|
Watter voorreg is dit nie. Dink daaraan.
En hoeveel van ons beskou dit nie as vanselfsprekend nie. Wat gebeur in
daardie geheime voue en groewe van die brein wanneer jou oë nou oor hierdie
woorde gly?
Watter beelde en herinneringe word opgeroep deur woorde soos oorlog, baba,
whiskey, vuur? Sonder om myself as ledepredikster te ag: In die begin was
die Woord.
Ek gaan nie betrokke raak in religieuse debattering nie, maar as die woord
dan so kragtig is, waarom is ons soms so onverantwoordelik in die gebruik
daarvan? En die neerpen van die woord verewig die gevoelens van die tyd.
Daarom is dit so belangrik om uiters versigtig te wees wanneer jy besluit om
iemand aan te haal, iemand te beswadder, iemand se lof te besing. Want jou
woorde plant ‘n saadjie en wee jou as die saadjie ontkiem in ‘n onkruidplaag.
Jy sal in jou lewetjie nie genoeg hande hê om die verwoesting te keer nie.
Noem my ‘n idealis, ‘n naïewe dromer, ‘n tragiese romantikus, maar ek sal
aanhou kerm oor die behoud van eerlike waardigheid. Of integriteit, as jy
dit liewer so wil noem. Maar net soos die woord “menseregte” het die woord
“integriteit” lankal sy oorspronklike betekenis en waarde verloor.
Wat is jou prys, wil ‘n vriend weet. Wat sal dit kos om jou siel te koop? Hy
sit terug met ‘n smug smile en wag vir my profound antwoord. En dit sit my
aan die dink. Wanneer laas het ek ‘n reality check gedoen? Wat is inderdaad
my prys? My vriend wag vir die antwoord, want ek dink nog. Wat ek wel weet
is dat kinders meer as hulle ouers se geld sal erf. In al hul onkunde, sit
hulle nóú met die antwoord.
Ek grawe verwoed in my boekekas rond op soek na die handleiding wat elke
liewe grootmens moet lees. Juis ter wille van die kinders. En om nie hulle
wêreld langer te verkrag met alles behalwe die waarheid nie.
Triomfantelik hou ek die boek omhoog. Die Klein Prinsie van Antoine de
Saint-Exupery. Ek swaai die stukkie werk onder my vriend se neus rond.
"Hier," sê ek. "Hierin lê die antwoord. Lees dit en maak dit werk. Dan sal
jy weet dat geen mens ‘n prys behoort te hê nie.
"Jy is op die regte pad," lag die vriend. En nou is ek op my lees-crusade.
Ek hou voorlopig die TV afgeskakel en die biblioteek oop. Ek maak boeke
bymekaar soos ‘n mens nie eens vriende bymekaar kan maak nie. Want dis my
reg en my voorreg om te kies wat ek wil lees, wat vir my sin maak en met wie
ek saamstem.
Só dierbaar as wat tannie Emsie Schoeman is, so min is ek lus vir al die
oordrewe etiket. Solank ek toemond kou en met ‘n mes en vurk eet (as dit
regtig moet) dan glo ek is ek orraait.
"Moet nou net nie weer op die bandwagon klim nie," vermaan die symste vriend.
Jy val tog te gereeld af.
"Nah," sê ek. "Net as iemand op volspoed die perde skiet."
Ek het nou al mooi geleer watter paadjies deur Cowboy Country vermy moet
word. Om te lees maak die wêreld joune. Jy kan veilig verdwaal in die
doolhof van ‘n ander se gedagtes. Of jy kan senuweeagtig sidder terwyl jy ‘n
boek soos Duiwelskloof van AP Brink lees. Jy kan selfs in die bestek van ‘n
200 –bladsy outobiografie jou opinie van ‘n persoon verander. Net omdat jy
hom die geleentheid gun om sy saak te stel. Wat as hy dan vir jou gelieg het?
Dan het hy sy prys in flitsende neonligte bepaal.
Mag hy iewers vrede vir sy siel vind. (Bly net weg van die hygromans.)
|
|