|
EEN van die voordele van ma-wees is dat jy onbeskaamd jou naam kan krater
maak sonder dat iemand ‘n oog knip.
Van die ongemaklike eendewaggel tot die belaglike kraamdrag tydens die groot
wag, tot die Marmite of papsmeersels oor jou wang en die tantrums in die
winkelsentrums is heel aanvaarbaar vir mammies die wêreld oor.
Rekmerke, hangboude, oorgroot klere wat nie bymekaar pas nie, hare in ‘n
poniestert, ongeverfde naels, alles kan oorgesien word omdat jy ‘n mammie
is. Nie ‘n goeie verskoning nie, maar ‘n gemaklike een.
En so het ek in ‘n mammie-gemaksone weggesak met die gedagte van ‘eendag as
die kinders uit die huis is, sal ek weer soos ‘n mens lyk en mensdinge doen.’
Maar toe maak ek die fout van my lewe en sleep vir vriendin saam na die
preprimêr se pretdag en my hele bubble ontplof ten aanskoue van driemiljoen
pare oë.
Ek het uitgesien na ‘n dag van geraas en gejuig en vrolike kinders wat op
klimtoestelle rondswaai en afval, terwyl mammies weglê aan die hotdogs en
ander lekker eetgoetertjies. En dis wat ons toe met mening doen, totdat
vriendin, kom ons noem haar Saartjie, met smaak aankondig dat sy ons
ingeskryf het vir die boeresport.
“Boeresport?” stik ek aan my hotdoggie.
“Jip,” sê sy en sleep my onsportief oor die vlakte na waar die rooi en
blouspan ingedeel word.
Ek kan nie eers probeer verduidelik wat alles daar gedoen moes word nie,
behalwe om te noem dat daai triek van die aartappel in die sykous waarmee jy
die koeldrankblikkie tussen jou bene deur moes raakslaan, nooit, nooit weer
mag gebeur nie.
Saartjie moet in die vervolg ook ver wegbly van rou eiers.
Maar die groot vergatting vind plaas toe die tannie met die magafoon my en
Saartjie se name uitbulder om onmiddellik aan te meld vir die hindernis.
“Hindernis?” vra ek smalend en met baie, baie dun oë.
“O ja, “ juig Saartjie, wat, soos ek weldra sou uitvind, gebore is met die
spoed en die stamina van ‘n Olimpiese marathonatleet.
My kinders kyk my waarderend dog ietwat agterdogtig aan. “Ek weet nie of Ma
dit kan doen nie,” sê altwee gelyk.
Groepsdruk is ‘n lelike ding en toe daai skoot afgaan is ek heel voor, om
die eerste draai, Saartjie deur die tonnel, ek reg met die kruiwa, op teen
die bult, oor die klimraam, alles nog onder beheer. Maar dis toe ek my voete
op die trekkerbande teen die steilte neerplof, dat my lyf ALL SYSTEMS SHUT
DOWN skree. Alles is verlam en ek hoor ver ver weg die dowwe histeriese
gelag van almal wat dié verleentheid moet aanskou.
Die trekkerbande zoem in en uit voor my oë terwyl ek dapper, manmoedig, vir
my kinders, die steilte uitsteier. Na drie ure (of so voel dit) is ek bo en
rol toe maar teen die afdraand af tot onder.
Nog is het einde niet, en natuurlik sit ek vas op die mini-glyplank waarteen
almal voor my teen die spoed van lig afgeseil het. (Nog ‘n hotdog, nog ‘n
hotdog, koggel die ylende gedagtes deur my kop.)
Ek probeer ‘n hoepel optel en fluit uit my aan- die- brand- bors,
ekkanniemeerie, ekkanniemeerie, maar doer in die verte staan twee kinders en
knik hulle koppe meewarig- mos gesê sy sal dit nie kan doen nie. En met ‘n
allerlaaste poging in pyn, sleep ek myself oor die wenstreep en stort in ‘n
bondel van brandende asem ineen.
Toe ek bykom is die partytjie verby, alles opgepak, net my diepe, diepe
verleentheid wat wyd gestrooi oor die speelgrond lê.
“Sal jy NOU saamkom gym toe,” vra Saartjie met smaak en so kom alle
verskonings tot ‘n bittere en vernederende einde.
My kinders praat darem weer met my…
|
|