|
MOET vir niemand sê nie, maar ek gaan nou aandklasse loop in ‘motor
maintenance’ en ‘repairs.’
Sodra ek my pampiere in die hand het, wil ek heel dom en met fladderende
wimpers my motor terugneem na die jakkals met die bombastiese snor wat my
laas so ingeloop het.
Ek wil lispelend sê dat die karretjie so ‘n doef-doef geluid iewers aan die
onderkant maak en dat ek sooo bly is dat die jakkals so slim is met al
hierdie man-goeters. Dan sal ek wag tot sy bors tot kropduifproporsies swel
en die dollartekens in sy oë flikker. Ek sal in reaksie daarop my ogies nog
groter rek en skaam-skaam glimlag.
Met ‘n kordaatstappie sal hy liplekkend om die tjor wikkel, alles ter wille
van die maklike en dowwe teiken wat so verwonderd na al die grote masjiene
in die werkswinkel staar.
Meanwhile back at the ranch, sal hierdie doedie se tone omkrul van lekkerkry
in afwagting op sy diagnose.
Die scenario:
‘Uh ja,’ maak Snorrie keelskoon terwyl hy die revs opjaag en baie diep frons.
‘Beslis ‘n nuwe silencer. Fanbelt skree ook. Pistons, brake pads, CV joints.
Vervang, vervang….’ Die frons keep tot in sy brein en dan, met ‘n beswaarde
sug en bewende moestas: ‘Ons kyk na so…uhh…mmmm…tweeduisend dollar, arbeid
en VAT ingesluit natuurlik.’ Selfvoldaan se baas.
Doedie snak duiselig na asem en haar fyn handjie vlieg tot teen haar
kloppende hartjie. ‘Oee, meneer, jy is darem goed vir my! Is dit al? Ek het
regtig gedink dit gaan ‘n vreeslike duur storie wees. Jy is ‘n ou
sweetheart.’
Die snor bewe aansienlik vinniger.
‘Wag ‘n bietjie,’ sê Die Kenner dan vinger in die lug. ‘Wag ‘n bietjie. Jou
alignment lyk uit. Ons sal ‘n wielbalansering ook moet doen. Maar dié kan
ons sommer doen wanneer ons al vier tyres vervang. Jy het net betyds hier
aangekom, Juffrou. Jou karretjie is ‘n death trap.’ En hy kyk met groot
wange vol afwagting vir die omhelsing waarin Doedie hom beslis nou moet werp.
Maar dan, die sweepslag.
Doedie staan terug en plant haar skielik-nie-meer-so-fyn handjies op haar
heupe. Soos iets uit ‘n cowboy movie staar sy vir die vyand terwyl die
temalied van ‘High Noon’ deur die werkswinkel weergalm.
‘Jou bliks.m’ sis sy. ‘Daar is NIKS verkeerd met die fanbelt, die CV joints
OF die silencer nie! As jy die moeite gedoen het en jou klein ‘show’ nog
meer indrukwekkend wou maak, kon jy ten minste net die bonnet oopgemaak het
en na ‘n ligte inspeksie GESIEN het die manifold is effe gekraak. DIT kan jy
met ‘n goeie sweiswerkie herstel wat jou nie meer as -- uhmm -- kom ons sê
‘n N$150 kos nie. In die uiterste geval sou ek aanbeveel dat jy ook kyk na
die front pipe en ‘n flange of twee, maar ek twyfel…En terloops, dis vier
splinternuwe Continentals wat jy daar sien. Nog iets?’
Die laaste note van High Noon sterf met ‘n blêr en ‘n stilte kom hang soos
‘n nat kombers in die lug.
Snor hap-hap soos ‘n ghappie rond vir suurstof. Klein, benoude
kraakgeluidjies probeer by sy keel uitkom, maar word summier teruggedruk
wanneer Doedie met skreeuende bande wegtrek en hom in ‘n vieslike petrolwalm
agterlaat.
‘Tarra!’ skree sy vrolik en swiep haar blonde haarslierte met mening uit
haar gesig.
En begin opgewonde soek na die volgende werkswinkel.
|
|