Mnarani Club 9 tot 16 Augustius 2009 |
||
Vir fotos gaan kyk by:
http://peterjasie.shutterfly.com
|
||
Voorbereidings Ons beoog al jare om Kenya te gaan besoek. Ons sien toe op die QVC webwerf (www.qvc.co.za) dat Mnarani een van die oorde is waar ons kon gaan vakansie hou en net daar besluit ons dat ons volgende vakansie daar gaan wees. Eerste op ons lys was om te bespreek. Een oproep ACT Travel toe was al wat nodig was, nou kon die groot beplanning begin. ACT het ons waardevolle inligting verskaf en ons het sommer dadelik gereël vir geelkoors inspuitings by die plaaslike reiskliniek. Die dokter beveel toe sommer aan dat ons tetanus asook polio inspuitings kry, almal geldig vir 10 jaar. Suid-Afrikaanse burgers het nie visums nodig vir Kenya nie. Volgende op on lys was reisversekering en ‘n vinnige besoek aan Flight Centre en ons het die nodige dekking gehad. Ons volgende problem was parkering, ons vind toe uit daar daar lang termyn parkering teen net R25 per dag nie vêr van O R Tambo lughawe was nie. Daar is ‘n busdiens wat elke paar minute gratis tussen die parkeerarea en die lughawe loop, so ons parkeerprobleem was ook opgelos. Ons het by Makro 100 balpuntpenne gekoop, om aan die kinders in Kenya uit te deel, dit was baie populêr toe ons Vic Valle toe was en ons was oortuig dat dit in Kenya ook gretig aanvaar sou word. Toe begin ons ons ‘Huiswerk” doen. Ons het soveel moontlik op die internet gesoek na inligting oor die plekke wat ons sou besoek, hoe om daar te kom en wat om te doen. Die dokumentasie van QVC was ook ‘n myn van inligting en ons het naderhand gewonder of een week genoeg sou wees om alles te kon ervaar. Ons het seker gemaak dat ons kamera batterye gelaai was en dat ons genoeg geheuekaartjies gehad het om sommer baie fotos te neem. Ons het ook vir ons die regte 3 punt kragprop aangeskaf (soortgelyk aan die wat in Engeland gebruik word) sodat ons ons elektroniese toerusting in Kenya kon gebruik of herlaai. Die skootrekenaar het natuurlik saamgegaan sodat elke dag se fotos afgelaai en verwerk kon word. Ons verkies om dit daagliks te doen angesien dit ‘n baie groot taak is as mens dit eers wil doen as mens weer tuis is. Intussen het ACT ons eKaartjies per epos an ons gestuur en ons was reg vir ons groot avontuur. Ons het ook seker gemaak dat ons paspoorte geldgi was vir ten minste 6 maande na ons besoek aan Kenya. Die reis Mnarani toe Laatmiddag die 8ste Augustus 2009 het ons ons motor by die langtermyn ACSA parkering parkeer en een van die busse geneem wat gereeld tussen die lughawe en die parkering loop. By O R Tambo aangekom was ons te vroeg om in te teken en ons het toe eers ‘n lekker burger by een van die kitskosplekke geniet. By die beheerpunt waar ons ons tasse moes inhandig vir Kenya Airlines, moes ons verneem dat die maksimum gewig per tas 30 kg was en nie 20 kg soos ons vertel was nie, dit het beteken dat ons nou addisionele kapasiteit gehad het vir moontlike aandenkings was ons in Kenya kon koop. Presies om 00h50 het die liggies van Johannesburg onder ons in die nag verdwyn, ons reis het nou amptelik begin. Die kos wat bedien was, was redelik goed volgens lugdiens standaarde en die vlugpersoneel was baie vriendelik. Die vlug Nairobi toe neem drie en ‘n half uur maar omdat Kenya een uur voor ons is, het ons om 05h30 Kenya tyd op Yomo Kenyatta lughawe in Nairobi neergestryk. Paspoort en doane prosedures was geen probleem nie en sommer gou gou was ons in die Binnelandse terminaal waar ons tot ons ontsteltenis verneem het dat ons vlug vertraag was. Na ‘n uur se ongeduldige gewag was ons weer in die lug vir die 40 minute vlug Mombasa toe. Omdat dit ‘n binnelandes vlug was, was dit by Mombasa net vir