjariges op plaaspaaie leer bestuur het, ver weg van
die publieke oog en die argwaan van die padpubliek.
Maar vir die res wat die martelweg moet vat, vra ek by voorbaat om
verskoning, want die een wat so onbedaarlik lag in die rooi karretjie agter
jou, is ekke.
|
|