Minette Brink

 
 

Malgoed
 

 
 
‘Mense sê dag in, dag uit ‘jy’s mal. Jy dink te veel.’
Dis fine met my. Maar soms, net soms, dan wonder ek, wie’t besluit.
Ek ly aan bipolêre disorder, of so iets.
Daai ding wat die oorsprong aan die sêgoete’ eendag op, ander dag af’ en ‘my gedagtes ry wipplank’ gegee het.
Wil nie pille vir die dieper dors sluk nie. Wil nie langer terapie kry nie. Wil die antwoord hê.
En waar sou Dawid die wortels begrawe het?
Op my opdae kan ek vlieg, als verstaan, almal liefhê, als vergewe.
Op my afdae voel ek ………………….
in die middel van die godsverlate vlaktes, sonder hoop, sonder liefde, sonder omgee.
Maar die kinders bly honger en ek wonder, hoe het ons tot hier gekom? Is dit wat Lewe beteken?
Om op en af op deur wie bepaalde dae te vlieg en te pyn? Om waar uit te kom? Om wat vir wie ookal te beteken?
Hoekom doen ek hierdie werk van voorgee? Vir wie, vir wat? Om jam op die tafel te sit, saam met die gee ons ons daaglikse brood?
Vra en vir jou sal gegee word. Rêrig? As ek elke dag van my lewe vra vir los tog daai ge-oorlog, vir oorvloed en insig vir elk, waarom word dit nie gegee nie?
Elke dag rondploeter in bokstront en weeskindersnot in geblikte eidsbesmette skwatterkêmps. Elke dag ‘n bedeltragedie. Wie gee om?
En tussen die laatnag skrywery deur sing jou kind iewers in die agtergrond terwyl sy haar pop poeier gooi en onbewustelik voorberei vir die sirkelgang van mawees’ daar kom Koos die groenteman, virre 5 sent ‘n lemoentjie, virre 10 sent ‘n pampoentjie’ en vaagweg onthou jy iewers dae van ‘n happy son, vrywees en loskopvry, dae van nikse tien plae nie.
En jy sou kon huil, as daar nog gate vir trane was, maar op hierdie afdag is daar niks.
Net gedagtes wat maal oor skoolpêlle se dooie kinders, ander pêlle se daggakop-met-mix lovers wat aand na aand dreig om daai symste koppe weg te blaas, pêlle wat skeef gedraai het en op 40 skytbang vir ma en pa se reaksie op dié onheilse sal wees.
Pêlle wat kleintyd so deur nee, pa, sallie werie, pa, eina, pa, gemoer is dat hulle oë na allie jare nog nie kan sien nie, wil sien nie.
Dieselle ma’s en pa’s wat mekaar gelos het vir jonger, ouer, ryker, mooier modelle, wat mekaar dik timmer na ‘n papsak, ‘n witsnuif, een verkeerde kyk. Wat Sondag in die kerk sit, mekaar se hande angsbevange klem, diktaai trane huil oor die…wat nouweer? Want die koppe maal alklaar oor v’middag se braaivleis en het die bitch onthou om Blitz te koop, gaan hy maak soos laas se Sondag se middagslaapseer….
Ek wil nie meer glo in die maak die wêreld ‘n beter plek nie. Die symste wêreld wat die annerdag nog perfek aanmekaar getimmer is, sonder ‘n papsak se hulp.
En wie het dit anders gemaak, verdraai soos dit ons-is-die-sterkste pas? Onse kerk se mense. Onse slimme weetals. En soos Amanda Strydom sing, my lam, kyk hoe lyk ek nou…”
Maizie haal asem en kyk met niksverwagtende oë na haar nuwe kopdokter. Dié is grond-dom stil. Na ‘n paar ure sê hy tranerig, welkom by die klub, Maizie, en probeer die medalje van erelidmaatskap aan haar hartseer bors steek.
Grys en stil, die lug.
“Ek wil dit nie hê nie, sug Maizie en haak haar sak van die vloer af.
‘Ek loop dan liewers alleen. Want na alles verstaan julle nog minder as my niks…’