ons nodig om ons tasse te kry en toe vir die Mnarani Klub verteenwoordiger te soek was ons na ons eindbestemming sou neem. Ons is baie vriendelik verwelkom en na ons asook ‘n paar ander gaste wat ook op ons vlug was ons plekke in die bus ingeneem het, was ons oppad Mnarani toe, uiteindelik ons eindbestemming. Mnarani is net 65 km van die lughawe af, maar die reis het ons net meer as 90 minute geneem. Al was dit ‘n teerpad, was dit baie stamperig, het my aan Elvis se “All shook up!” liedjie laat dink. Dan was daar ook erge verkeer wat onder andere uit groot trokke, wat dit bygaans onmoontlik gemaak het om verby te gaan, asook ongeduldige taxibestuurders wat net nie wou wag nie en kanse gevat het. Alle lof aan Omar, die busbestuurder, wat baie goed asook veilig bestuur het. By die oord aangekom is ons hartlik deur Hein, die oordbestuurder, en sy vrou, Babsie verwelkom. Oor ‘n glasie vrugtesap is ‘n paar administratiewe takies afgehandel en is ons na ons kamers vir ‘n lekker stort en ‘n uiltjie knip om verlore slaap in te haal. Die oord Alhoewel ons moeg was na die lang reis was daar geen manier wat ek wou gaan rus nie, ek glo nie daarin om daglig ure te mors as ek met vakansie is nie. Ek het my kamera gevat en besluit om die oord te gaan verken. Mnarani Beach Club is gelee op die kranse naby Kilifi en het ‘n pragtige uitsig oor die baai en ook die Indiese oseaan. Die hele eindom bestaan uit lowerryke inheemse tropiese plantegroei wat die oord ‘n rustge atmosfeer gee. Die groot hoofgebou se dak is gedek met wat lyk na palmtakke en blare. Die oopplan sit en eetkamer kyk uit oor die groot kristalhelder swembad. Rondom die swembad is sambrele en dekstoele wat die plek ‘n permanente vakansie atmosfeer gee, en dis presies wat dit is. Die oord het ‘n winkel waar mens aandenkings kan koop asook billike internet fasiliteite vir die gaste. Alles het ‘n mooi uitsig oor die baai, hulle noem dit hier ‘n “creek”. Ons het in die aande voor ete rustig met ‘n drankie gesit en met die ander gaste gesels . Ons kamer was ruim en ons kon op die balkon sit en oor die baai uitkyk. Ons vakansiepakket het ontbyt en aandete ingesluit, en ons het gevind dat dit meer as genoeg was. Beide etes is in die buffet styl met ‘n wye keuse. Mens moet mooi beplan wat jy eet, want ek is seker dat jy in net een week sommer heelwat gewig kan optel. Die kos is uit die boonste rakke, jy wil letterlik elke dis probeer. Dis toe reeds wat ek gedoen het toe ek uitvind dat nagereg my gunsteling was, brood en botter poeding. Ek moes toe maar plekmaak daarvoor ook. Die volgende oggend wou ons poskaarte gaan koop, en ons het toe die twee kilometer Kilifi toe gestap. Kilifi is die dorpie net oorkant die rivier en binne twintig minute was ons daar. Dis ‘n tipiese Afrika dorpie, baie besig en redelik armoedig. Ons is terug Mnarani toe in ‘n TukTuk, een van daardie driewiel motorfietse. Nogal heel interessant. Samira, wat in beheer was van gaste vermaaklikheid, het toe vir ons van al die aktiwiteite wat beskibbaar is vertel. Ons het baie gou agtergekom dat mens nooit alles in een week sal kan doen nie, en ons het toe op ‘n uitstappie na ‘n reptielpark en plaaslike ruines besluit. Ook op ‘n uitstappie na Malindi wat snorkel sou insluit. Dan ook vir later die week bespreek vir ‘n sonsondergang vaart op die rivier. Daarna het ons al op die oewer van die baai gaan stap tot waar dit in die see uitmond. Met laagwater trek die water terug en dan verskyn ‘n spierwit strand waar mens me kan loop tot waar die in die see uitmond. Die stappie het ons warm en dors gemaak en na ‘n yskoue koeldrank het ons in die swembad gespring. Selfs na aandete elke aand is daar iets op die program, daar