|
||
26 Mei tot 2 Junie 2007 |
||
Klik hier om na my fotos te gaan kyk. |
||
Mosambiek – na Sikloon Favio Mosambiek – ek dink aan dié land en beelde van burgeroorloë, landmyne, verspoelings, en korrupte verkeersamptenare flits voor my verby. As ek egter meer positief dink, is die herinnerings meer aangenaam; die treffersparade Sondagaande op LM Radio, Lourenco Marques, die ou Polana hotel, LM garnale en van die mooiste strande in Afrika. Dit is dus met gemengde gevoelens dat ons Sondagoggend, die 27ste Mei 2007 by die Lebombo grenspos opdaag. Ons wik en weeg al vir jare om Mosambiek te besoek. Die reis het werklikheid geword toe ‘n skoolvriend van my vrou, wat ‘n vakansieoord in Inhambane by Praia de Barra besit, ons uitgenooi het om by hulle tuis te gaan as ons ooit sou besluit om in Mosambiek te gaan vakansie hou. Dit was ‘n aanbod wat ons nie kon weier nie en ons besluit toe om sommer van die geleentheid gebruik te maak en ook ‘n bietjie verder Noord by Vilanculo vir ‘n paar dae te gaan kampeer. Van ons vriende was huiwerig om die land te besoek na die onlangse storms en vloede en ons wou vir onsself gaan seker maak of die skade al herstel is, aldan nie. Sikloon Favio se trefpunt was juis Vilanculos en dis waarheen ons oppad was! My vrou en ek het die vorige aand by ons gunsteling oornagplek in Nelspruit, die Formula 1, oorgeslaap. Die Formula 1 is skoon, gemaklik en die prys van R264 per kamer per nag is net mooi sakpas. Douvoordag het ons die pad gevat Mosambiek grens toe met die idee om net voor 6 daar aan te kom om sodoende die oorgang so pynloos en spoedig moontlik te maak. Ons het by een van die vulstasies net voor die Lebombo grenspos volgemaak en ook by een van die swartmense daar Rande vir Meticais omgeruil teen ‘n koers van 3.6 tot die Rand. By tolhekke in Mosambiek aanvaar hulle Rande, Meticais en US Dollars maar jy kry net kleingeld in Meticais. Mens kan brandstof ingooi met Meticais, Rande en op sommige plekke met jou Visa kredietkaart. Toe ons net na 6 by die grens aankom, moes ons tot ons ontsteltenis agterkom dat daar alreeds omtrent 100 motors voor ons in die tou was, en ons het baie stadig vorentoe beweeg. Ek beveel aan dat mens jou reis beplan om liewer 7 uur op die grens aan te kom, dan is meeste van die reisigers al geholpe en Mosambiek binne. Terwyl ons in die tou gewag het, het ons sommer by ‘n verkoper ‘n Mosambiekse selfoon simkaart gekoop. Dit is iets wat ons altyd doen as ons naburige lande besoek, dit vergemaklik kommunikasie met die mense tuis. Uitendelik was ons voor in die tou en in ‘n japtrap is die formaliteite aan die Suid Afrikaanse kant afgehandel. Vriende van ons het vir ons die foonnommer van ‘n “helper” aan die Mosambiekse kant van die grens gegee. Hy het ons ontmoet en net mooi alles vir ons gedoen vir ‘n geringe fooi. Definitief die moeite werd. Een en ‘n half uur nadat ons by Lebombo grenspos aangekom het was ons op pad. Ons bestemming was Palm Grove Lodge by Praia de Barra, Inhambane, wat aan ons vriende behoort. Die pad tot by Xai Xai was baie mooi en ons het redelik goed gevorder. Ons is egter met gereelde tussenposes deur polisie gestop maar ons is dadelik weer laat gaan sonder om ons deur te soek. Ons het ook twee spoedlokvalle teëgekom, maar gelukkig het ons die verkeersreëls gehoorsaam. Oppad was daar gereeld klein gehuggies wat veroorsaak het dat ons moes spoed verminder tot 60 km/h, mens is net weer op spoed, dan is dit weer sulke tyd, baie frustrerend. En toe kom die nagmerrie, die eerste stuk pad net na Xai Xai. Dit was seker die swakste stuk teerpad wat ek in my lewe gery het. Vir naastenby 80 kilometer was dit net slaggate en verspoelings. Dit was tog te snaaks om aankomende verkeer soos ‘n slang oor die pad te sien vleg soos hulle gate probeer ontwyk. Die stuk pad het ons beplande aankomstyd met meer as ‘n uur vertraag. En toe, ewe skielik, verander die pad in een van die mooiste teerpaaie waarop ons nog gery het. Daar was weer glimlagte in plaas van fronse! Die glimlagte was egter van korte duur want die pad tussen Inhambane en Praia de Barra was weer vrot van die slaggate en die laaste stuk grondpad was baie sleg verspoel en dit moes met kruipspoed aangepak word. Groot was die verligting toe ons uitendelik ons bestemming bereik. Die oord se naam, Palm Grove Lodge