Minette Brink

 
 

Namib se meisies
 

 
 
DIE manne moet nou rustig iewers ‘n koffie gaan drink en die volgende aandagtig deurlees totdat die waarheid insink: In hierdie land word ‘n unieke spesie aangetref wat jy nêrens anders ter wêreld sal kry nie naamlik die Namibiese meisie. (As al die mans nou klaar hulle siniese gelag onder bedwang gebring het, lees asseblief verder.)
Dié spesie van die vroulike geslag word te veel onderskat en beswaarlik na wense waardeer.
Want waar anders sal jy vrouens kry wat ‘n kudu kan jag, kan verwerk, die bakkie se band ruil, dieselfde kudu in steakvorm kan voorsit vir vyftig gaste en nie terapie hoef te kry as sy in een van die prosesse ‘n nael tjip nie.
Namibiese meisies kan motorfiets ry, vier by viers deur die diksand manoeuvre, visvang, kamp opslaan en vuurmaak. Hulle eerste vraag op ‘n uitnodiging veld toe is nooit “is daar ‘n generator vir my blow dryer nie,” maar “wanneer ry ons.” Dan kan die motorvensters die heelpad oopbly en sal sy nie huil oor die haarslierte wat oor haar gesig wapper of die stof wat haar kontaklense ontstel nie.
Hulle kyk die lewe vierkantig in die oë, huil as dit moet en deel slae uit waar van pas.
Terselftertyd kan hulle optof en in ‘n ligte parfuumwolkie aansit vir ‘n vyfgangmaal saam met staatshoofde waartydens hulle met vroulike intuisie dieselfde staatshoofde kan oorreed om hulle beleid ten opsigte van weeskinders te verander, of ten minste te oorweeg.
Hulle is nie verslaaf aan etikette en die nuutste moedgiere nie en sal liewer hulle salarisse opgebruik om kwekerye leeg te koop en hulle tuistes in oases te omskep. Sou daar geld oorbly, is dit hardeware winkel toe om verf te koop om self die huis in ‘n kleure paradys te omskep.
Hulle is leeuwyfies wanneer dit by hulle kinders kom en sal naels uitpak wanneer enige iemand hulle liefgoed (veral hulle mans) bedreig.
Namibiese meisies weet om die minimum (indien ooit) blomme, kaartjies, geskenke, vakansies op eksotiese eilande, onbeperkte kredietkaartlimiete, wegbreeknaweke, ontbyt in die bed, skuimbaddens met aromaterapie kerse, vollyf masserings en lang innige soene te verwag. Maar is meer as gereed om die bederf uit te deel. Ongevraagd.
Hulle laat hulle mans soos mans voel wanneer hulle mans soos mans optree en kan net so maklik hulle mans soos muise laat voel wanneer hulle mans te veel begin piep.
En soos altyd het een van die manlike kollegas gou oor my skouer kom lees en amper my agterkop weggeblaas van verontwaardiging. (Nee, vir ‘n verandering was dit nie Neels nie.) “Wattttt, spoeg die man. “Namibië het die lelikste girls in die wêreld. Nou probeer jy hulle so bemark?”
Ek lag vir hom, want dis nonsens. En as hy verwys na die plooie en die dikwels sonverskroeide gesigte moet hy net sê. Ons KAN ook rome aanplak en nooit in die son verskyn nie sodat ons op 80 soos 18 lyk, maar wie sal dan saamgaan op buitelugtrippies en die aas aansit op Henties? Wie sal bollemakiesies in die Swakopsee saam met die kinders maak en vir ure sandkastele bou, rekmerke en al? Waar sal hulle meisies kry wat duineborde teen 300 kilometer per uur kan hanteer en onthou het om die politoer saam te bring?
Dis vir eers genoeg.
En die manne wat nie met my saamstem nie, moet maar bruide uit die Ukraïne begin invoer. I dare you…