|
Ek raak nou te na aan veertig om nog belaglike goed soos Nuwejaarsvoornemens
te hê. Dit het nog nooit gewerk nie, want ek rook nog steeds, is elke jaar
vyftien kilogram swaarder as die vorige jaar en ek kan nog steeds nie tjello
speel nie.
Ek is wel erg verlig dat verlede jaar nou agter my lê, want dit was maar rof
en soos elke siklus, was daar aan die afloop daarvan nie meer energie oor
nie.
Maar daar is iets waaraan ek hierdie jaar meer aandag gaan gee: mans wat al
meer soos vrouens word. Ek praat nie van fopdossers nie, maar van rowwe,
bosbreker, heteroseksuele mans wat deesdae erger as vrouens kan teem,
hormoonversteurings ervaar en soms so diep beswaard raak dat ‘n mens landuit
wil vlug. En dan hulle buie toeskryf aan stres. Waaroor nogal?
Waar is die dae toe dié mans nog mans was? Toe vrouens die voorste klakouse
en emosioneelontwrigtes was?
‘n Mens kan seker die teenargument ook aanhoor: wat het van vrouens geword?
“Omdat vrouens nie meer soos dames optree nie, kan hulle nie verwag om soos
vrouens behandel te word nie,” huil ‘n Camelman nou die aand.
“En hoe behandel ‘n mens ‘n dame?” vra ek nie vreeslik belangstellend nie,
want ek ken al die ou antwoord van die blomme en die kaartjies en die deure
oopmaak en betyds wees en nie sê as sy vet geraak het nie en die onthou van
spesiale dae.
En soos altyd gaan Camelman aan die teem oor hoe mooi hy sy meisie behandel
en bederf en hoe stil dit tussen hulle geraak het en hy verstaan nie so
lekker nie.
O, sê ek, en waar is sy vanaand? Hoekom kuier sy nie saam met hom nie?
Hy frons. “By die huis, natuurlik. Ek het vir haar video’s uitgekies én ‘n
pizza gekoop en nog steeds wou sy my nie eers goodbye soen nie,” hy sug en
skud met ‘n diep moedeloosheid sy kop stadig heen en weer. “Hierdie is nie
‘n plek vir ‘n dame nie,” verklaar hy grootmoedig.
Ek kyk om ons na die vier miljoen toeriste, dames inkluis, wat gesels en
heel beskaafd aan eisbeins knaag en nie na vreeslike slegte geselskap lyk
nie.
“Het sy darem sleutels om uit haar hok te beweeg, of hou jy dié ook in jou
hand,” wil ek liefies weet.
‘Heh,” frons hy en ek gee op.
En so sal ‘n mens tot in der ewigheid kan stry oor wie se skuld dit nou
eintlik is dat niemand meer is wat hulle moet wees nie en so aan voort.
Maar as die sterker geslag (ek dink dit was laas die mans) dan ook die
slimmer geslag wil wees, is dit tyd om die hele situasie in heroorweging te
neem en weer die romanse en waardigheid, sonder die
wie-is-baas-en-wie-is-Klaas, in die hele man-vrou-kwessie terug te sit.
Miskien moet lede van beide geslagte vir ‘n slag terugsit en soos in die
oertyd op instink begin vertrou. Ophou om ‘n verhouding of ‘n moontlike
verhouding tot die dood te analiseer en tog net die reëls en regulasies tot
op die letter te probeer uitspel. Ophou om mekaar te probeer verander en dan,
na die veranderinge met moeite afgedwing is, te kla “my partner is nie meer
die mens op wie ek verlief geraak het nie.” Ha-looo!
Nou goed dan. Miskien het ek tog voornemens vir die jaar: om mense om my
weer bewus te maak van die lekker van verliefdgeit. Soos op skool laas. Toe
jou hart nog sulke asemsnakkende fladderings gemaak het as jy net Daai Een
se stem hoor en jou knieë onder jou meegee as jy hom op die speelgrond sien.
Sonder dat jy verder as nou gedink het en snags in angsweet uitgebars het
oor die moontlikheid dat dit tog nie sal werk nie, want almal het te veel
bagasie en te veel hang-ups.
Ja, lag maar lekker, maar probeer dit vir oulaas.
Al is jy na aan veertig.
|
|