|
“DAAR’S ‘n groot stuk liefde in die lug, maar ek weet nie wat ek wil hê nie,”
sê Maizie Mentz vir die kopdokter. “Ek is so lankal op my eentjie dat ek nie
weet of ek nog my space met ‘n ander persoon wil deel nie.
“Sê nou ons maak mekaar die hof en na vyf jaar het ons die moed om die knoop
deur te haak en weer die rok en blomme en lank sal hul lewe ding te doen en
dit lyk vreeslik goed in die romanse van kerslig. Maar wanneer die son die
volgende oggend begin skyn, gee my man my een kyk en besef jy’s toe nie die
een nie, wat dan?
“Ek is vreesbevange. Wat gaan ek maak as hy my die eerste keer sonder
make-up met ‘n ponytail sien? In ‘n slap t-shirt en ‘n oorgroot pajamabroek
vol dolfyne? Wie sê nie hy gaan na twee dae verveeld raak en anderpad begin
kyk omdat my grappies flou en my kos vaal begin raak nie?
“Dalk maak hy net of hy beïndruk is met my, maar eintlik is ek net ‘n
tydverdryf en binnekort gaan hy vir my met sulke pap oge sê: ‘Ek is jammer,
maar dit gaan nie werk nie. Hey, dis ek wat die probleem is, nie jy nie. Ek
is nog nie reg na die laaste siekte, my kat se dood en my visstok wat geknak
het nie.’
Moet ek aanhou laf wees? Moet ek sensueel begin raak en ophou hardloop maar
sweef en met ‘n heserige stem begin praat? Nuwe klere koop, my image
heeltemal verander?
Moet ek pottebakkersklasse begin loop? ‘n Nuwe kar koop?
“Ek kan nie hierdie een verloor nie,” gil Maizie.
Uhum, knik die kopdokter en krabbel iets in sy dik leêr.
Maizie val weer plat en sug dieper as die Otjikoto-meer.
“En tog is daar nagte wat die alleen te swaar raak en die stilte te hard
raas. Dan gaan sit ek buite in die donkerte langs my boom en drink ‘n wyn
terwyl die volmaan sy dinges af sukkel om deur die wolke te kyk wat ek doen.
Ek praat met my boom en pak my hele hart se tas uit. Ek wieg op die maat van
die koel luggie deur die blare en ek wens ek kon vlieg. Ek wens ek kon net
een keer my voete oplig en stadig opstyg. Sodat ek ver bo die aarde kon
sweef en ‘n sierlike draai om die maan kon gooi. Miskien sou ek dan die
antwoord kon sien. Die antwoord op die wat-maak-ons-hier en
waarheen-is-ons-oppad. Dis wat hierdie een anders maak, wat ligpers
skoenlappers teen my ruggraat op en af laat fladder soos die laaste keer wat
ek op skool verlief was. Want hy laat my weer lewendig voel.” Maizie begin
hartverskeurend huil.
Die kopdokter sê niks, gee net die Kleenex aan.
“Hoekom moet die liefde so ingewikkeld wees? Hoekom moet daar altyd die
moontlikheid van hartebreek wees?” hyg Maizie deur die trane.
Kopdokter maak keelskoon.
“Hoe lank ken julle mekaar,” vra hy met diepe deernis.
“Ek is al sewentien jaar van sy bestaan bewus,” snik sy. “Maar hy het nie ‘n
idee wie ek is nie. Hy bly in sy eie wêreld.”
Die kopdokter gooi die dik leêr teen die muur flenters en sluk dan ‘n paar
pille.
“Maizie,” sê hy deur knersende tande.”Hoe lank kom sien jy my al?”
“Sewentien jaar al. Vandat ons die dag getroud is,” bieg Maizie.
“Presies. Gaan huis toe, trek die dolfynbroek aan en haal die make-up af.
Gee die kat kos en kry die visstokke. Ons gaan see toe.”
“Goed,” sê Maizie en maak haar ponytail los.
|
|