Minette Brink

 
 

Tsumeb
 

 
 
NOOIT gedink ek sal dit erken nie, maar daar het jy dit nou. Ek het ‘n liefdesverhouding met ‘n dorp in die noorde.
En dis nie sommer stories nie, want met elke besoek daar raak dié stuk liefde net sterker. En my behoefte om soontoe te trek al hoe groter.
Wat dit presies is wat my so lok, is moeilik om te beskryf, maar ek gaan probeer en ja, dit gaan soppy raak.
Toe Neels my verlede jaar op my eerste noordetrip vat, het ek nie kon dink dat daar so ‘n verrassing sou wag nie.
Douvoordag uit Windhoek weggetrek met die vooruitsig om vir die eerste keer in 18 jaar weer die dorpies te besoek waar ek op skooltoere laas was. En met dieselfde blazé houding as destyds is ek deur die meeste van hulle. Want ek was mos in dié skool in Windhoek, met dié beste van alles, en niks kon ons daai tyd ooit beïndruk of oortref nie. Soos die Romeine het ons aangekom, gekyk en oorwin en meewarig gelag oor die plattelandse bestaan. Geharde stadsmense, wysneuse, dit was ons daai.
En toe draai die wiel.
Skuins voor sonsonder na ‘n hele dag op die langpad begin ek kriewelrig raak. “Wazzit nou met jou,” grom Neels toe ek by die venster uithang terwyl al my sintuie inskop.
“Ek weet nie,” sê ek, meer verward as normaalweg, terwyl ek snuif-snuif my ore en oë heen en weer wikkel. “Iets in die lug, iets anders.”
En hoe nader ons aan die dorp kom, hoe sterker raak die gevoel. “Jy’s niks lekker nie,” sê Neels en skud sy kop.
En skielik is ons daar en ek verval in ‘n beswyming. “Dis magic,” fluister ek vir Neels. “Soos iets uit een van my kindertyd se boeke.”
Pers en groen, rooi en oranje, teen die agtergrond van skakerings van blou met die son wat goue strale oor alles vee.
Dis die plek, dink ek. Die plek van my drome, my fantasieë, waarna ek my hele lewe lank soek.
En daar ís iets in die lug, want ek voel nie meer my lyf nie, net die bewustheid van allesoorheersende verbysterende mooi.
“Is seker nie te bad nie, ek het seker te lank hier gebly om te sien waaroor jy tekere gaan” erken Neels darem en doen sowaar die moeite om ‘n draai deur die dorp te ry. “Sien jy, daar is beslis iets in die lug as selfs jy geduldig raak,” waag ek die kans.
“Mens noem dit gas,” stel hy my foutjie reg.
Dan slaan hy skielik remme aan, gryp sy kamera en spring uit die bakkie uit. Ek het dit ook gesien, maar is verlam deur die prentjie. Sit en staar oopmond na die ongelooflikste sonsondergang wat ek in my lewe gesien het. ‘n Reuse helderoranje vuurbal wat in ‘n pastelmengsel sweef en die hele wêreld in ‘n droom omtower.
Selfs die donker wat oor die dorp neersak is anders, soos elke naggeluid duideliker raak, beloftes van drome wat waar gaan word, saamdra.
Nie eers ‘n yskoue bier kry my uit die beswyming nie en ek hoor net vaagweg hoe Neels met ou bekendes opvangwerk doen.
Ek kyk in die kroeg rond. En stadig sypel die besef deur dat hierdie dorp, met hierdie mense, regtig anders is. Ek kan dit in elke inwoner se oë sien, die meer weet, die verder as die horison kan sien, die geheimhou van dié dorp se towerkrag.
Toe ons terugry hotel toe, probeer ek die raaisel oplos, tot Neels se grootste irritasie.
“Ek weet wat dit is. Dis al die minerale en klippe en grondgoeters wat oor die jare uit die aarde se ingewande na die oppervlak gebring is en nou die positiewe energie en krag in die lug vrygestel het en dis al bewys dat sekere kristalle en kwarts en daai goed helende kragte het en dink net hoe amazing dit is om elke dag dié lug in te asem en so deel te raak van die heelal en een te raak met die geheime van die aarde…” “SAL JY STILBLY,” blaf Neels en ek maak toe maar liewer so. Maar nie voor ek “haal gerus diep asem” geprewel het nie.
Toe ons die volgende dag weer in die pad val, is ek skuins bewoë. “Ek wil nie hier weg nie,” bewe my onderlip, maar soos ons ry voel ek hoe die betowering stadigaan minder raak. En dan is dit skielik weg.
“Hoe ver is Grootfontein nog,” gaap ek, maar Neels het seker my raad gevolg en tog diep asemteue gevat, want dié lyk soos een onder ‘n towerspreuk.
“Vertel my van Tsumeb,” vra ek.
“Wel, dis nou die plek waar die mense hulleself aan die boot laces opgetel het,” begin hy en hou eers op praat toe ons in Cowboy Valley stilhou.
“Jy sal dus erken dat Tsumeb anders is,” sê ek met ‘n selfvoldane glimlag, terwyl Neels sy kop skud soos een wat sukkel om wakker te word.