|
EK het
die oplossing vir ‘n suksesvolle huwelik: man en vrou moenie in dieselfde
huis bly nie. So maklik soos dit.
As dit om finansiële redes onmoontlik is om twee blyplekke te bedryf, omskep
een huis in ‘n skakelhuis met ‘n interleading deur wat slotte aan beide
kante het.
Die hele Siamese till-death-do-us-part belofte is tog absurd, want ‘n mens
kan nie anders as om te versmoor in so ‘n ongesonde verbintenis nie, veral
nie in Afrika waar ons gewoond is aan ruimte, ooptes, vryheid en
ongebondenheid nie.
“As jy ooit weer jou nat handdoek op die badkamervloer laat lê, is dit verby,
as ek jou weer moet vra om die stoeplig te vervang, gaan ek by my ma bly,
kom nou weer ná middernag by die huis, dan gaan sien ek my prokureur. Hou op
snork, dan praat ons weer. HET JY ALWEER GEDRINK?”
Die ou rympies sal nooit weer gehoor word as elkeen in sy eie plekkie is nie.
“Hoekom skuif jy alweer die meubels? Hoekom moet die vloer elke dag gemop
word? Die ouens is oor vyf minute hier, waar is my visstokke, koelboks, ou
army t-shirt? Hoekom kan my baas nie vanaand kom braai nie? Hoekom kan ek
nie my bike in die sitkamer dissemble nie, dis flippen koud daar buite.”
Die kommunikasiegaping tussen mans en vrouens sal nooit oorbrug word deur
die afdwinging van onnatuurlike saamwoonaksies nie.
Kyk net hoe lekker loop dinge voor die saamblyery wanneer spesiale tye
ingeruim moes word om mekaar te sien. Altwee het gedress, moeite gedoen, in
beleefde stemtone liefdeswoordjies uitgeruil en ge-oe en ge-aah oor mekaar.
Na die huwelik is dit net ‘n gejaag om die huis- en karpaaiemente by te
bring, met net-net genoeg geld oor om miskien Saterdae te braai, Sondae
take-aways by die hoenderwinkel te koop en op spesiale dae by ‘n grand-erige
eetplek te gaan sit en in doodse stilte vir mekaar oor die tafel te staar.
‘n Paar jaar terug het ‘n vriendin gesê sy soek ‘n man wat vir sy werk
verkieslik op ver en gevaarlike paaie reis en my reaksie destyds was ‘ag
nee, dis ‘n verskriklike ding om te sê.’
Maar deesdae maak dit sin.
Dis tog in die man se bloed om te verken, te jag, adrenalien te voel pomp en
hoe anders as om nie te veel by die huis te wees nie?
Soos in die flieks oor die middeleeue waar die skaapwagters of vegters vir
maande oor berge en dale moes trek om wie-weet-wat te gaan doen terwyl
vroutjie huis en haard en ‘n trop kinders bymekaar hou en na drie maande of
langer, met ‘n hand oor die oë die vlakte intuur om te sien of manlief nie
dalk op die horison staan nie.
Sou hy dan sy verskyning maak is die weersiens van ekstatiese aard waarna
hulle in vreugde sou aansit vir die bakke bredie wat vroutjie vir maande al
stook, alles ter voorbereiding van Die Tuiskoms.
Pappie sou geduldig en met ‘n gelag die kindertjies vol weergalmende gille
die lug in slinger en net voor almal krapperig kan raak, is Pappie weer
oppad (om weer wie-weet-wat te gaan doen.)
Nog ‘n voordeel van daai tye was dat daar nie selfone, internet en e-pos was
nie. Met ander woorde Mammie het nie eers GEWONDER hoekom Pappie niks laat
weet nie. Daar was nie ‘n manier hoe hy kon nie.
In vandag se tye het niemand ‘n verskoning nie, want “my battery was pap en
ek het my charger by die huis vergeet, ons was in ‘n rowwe gebied met geen
opvangs nie, die telefoonlyne is deur wrede kannibale gesteel en jy moet
eerder dankbaar wees dat ek nie geëet is nie’ raak vinnig afgesaag en is
niks anders as ‘n duidelike bewys dat ‘n man NIE elke dag van sy lewe met sy
hart se punt wil praat nie.
Die Middeleeue is, helaas, nie meer met ons nie en daarom moet ons maar
probeer om die beste van die beknopte saak te maak.
Sit daai deur in of trek in aparte huise in.
Ek sal intussen soek vir ‘n man in ‘n ander land, newwermaaind ‘n ander dorp...
|
|