|
Raait! Dis oorlog.
En die diere-obsessiewes kan my maar op die markplek onder klippe toegooi,
maar as ek nog een sekonde na die erff-erff, erff-erff, van die onsigbare
buurhonde moet luister, gaan ek mal word.
Gelukkig is ek ‘n pasifis wat nie in fisieke mishandeling glo nie, maar in
die diepsinnige waarde van subtiele langtermyn wraak.
Vir maande verdra ek die erff-erff aan die ander kant van die
te-hoog-om-oor-te-kyk muur met die elektriese bedraadsel. Dis ook onmoontlik
om by die buurhuis uit te kom, want dié se ingang sit iewers in ‘n
afgesperde straat met vreeslike veiligheidshekke en niemand in sig nie.
Die erff-erff is daar as ek soggens my tam oge oopbeur en die erff-erff is
daar wanneer ek laatnag op my bedjie neerval.
Die erff-erff is veral daar tussen eenuur en vier-uur oor naweke, die
lekkerste tye vir die middagslapie, of veronderstel om te wees.
Ek is na aan trane toe ek die kroegstoel deur die tuin sleep en op my tone
balanseer om oor die Fort Knoxmuur te kyk, sonder om my gesig teen die
sjokdrade te skroei.
“Hallo?” roep ek die onsigbare bure. En daar bars ‘n erff-kakofonie los.
Sewemiljoen worshonde spring op en af op daai belaglike te kort bene en
probeer my bykom. Seker om my te verskeur as hulle kon… yeah, right…kyk hoe
bewe ek…
(Wat is die doel om sulke pogings-tot-hondwees aan te hou? Seker nie vir
veiligheidsredes nie, alhoewel ‘death by decibels’ seker nie buite die
kwessie is nie…gee my ‘n Husky of ‘n Alsatian, dan praat ons weer.)
“Stil,” brom ek hiper-geïrriteerd. “Gaan roep liewer julle baas,” maar die
kortpote is te dom vir sulke trieks. (Waar’s Lassie as ‘n mens hom nodig het…?)
Genadiglik loer ‘n gesiggie om die verste hoek van die huis. “Hallo,” sê ek
op my mees geforseerde vriendelikste. “Is dit jou skattige hondjies?”
“Ja, tannie,” sê sy en haal daarmee onmiddellik die vals glimlag van my
gesig af. Tannie, nogal…
Ek verduidelik die probleem aan Gesiggie en sê dat ek dit vreeslik sal
waardeer indien sy of wie ookal die brakkies kosgee, hulle troeteldiertjies
kan stilhou. “Bedags wanneer ek werk, kan hulle na hartelus erff tot hulle
hees is,” sê ek.
“Dis omdat Tannie oor die draad loer,” sê Gesiggie.
“Nee, nee, hulle blaf ALTYD. Dis die eerste keer dat ek loer,” probeer ek
weer verduidelik en druk in die proses per ongeluk my neus teen die drade.
“Maak hulle stuuuuullll,” is my laaste woorde voor ek van die stoel afneuk
en meters ver na benede tuimel.
Ek sleep myself huiswaarts, val op my bed neer en maak my oë toe.
Erff-erff, koggel dit van langsaan. Toe verloor ek dit.
Bel my mees versteurde vriend vir die oplossing.
Maklik, sê hy. Ek bring my pitt bull oor. Hy voel vere vir sjokdrade.
Dis te erg, keer ek, iets anders?
Nee, sê hy, pitt bull or bust.
Sorry dat ek gepla het, sê ek en sit die foon neer.
Ek wil nie die goed seermaak nie, net stilkry, maar hoe?
Toe die son saam met die oggend-erff opkom, gee ek in. Daar is net een
vreedsame oplossing.
Ons moet seker maar weer trek.
Hoe’s daai vir diepsinnige en subtiele langtermyn wraak…
|
|