|
Ek skakel die anderdag 'n Vername Handelaar en vra of hulle vloerpoleerders
verkoop.
Ai, kou en proes die man in my oor, bel so oor tien minute terug? Hy is nou
op lunch.
Ek laat val die telefoon. Dis twintig voor vier op 'n Maandagmiddag. Maar ek
tel toe die tien minute af en bel weer. Dieselfde man is skielik nie meer
daar werksaam nie. Was nog nooit.
Ek slaan my voorkop ritmies en aanhoudend teen my lessenaar vas. Maar die
poleerder moet vandag nog aangekoop word en ek sal maar net weer die
nommertjie moet probeer.
Geduldig stel ek my probleem terwyl die vrou aan die ander kant gelyktydig
gaap en 'n chappie kou. Tussen die tandeklappery deur kry ek darem 'n
reaksie.
"Nou hou aan," en sy gooi die foon neer.
"Jimmy! Wasie polishers? Waa’?" Jimmy antwoord dofweg in die agtergrond.
"Ok!" skree sy terug. Toe gesels sy eers vir 'n minuut of twee met iemand
anders en tel toe darem weer die verinneweerde foontjie op.
"Hallo?" vra sy. Ek haal diep asem en sê ek hou nog aan, dankie. "Vir wie?"
wil sy verbaas weet. Ek stik in my neus en kners deur my tande. "Die
poleerder, onthou jy?"
Die keer is dit te veel moeite om eers die gehoorstuk neer te smyt. Sy gil
sommer vir my en vir Jimmy gelyk. "Wie sallie polishers loop soek? Hierrie
vrou is nou moeilik!" En ek wonder of sy regtig besef hóé moeilik die vrou
nou is. Toe sit sy die foon in my oor neer.
Trane van frustrasie en skok stroom oor my wange en ek moet eers badkamer
toe hardloop om my make-up te red en my geswolle oë af te koel.
Toe probeer ons weer, maar dié keer soek ek die bestuurder. Onnatuurlike
vrolikheid begroet my met "en waarmee help ons, Mevroutjie?"
"Ek soek 'n poleerder en niemand wil my help nie," stotter ek .
"P-o-l-e-e-r-d-e-r? Die ding waarmee jy vloere blink maak? Help?"
Die behulpsaamheid strek.
"Ag, geen probleempie nie. Ek hardloop sommer gou en gaan kyk vir Mevroutjie,"
en daar klap sy tone in die gang af. Soos blits is hy terug en stel dan die
blink keuse aan my.
"Mevroutjie, ons het Cobra teen 15 dollar 'n blik en One Step teen 16
dollar. Watter enetjie sal dit wees?"
Mevroutjie tel haar stapler op en gooi hom teen die muur stukkend. "Dankie
vir u moeite en tot siens", beëindig sy heel hees en met stokstywe lippe die
oproep.
Ek gaan staan in die middel van die redaksievloer en skree vir dié wat wil
hoor:
"Dames en here, 'n poleerder is 'n dikwels raserige en harige ding wat onder
meer koshuisgange en hospitaalvloere opvryf. Jy gebruik politoer om die
storie aan te help.
'n Poleerder het 'n handvatsel en pas nie in 'n blikkie nie. Hy werk met
elektrisiteit en gewoonlik het hy twee of meer borseltjies aan sy onderkant.
Die sal jy sien as jy hom op sy ruggie neerlê.
"Politoer kan saamgesleep word duine toe sodat jy jou duinebord gevaarlik
glad kan skuur. Dit sal egter onprakties wees om jou poleerder teen die
sandheuwels op te dra, want jy gaan ietwat belaglik lyk en by the way, waar
wil jy hom inplug?
"Sou 'n familielid jou tot waansin dryf, kan jy met 'n geruste hart die
betrokke persoon met 'n politoerblik gooi, maar sou jy dieselfde aksie met
jou poleerder uitvoer, sal jy weliswaar van poging tot moord aangekla word.
En wie het anyway sulke sterk arms? Sê my, sê my?" Hande op die heupe swaai
ek my kop uitdagend heen en weer. Duidelik was die lessie in
verkoopstegnieke onsuksesvol en ek gaan sit uitasem agter my bebloede
lessenaar (onthou die voorkop?). Al het nie een redaksielid eers opgekyk
tydens die tirade nie, voel ek stukke beter.
En hoogs beïndruk met myself weet ek sarkasme sal my nog ver bring.
Al het die baas nog steeds nie 'n poleerder nie.
|
|