is toe heel gepas. Huisvesting is in grasdakhuisies met gevlegte riet mure, geleë in spierwit sand en omring deur palmbome. Van agter ‘n sandduin, minder as ‘n minuut se stap weg, het ons die geruis van die see gehoor. Nodeloos om te sê, het ons dadelik afgesit water toe om ons voete op die sand en in die lekker warm seewater te gaan lawe. Die aand het ons in die restaurant gaan eet en met van die ander vakansiegangers kennis gemaak. Ons het toe ook uitgevind dat Inhambane minimale vloed of stormskade opgedoen het, behalwe natuurlik dat party van die paaie nogal erg verspoel het. Die vakansieoorde is egter ongeskonde. Na ‘n heerlike nagrus is ons die volgende oggend reeds voor sonop op die strand sodat ons die son oor die see kon sien opkom. Na ontbyt net ons weer die pad Inhambane toe aangepak. Ons het gehoor dat mens met ‘n dhow, ‘n tipe seilboot, na die dorpie Maxixe, aan die anderkant van die baai sou kon vaar, maar aangesien dit ‘n windstil oggend was, het daardie plan skipbreuk gely. Ons is toe na die plaaslike mark toe om groente te koop, maar die taalkwessie was ‘n groot probleem. Die plaaslike mense het nie Engels verstaan nie en ons natuurlik ook nie Portugees nie. En toe, uit die bloute uit, verskyn daar ‘n klein swart seuntjie, met die naam Johan van der Merwe (of altans dis hoe hy homself bekend gestel het), en boonop praat hy toe nog Afrikaans ook! En net daar is al ons probleme opgelos! Nodeloos om te se, toe ons afskeid neem het ons hom ‘n vet fooitjie in die hand gestop! Later die middag, terug by Palm Grove Lodge, het ons vir ‘n lang ent op die skoon, wit strand gaan stap. Van die plaaslike vistermanne het met hulle vangste teruggkeer en aan die plaaslike bevolking vis verkoop, sommer so op die strand. Na ‘n goeie nagrus was ons weer dou voor dag op die strand vir ‘n lekker lang oggendstappie. By ons terugkeer het van ons mede vakansiegangers vertel van ‘n nare ondervinding wat hulle oppad hierheen gehad het. Twee mans in kamoufleer uniforms het hulle gestop en aangedring dat hulle ‘n R1000 boete betaal, waarvoor wou hulle nie sê nie. Ons vriende het net R800 in kontant by hulle gehad en die twee is toe vort daarmee. By navraag is ons meegedeel dat mens net hoef stil te hou vir polisie en verkeersamptenare. Hulle dra almal donker broeke en wit hemde. Dit is net nodig om jou paspoort by die grensposte te toon, jy hoef dit aan niemand anders te toon nie.As enigiemand anders as bogenoemde jou wil beboet, vra dat hulle saamry na die naaste polisiestassie. Ons het gesertifiseerde afskrifte gemaak van ons paspoorte, bestuurslisensies en ID dokumente en ons toon die wanneer ons versoek word. Daardie middag is ons na Tofu, ‘n klein toeristedorpie omtrent 30 minute se ry van ons oord af. Tofu het ‘n baie mooi swemstrand en ook fasiliteite om duik en visvang uitstappies te reël. Ons het middagete geniet by The Waterworks, ‘n “Surf and Coffee Shop” bestuur deur Sarah en Gal, ‘n Britse paartjie wat hulle in Mosambiek kom tuismaak het. Die volgende oggend, die 30ste Mei, was dit weer ‘n perfekte dag in die paradys. Meer so vir my, want dit was my verjaardag. Die dag sou nog beter word, aangesien Dave, die oord se duikinstrukteur aangebied het om ons met sy “rubber duck” Pansy eiland toe te neem. Na ‘n vaart van om en by 30 minute was ons by Pansy eiland, wat eintlik niks meer was as ‘n groot sandbank nie. Die “sandbank” het egter sy naam gestand gedoen en tussen die agt van ons het ons oor ‘n honderd pansy skulpe sowel as ‘n verskeidenheid ander besonderse mooi skulpe opgetel. Na ons stappie op die strand die volgende oggend, is ons saam met vriende om die omgewing te gaan verken. Daar is ‘n hele paar oorde in ‘n ry al langs die kus, maar ons wou gaan kyk hoe lyk dit by die luukse en bekende Flamingo Bay Lodge. Dis ‘n baie besonderse oord wat spog met sy eie flaminke, vandaar die naam. Die riethuisies is op tipiese Maldives wyse in die water op pale. Inwoners word met gholfkarretjies na hul akkommodasie geneem op nou wandelpaadjies hoog bokant die watervlak. Daarna het ek en my vrou vir die eerste keer in ons lewens gaan snorkel. Nadat ons die asemhaling storie onder die knie gekry het, het ons ons gate uit geniet. My vrou het aanvanklik gesukkel en ‘n heel nuwe mening aan vlakwater snorkel gegee. Sy het dit reggekry