|
Lees: Romeine 6:1-23
Ons druk ons ore toe as ons in die moderne tyd van slawe hoor - dit bestaan
mos nie meer nie!? Tóg is dit ‘n werklikheid - ‘n afgryslike werklikheid, en
selfs in Suid-Afrika hoor ons af en toe van mense - veral jong meisies - wat
as slawe aangehou word en gedwing word tot ‘n aaklige lewe van prostitusie.
In Paulus se tyd was slawerny natuurlik ‘n baie algemene ding. Daar word
beweer dat daar in Rome meer slawe was as vry mense. Die arme mense het
absoluut geen wetlike regte gehad nie, en hulle eienaars kon met hulle maak
nét wat hulle wou. Hulle is uitgebuit tot die uiterste, mishandel,
gekastreer, en die eienaar kon selfs sy slaaf doodmaak as hy vir hom ‘n
oorlas raak. En as die slaaf ongehoorsaam was, dan was lyfstraf, die
doodstraf sy voorland, of hy kon verkoop word as ’n prostituut, galeislaaf
of gladiator.
Daar is egter ook ’n ligter prentjie in die saak. Daar is gevalle bekend
waar Romeine hulle slawe soos eie kinders behandel het en selfs skatryk
geërf het, of waar eienaars hulle slawe met baie hoë posisies in die
samelewing toevertrou het. Soms kon ’n slaaf homself vrykoop. Dit het ook
gebeur dat ’n eienaar sy slaaf sy vryheid gee, maar dat die slaaf dan
vrywillig in die eienaar se diens aanbly.
Paulus gebruik dan hierdie bekende situasie van slawerny om te verduidelik
van sonde. Ons kan sonde met reg sien as ’n wrede slawe-eienaar, en elke
mens is in hierdie baas se kloue en kettings totdat Jesus jou daaruit bevry.
Uit die vorige gedeeltes wat ons behandel het, kan ’n mens baie maklik van
die standpunt uitgaan dat God se genade genoegsaam is dat jy maar kan aanhou
met ’n sondige lewe nadat jy vrygespreek is - God vergewe mos! Ek is mos
gered - waarom moet ek die sonde los?
Kom ons vergelyk sonde met ’n tronk waar jy toegesluit is en waar jou lewe
deur die tronkowerhede beheer word met wette wat jy nie kan nakom nie. Omdat
jy nie die wette kan hou nie, wag jy op jou teregstelling, wat enige oomblik
kan kom. En dan stap Jesus in, en Hy vra vir jou of jy nie met Hom wil
plekke ruil nie. Jesus word uiteindelik wreed tereggestel (gekruisig) terwyl
jy by die tronkdeure uitstap - ’n vry mens! In die tronkregisters is daar
onder jou naam die aantekening: “Tereggestel” - dood! ‘n Wonderlike gevoel
van vrede daal oor jou neer, want jy het nou totale vryheid van hierdie
verskriklike tronk. Om dit op ‘n ander manier te stel: jy is dood vir die
sonde omdat Christus in jou plek gesterf het.
Die vraag is nou of jy dit ooit sal oorweeg om terug te gaan tronk toe as jy
op so ‘n wonderlike manier daaruit vrygelaat is? “Goeie môre meneer die
tronkbewaarder - ek kom net aanmeld - sluit my asseblief weer op!” Wat ‘n
gekke gedagte! Maar dit is presies wat ‘n mens doen as jy na jou redding
deur Christus maar net jou skouers optrek oor sonde, en weer daarin verval.
Dit is soos om die wonderlike vrede wat God jou gee op die ashoop weg te
gooi. In die musiekblyspel “My Fair Lady” sing die een ou kêrel dat die Here
versoekings gegee het om ‘n mens te toets, maar met ‘n klein bietjie geluk
val jy pens en pootjies binne in die versoeking as dit jou kant toe kom. Hoe
absurd!
Wanneer ‘n mens daardie dag uit die tronk van sonde bevry is, dan laat jy
die sonde en tronklewe agter. Moenie dat die tronkbewaarders (jou begeertes
en natuurlike geaardheid) jou steeds bly intimideer nie - hulle hoort in die
tronk! In Rome het daar ‘n verskriklike losbandigheid onder die mense
geheers, en die uitspattige maaltye en orgies waar mense net eenvoudig vrye
teuels gegee het aan enige begeerte, is tot vandag toe berug. Hierdie
dekadensie het uiteindelik gelei tot die val van die magtige Romeinse ryk.
Dit is hierna wat Paulus verwys in vers 19.
Redding in Jesus beteken ‘n radikale verandering in jou lewe, want jy is nou
nie meer ‘n werktuig of wapen van die sonde nie maar in diens van God.
Dikwels beteken dit oorlog in jou lewe om die luste wat vir jou voorgeskryf
word te beveg. Maar dit is nie ‘n hopelose geveg nie, want al val jy (in die
sonde), hoef jy nie te bly lê nie, want die tronk van sonde het nie meer ‘n
sê oor jou lewe nie - jy staan nie meer onder die wet nie. Christus het die
wet namens jou vervul, en nou kan jy opstaan en leef uit Sy genade - ‘n lewe
van oorwinning wat reeds deur Jesus behaal is.
Wat is die resultaat van so ‘n oorwinningslewe? As jy kies om die paadjie te
loop van terugval in die sonde, dan is daar ‘n salaris wat betaal word - die
dood! Kies jy egter ‘n “loopbaan” in diens van God, is daar eerstens vrugte
wat jou lewe dra - vrugte van dankbaarheid en heiligheid. Maar die
belangrike is dat die salaris wat jy “verdien” die ewige lewe is. Rom. 6:23
stel dit onomwonde, dat die salaris wat sonde betaal die dood is, maar dat
die groot geskenk wat God in Jesus Christus gee die ewige lewe is.
Gebed:
Here Jesus, hou asseblief my hand styf vas sodat ek nie val wanneer ek
struikel nie, en hou my oog gevestig op U alleen, sodat ek meer soos U sal
word, en U liefde al meer en meer in my sigbaar sal word.
|
|