is plaaslike musikante, dansers, ‘n kulkunstenaar, bingo en ander speletjies. Elke dag is daar ook ‘n volledige aktiwiteitsprogram om die energiekes besig te hou. Jy kan egter ook net lê en ontspan by die swembad of op die private strand, die keuse is joune. As jy teen daardie tyd al moeg is van die dag se aktiwiteite, kan jy maar net sit en kyk hoe die maan oor die baai opkom, ‘n gesig om nie te mis nie. Die oord het selfs sy eie private strand. Mens klim met trappe van die oord af en daar onder begroet ‘n strand jou wat die skoonste, witste sand het wat ek nog gesien het. Daar is dekgras sambrele, dekstoele en ‘n strandkroeg waar jy verversings kan koop. Al die wateraktiwiteite vind van daar af plaas. Ons pakket het alle nie-gemotoriseerde aktiwiteite ingesluit, so ons kon katamaran seil, kano roei, en selfs visvang, heeltemal gratis. Die uitstappie na die reptielpark en ruines was heel interessant. Dis was sommer naby die oord en ‘n hele paar gaste het sommer soontoe gestap. Die roete was deur een van die armer dele van Kilifi en ons kon sien dat armoede regoor Afrika voorkom. Daardie aand, na nog ‘n smulllekker ete is ons sommer vroeg in die kooi waar ons soos babas geslaap het. Die volgende oggend het ons bespreek vir die Malindi uitstappie. Die groot aantrekkingskrag sou snorkel wees. Malindi is ‘n kusdorpie om en by 60 kilometer Noord van Kilifi. Oppad soontoe het ons deur tipiese Keniaanse platteland ry en sien hoe hulle woon en lewe. By Malindi aangekom het ons by ‘n plaaslike hotel gaan verklee en is toe strand toe waar ons aan boord ‘n boot met ‘n glasbodem gegaan het. Ons is na ‘n rif om en by ‘n kilometer die see in geneem. Die rif was deel van ‘n marine park en was dus ‘n beskermde gebied. Ons het na hartelus gesnorkel en die groot verskeidenheid visse besigtig. Mede vakansiegangers wat al regoor die wereld gesnorkel het, het opgemerk dat die see hier helderder en daar ‘n groter verskeidenheid visse was wat hulle al teëgekom het. Ons is daarna terug na die hotel in Malindi toe vir middagete. Oppad terug oord toe het ons ‘n fabriek besigtig waar hulle tipies Keniaanse houtsneewerk en ander aandenkings gemaak het. Hiervandaan word die aandenkings dan wereldwyd versprei. Uitgeput na ‘n lang maar opwindende dag het ons by die oord aangekom, net betyds vir ‘n lekker stort voor ons aandete genuttig het. Elke aand na aandete het hulle een of ander vermaaklikheidsprogram vir die gaste. Ons was egter te moeg daarvoor en het direk na aandete elke aand in die bed gaan spring en soos dooies geslaap. Die volgende dag was daar nie ‘n spesifieke uitstappie beplan nie. ’n Paar van ons het toe besluit om die 2 kilometer na Kilifi te stap. Ons wou water daar koop en sommiges wou ook kontant by die OTM’s trek. Tot ons ontsteltenis kon die van ons met kredietkaarte nie kontant kry nie, maar met debietkaarte was geen problem nie. Ek het ‘n nota gemaak om dadelik vir my ‘n debietkaart te kry, al was dit net vir ingeval. Dit word sterk aanbeveel dat die water in Kenya nie gedrink word nie, die hotel verskaf elke dag ‘n gratis bottel water per kamer vir drink of tande borsel. Oppad terug hotel toe het ‘n tipiese tropiese reenbui ons getref, ons was binne sekondes papnat. Binne minute was dit alles verby en ons het lekker verfris gevoel. Na ‘n lekker middagete (buffet en A la Carte was beskikbaar) het ons toe maar die middag verder rustig verkeer. Vir aandete het hulle al die tafels rondom die swembad gerangskik en ons het in ‘n romantiese atmosfeer met kerslig reg langs die swembad aandete geniet. Twee plaaslike musikante het tussen die tafels deurbeweeg en met kitaarbegeleiding vir ons gesing. Weereens soos klippe geslaap