om in 5cm water te snorkel!. Laat daardie middag is ons na Sunset Lodge om na ‘n wonderlike sonsondergang te gaan kyk, die perfekte einde aan ‘n perfekte dag. Ons laaste dag in Inhambane was weer ‘n mooi sonskyndag. Die oggend het ons die omgewing verder verken en by Tofu die slawe monument gaan afneem en ook die grot gesien waar mense gedurende die burgeroorlog met laagwater gelaat is om te verdrink sodra die gety ingekom het. Die middag het ons begin pak aangesien ons vroeg vroeg die volgende oggend na ons volgende bestemming, Vilanculo sou vertrek. Vroegoggend was ons oppad, net toe ons goed op dreef was met die baie mooi teerpad, tref ons weer ‘n 30 kilometer stuk stamperige, nou pad met nog meer slaggate. Ons was teen die tyd al heel vernuftig met die ge-slangetjie heen en weer in die pad om die gate te ontduik. Ons het natuurlik die afdraaipad na ons bestemming, Blue Water Bay by Vilanculo gemis. Die teken was aan die verkeerde kant van die pad en halfpad omgebuig so geen manier dat ons dit sou raaksien nie. In Vilanculo aangekom was daar geen aanduiding oor waar die oord was nie. Die plaaslike bevolking kon ons ook nie verstaan nie. Uiteindelik keer ‘n jong seun wat so op ‘n manier Engels kon verstaan ons voor en sê hy sal ons na die oord neem. Hy vat ons toe met ‘n pad wat net as ‘n sandspoor beskryf kan word. Ek het nie geleentheid gehad om banddruk te verlaag nie en ons het maar vir die beste gehoop. Ek het geweet dat solank ons momentum behou ons dalk nie sou vassit nie en so sukkel sukkel was ons uiteindelik daar. Die oord het heel skaflik daaruit gesien. Al die rondawels wat met die sikloon beskadig is, is reggemaak en die kampplek het ook goed gelyk. Ons het egter besluit om nie te kampeer nie en het besluit om liewer in een van die rondawels tuis te gaan. Ons is meegedeel dat daar ‘n beter pad na die oord is en ons is toe met dié in dorp toe om brandstof te kry en ook om vir die volgende dag ‘n dhow reis na een van die nabygeleë eilande te bespreek. Die een vulstasie het nie loodvrye brandstof gehad nie maar gelukkig het die ander vulstasie voorraad gehad en ons kon volmaak. Die “beter pad” was toe nie veel beter nie en ook maar net ‘n sandspoor. Ek raai enigiemand af om met sy sedanmotor na die oord toe te gaan. Intussen het ons rondgevra en ons is meegedeel dat meeste van die strandoorde alweer in besigheid is na die storms en vloede van vroëer die jaar. Die oorde op Benguerra- en Bazoruto-eilande was volgens die inligting aan ons verskaf, nog nie in besigheid nie. Volgens die oord bestuur is daar heelwat om mens mee besig te hou in Vilanculo. Jy kan op ‘n dhowvaart gaan, snorkel, op ‘n vaart na die nabygeleë eilande gaan, visvang, die plaaslike mark besoek, of net ontspan en rus. In alle geval, die aand word ons wakker met die gedreun van donderweer en reën op die dak, en ons besluit net daar en dan om vroeg die volgende oggend huiswaarts te keer. Net voor vyf is ons in die pad, of liewer die sandspoor. Op ‘n stadium is ons nie seker van ‘n afdraaipad nie en ons hou stil, en net daar sit ons in die sand vas! In die reën verminder ons toe die banddruk en grawe van die sand weg en daar trek ons weer. Later die middag kom ons op die grens aan waar honderde mense en voertuie in lang toue steen en wag. Ons sien al klaar dat ons vir ure daar gaan opgehou word. Gelukkig het ons die foonnommer van die “helper” wat ons met die inkomslag gehelp het, maar hy antwoord nie sy foon nie. Skielik klop daar iemand aan ons motorruit en hy stel homself as Chico voor, en hy bied aan om ons te help. Ons besluit om hom te vertrou, stop hom R200 in die hand en hy is vort met ons paspoorte. In minder as 10 minute is hy terug en nadat ons hom nog ‘n fooitjie gegee het is ons op pad. Aan die Suid Afrikaanse kant gaan dit ewe vinnig en ons vat die pad huistoe. Ons sal vir seker weer teruggaan Mosambiek toe, maar volgende keer net tot by Inhambane en Praia de Barra met sy mooi wit strande en palmbome. April tot Junie is die beste tyd om te gaan, in Julie begin die wind bietjie lastig word. Hulle reken dit word nogal warm in Desember.
|
||
Hier is die
foonnommers van die "helpers" wat ons by die Lebombo grenspos gehelp het -
Besonderhede van Palm Grove Lodge, waar ons by Praia de Barra, Inhambane, tuisgegaan het: Palm Grove Lodge |
||