Minette Brink

 
 

Weggespoel

 
 
Dit was wragtig nie snaaks nie, dié waterbedryf van die ander aand.
Na ‘n baie lang week breek Vrydagaand uiteindelik aan en is die huisdiertjies snoesig in hulle beddens verpak.
Buite daal die reëndruppeltjies al vir ‘n uur of wat neer.
Ek sak met daai lekker diep sugte van nou’s-dit-my-tyd op die bank neer en wag dat die video terugdraai terwyl ek deur ‘n tydskryf blaai.
En dan beweeg daar ‘n ding uit die hoek van my regteroog nader. ‘n Grys waterige ding wat vinnig aankom. Ek versteen. Ek stol. Ek kan nie glo nie. Want onder deur die voordeur breek mini-brandertjies oor my mat. Brandertjies wat geleidelik in tsunami’s verander en my uit my sitplek laat opskiet om my kinders te gaan red.
Dis verstommend hoe jou brein terselftertyd kan stilstaan én oortyd werk. In vyf sekondes is die kragproppe af en uit en hoog gelig, die hi-fi van die vloer opgetel (onthou ek doen die Zen-ding van minder is meer) en in die kas gegooi (ek hoop hy werk nog), die kindervideos bymekaar geraap en bo-op die yskas gedruk, foto-albums, notaboeke, storieboeke gestapel, jassies uit die ander kas gegryp, die sleutels op standby gekry en die ou handsakkie met die kopkaarte en die pond oor die skouer geslinger.
En de water komen.
Hygend probeer ek in ‘n sagte dog dringende stemtoon die kinders uit die slaap lig.
“Word wakker, Liefie! Ons moenie in die huis bly nie, want die reën is besig om in te spoel,” fluister ek erg benoud by die man van die huis se oor.
Boeta sit dadelik regop en pluk sy parka aan. Ek sien aan sy houding hy maak klaar planne om nié die huis te verlaat nie sodat ons “avontuur kan hê en omdat hy nog altyd wou sien hoe dryf ‘n sitkamerbank in die gang af.”
Maar die ma van die huis begin stres want die water kom nou al uit die badkamer gestroom en die jongste is nog vas aan die slaap.
“Milan, word wakker, Milan!” Ek fluister nie meer nie en skud die dikbek avonturier se suster heen en weer.
Maar die suster slaap. En die water kom.
Teen die tyd dat ons enkeldiep in die water staan, is ek regtig benoud, want die slapende kind is loodswaar en ek het te min hande vir handsak en sleutels en jasse oor koppe.
Toe verloor ek dit.
“MAGTAG-MILAN-STAAN-OP-ONS-GAAN-VERDRINK!” skree ek bo die gesuis op die dak.
Sy lig haar kop so effens en sê slaperig: Gaan julle solank, ek gaan nog so ‘n bietjie lê.
Kind oor die skouer, kind aan die hand maak ek die voordeur oop en my hart skiet deur my keel toe die vloed van buite binnestroom.
My motor staan amper halflyf in die water en met ‘n groot gedruis en ‘n gespat jaag ons tot by die Skoonsuster.
Soos altyd is dié die rustigheid en besorgdheid vanself en word ons in die tuinwoonstel ingerig.
Toe ek en die kinders warm en droog in die bed lê, sukkel ek om aan die slaap te raak.
Want as dié aand vir my nie ‘n lekker ervaring was nie, hoe het die mense wat nêrens gehad het om te gaan nie, wat nie betyds kon red wat te redde is nie, dié aand oorleef.
Hoeveel paniek is dié aand nie oor die hele Windhoek gesaai nie? Hoeveel kinders het honger en nat die nag deurgesien?
En ek is dankbaar uit die diepte van my hart.
Vir die mense wat nog omgee en vir die mense wat altyd bereid is om te help.
En as die ooms en tannies met die boererate kan help, laat weet, want daai matte van my het ‘n wrede klank en ek is seker dis paddastoele wat daar in die sitkamer opkom…