|
DEESDAE moet ‘n mens vreeslik versigtig wees as jy om enige draai in
Windhoek jaag, want die munisipaliteit en die ministerie van transport en
werke voer ‘n vendetta teen motoriste.
Binne sekondes kan ‘n pad, ‘n systraat, selfs ‘n doodloopstraat, afgesper
word met geel linte, drieduisend padtekens, oranje bakens en die mans in die
geel jassies met die rooi vlae. Die tydsberekening vir die optjopping van ou
teer is beslis moedswillig. Geen waarskuwings word aan die media deurgegee
nie en niksvermoedende motoriste ry hulleself mal in sirkels om by die werk,
die skool, die winkel en soos gister, by die munisipaliteit self uit te kom.
Dit maak my onrustig.
Sê nou ek ry een aand huis toe en ek bly skielik nie meer in dieselfde
straat as daai oggend nie?
Sê nou my kinders moet eendag vir terapie gaan omdat hulle gedink het ek het
sonder hulle geëmigreer, maar eintlik was ek net drie ure laat omdat dit my
so lank geneem het om ‘n ompad van die werk tot by die skool te soek? ‘n
Trippie wat normaalweg vyftien sekondes duur?
Ek is natuurlik ‘n voorstaander vir die instandhouding van paaie en al daai
infrastruktuuragtige aangeleenthede, maar dan wil ek ook weet wanneer en
waar.
‘n Beskeie voorstel: kan ‘n baken-uitpakker-spesialis asseblief ingevoer
word om die mans in die geel jassies touwys te maak in bakenkunde? Jy sal
nog skrouend van frustrasie (dit klink so: AARGHHHWAAAANN!!) die nuwe roete
volg en dan besef, hei, hierdie pad raak ontstellend dun!
Siestog. Die bakenmans moes seker moeg geraak het vir die uitpakkery en het
toe sommer met ‘n baken in elke hand pad af gedrentel en dit laat val en
laat lê. Newwermaaind of ‘n kar deur die nuwe paadjie pas.
Hoekom werk hulle nie snags nie? Dan is dit lekker koel, die paaie is stil
en beplande moord tot ‘n minimum beperk.
Maar nee, ons hou mos daarvan die eenvoudigste dingetjie so ingewikkeld
moontlik te maak sodat die verkope van kalmeermiddels die hoogte kan inskiet
en iemand anders lekker agteroor kan sit en die geldjies tel.
En nooit kan iemand verantwoording doen vir enige verwikkelinge of ‘n
verduideliking gee vir verdagte optredes nie.
Soos nou die Saterdagmiddag. Die lui stilte wat net ‘n Saterdagmiddag kan hê,
word aan repe geskeur met die gebrul van ‘n kettingsaag wat klink of dit
deur die huis se fondasies gaan breek.
Hoogs bedinges slui ek eers al die deure, veiligheidshekke, slotte en
buitehekke (lekker in Afrika, né?) oop om die bron van irritasie by te kom.
En raai, ‘n man in ‘n geel jassie!
Meneer, skree ek, maar die geknetter van die saag is my een voor. Ek spring
toe op en af en waai my arms en genadiglik sien Geeljassie my raak.
Dit raak stil.
“Meneer,” vra ek. “Wat doen jy?”
Hy kyk my aan asof ek nie lekker is nie.
“Ek sagga hom die boom.”
“Dit kan ek sien ja. Hoekom?” wil ek weet. Die twee reuse op die sypaadjie
gooi die lekkerste skaduwees in my werf en sover ek kan sien, is hulle nie
in iemand se pad nie, behalwe vir dronkbestuurders in die nanag.
“Ek maak hom plat,” sê hy vies vir die dom blond met die rooi wange.
“Dit kan ek sien, ja, maar hoekom?”
“Ah, meskien hier kom die pad,” sê hy en knip die ondervraging kort deur
weer die gebrul aan te sit.
Ek val in ‘n patetiese bondeltjie in die stof.
Maar dan besef ek dis seker nie onmoontlik nie. ‘n Driedubbele snelweg
vanuit Nelson Mandela bo-oor die koppie, waar ‘n reuse-sekuriteitskompleks
goed gevestig lê sodat belangrike mense makliker toegang tot die Avisdam en
die internasionale lughawe kan hê. Hoekom nie?
Dan is dit so.
Maak hom plat, my broer. Maak hom plat.
Ek sal maar hier in die skadulose werf sit en wag vir die bakengooiers en
die geel linte.
En intussen uitkyk vir ‘n plot anderkant die lughawe.
|
|