Minette Brink

 
 

Skool toe
 

 
 
DIE opwinding loop hoog in die Brink-huisie.
Boeta gaan volgende jaar Groot Skool toe en ma is meer entoesiasties as die kind self.
Wie onthou die reuk van ‘n splinternuwe skooltas, die blinkswart skoolskoene, die uitveërs en kryte en die potloodsakkie met die vrolike kleure?
Ek was gek oor skool, die reuk van kennis swaar in die lug, gemeng met bordkrytskifsels wat in die mooiste patrone op skuins sonstrale ronddans.
Nou die dag nog het ek tussen ma en pa oor die skoolgrond na my eerste klassie toe gemarsjeer. Elke dag was ‘n uitdaging, ‘n reis na nuwe plekkies in my brein.
En nou is dit my kind wat dieselfde paadjie gaan stap. Waar is die tyd heen?
Maar voordat ek heeltemal weggesleur word deur die avontuur wat vir Boeta voorlê, moet ek eers ‘n berg oor.
Die Berg van Papier en Administrasie.
In die verlede was dit naam, adres, telefoonnommer, het jy al jou inentings gekry en welkom-by-die-skool!
Maar vandag, o wee, wat ‘n trauma.
Ek ry na my ou laerskool toe en is skuins bewoë van nostalgie toe ek die gebou betree. Met ‘n knop in my keel kry ek dit darem reg om ‘aansoekvorm, asseblief’ te krys.
Die tannie agter die toonbank plak ‘n dokument so dik soos ‘n bo-arm voor my neer.
“Voltooi asseblief en dien in saam met GESERTIFISEERDE afskrifte van geboortesertifikaat, identiteitsdokument, paspoort, munisipale rekening, verslag van preprimêre skool, motorregistrasienommer en model, motivering vir toelating tot die skool, omvang van breinkapasiteit, huidige inkomste, voornemende inkomste en toekomsvisie, name van troeteldiere, posisie in die samelewing indien enige, opinie ten opsigte van die huidige situasie in Irak en gunsteling blomsoort. Volgende asseblief.”
Huh, vra ek dof. Sê weer? Maar die tannie is klaar met my.
My bubble is aan flarde. Ek wil net hê my kind moet skool toe gaan, nie aansoek doen vir ‘n ministerspos nie. Al die opwinding is skielik daarmee heen en ek stap met ‘n verskriklike beswaardheid terug na my karretjie toe. Die Dokument gooi ek op die agterste sitplek en ek oorweeg die moontlikheid van tuisonderrig.
Maar dan val my oog op die
Reuse-trekkerbande op die speelgrond en ek begin lag.
Ek onthou die bendes wat ek en Charlotte en Sanet gestig en ontbind het. Elke week ‘n nuwe naam, ‘n nuwe wagwoord, ‘n nuwe fantasie. Ek onthou hoe ek myself desmoers op die einste bont bande geval het omdat ek oor my skouer vir Heinrich en Ronald gekyk het en lelik misgetrap het. Hul histeriese gelag weergalm nou nog oor die symste speelgrond en ek is weer bloedrooi van vernederdgeit.
Ek loop na die graad eens se kant toe. Daar is die tenkie met die yskoue water wat op ‘n bloedige somersdag soveel lafenis gebring het. Was ek regtig ooit so klein? Nou moet ek op my knieë staan om my kop onder die piepklein kraantjie in te kry.
“Kan ek help,” vra ‘n kwaai Juffrou agter my.
“Nee dankie,” sug ek gelukkig, “alles is soos dit moet wees.”
En met ‘n lied in die hart ry ek polisiestasie met Die Dokument op my skoot.