daardie aand. Vir ons was daar drie hoogtepunte by Mnarani. Die kos, die groot silwerskoon swembad en hulle private strand. Hoe aangenaam is dit tog nie om ‘n hele strand net vir jouself en ‘n paar ander gaste te kan geniet. Ons het ons tuisgemaak onder een van die dekgras sambrele en op gamakstoele met matrasse op. Alle nie-gemotoriseerde aktiwiteite is gratis en sommer gou het ons op en af gaan roei in hulle kano’s. Toe het ons gaan snorkel en was verbaas om die hoeveelheid en ook verskeidenheid van vis reg by die strand te kon aanskou. Sommige gaste het visgevang van die pier af, ander het op die katamaran geseil en ‘n paar avontuurlustiges het probeer om te “windsurf” . Na middagete het ons reg by die hoof hek van die oord oor die pad gestap en nog ‘n paar aandenkings gekoop. Ons het gevind dat die aandenkings hier veel goedkoper is as wat mens dit by vlooimarkte tuis kon koop. Meeste aandenking word tog immers in Kenya vervaardig. Die res van die middag het ons rustigby die swembad verkeer Voor aandete die aand is ons trakteer met tradisionele sang en danse, ‘n wynproe van plaaslike wyne en ook ‘n dansvertoning van ‘n plaaslike dansskool. Danse het gewissel van ballet tot Crump. Aandete het bestaan uit ‘n verskeidenheid Indiese disse. Ons vakansie het nou vinnig einde se kant toe begin staan. Die Vrydagmiddag het ons bespreek vir die “mangrove cruise” op die oord se “pontoon”. Die oggend het ons luilekker op die strand deurgebring en geroei en gesnorkel. Die “mangrove cruise” was heel interessant, ons kon stadig die rivier opvaar, die omgewing aanskou en sommer lekker met mede vakansiegangers gesels. Die sonsondergang oor die rivier was iets besonders. Ons laaste dag het ons by die strand deurgebring, geroei, gesnorkel en net lekker gerus. Later die middag het ons gepak aangesien ons baie vroeg die volgende oggend al per bus na Mombasa lughawe vervoer sou word. Ons is om 02h30 wakker gemaak, die bus het stiptelik om 03h30 vertrek. Gelukkig was die pad daardie tyd van die oggend stil en ons het voorspoedig gery. By Mombasa lughawe aangekom het ons probleme begin. Kenya Airlines se personeel was op ‘n staking an alle vlugte was genakselleer. Dit was chaos op die lughawe. Vyf ure later was daar ‘n vlug beskikbaar Nairobi toe. Daar was dit eers chaos. Om ‘n lang storie kort te maak, ons kon toe uiteindelik ‘n SAL vlug kry en het 12 uur laat tuis gekom. Alles deel van in baie interessante vakansie! Dit was ‘n besonderse vakansie. Volgende keer sal ons die pakket vat wat beide Mnarani as Serengeti insluit sodat ons van Kenya se wild ook kan gaan besigtig. Vir die prys is die vakansie ‘n winskoop, ek kan dit met vrymoedigheid aanbeveel. O ja, ek het my voorgeneem om met my volgende besoek te leer om die katamaran te seil! Wenke Ons het Rand in kontant gevat en by Nairobi van dit geruil vir Kenya shillings teen ‘n koers van KSH7.5 vir ‘n Rand. By die hotel het ons Rand geruil teen KSH8. Ons het ook krediet en debietkaarte saamgeneem net vir ingeval. Mens teken vir alle uitgawes by die oord en betaal dan aan die einde van die vakansie. Ons het inkopies en aandenkings met Shillings betaal. Kry jou geelkoors inspuitings ten minste 10 dae voor julle vertrek. Neem die minimum klere saam,jjulle gaan vir seker nie truie nodig hê nie. Ons totale uitgawe per persoon was minder as R1500, uitstappies ingesluit. As mens die koste van die pakket in ag neem (R7000 alles ingesluit) is die koste van die vakansie baie billik. Gooi die taal: Jambo = hallo Karibu = welkom Asante = dankie Asante sana = baie dankie Pole pole = stadig stadig Harake harake = vinnig Habari = hoe gaan dit Mzuri = dit gaan goed Hakuna Matata = geen probleem |
||