|
Lees: Romeine 7:1-25
Die wet is ‘n vreesaanjaende, harde meester! “Wat ‘n verskriklike ding om te
sê!”, sou jy my dalk betig. Iemand skryf nou die dag vir my dat sy volgens
die tien gebooie geleef het, maar steeds onseker is oor haar saligheid. Hoe
kan enigeen volledig volgens die tien gebooie leef? Die Fariseërs van ouds
het 600 gebooie rondom die tien gebooie geweef, sodat jy nie dalk per
ongeluk ‘n gebod oortree nie. Ons moet nou net eers ’n sakie opklaar: die
Fariseërs was nie inherent slegte mense nie - hulle het baie hard gewerk om
volgens God se wet te leef, en ’n deeglike studie van die Bybel gemaak. Maar
daar was ander faktore wat hulle laat sneuwel het. Die feit is dat die tien
gebooie maar net ‘n baie breë raamwerk is van wat daar éintlik van jou as
mens verwag word, en as jy mooi gaan kyk na die diepere betekenis van
hierdie wet, dan kom jy agter dat dit ‘n reuse berg word waaroor jy nie kan
kom nie, al wil jy ook.
Paulus beskryf die wet aan die hand van ‘n huwelik, waar die man ‘n diktator
is, en die arme vrou vasgevang is in hierdie hopelose situasie waaruit sy
net eenvoudig nie kan kom nie. Sy word totaal gedomineer, en die man reël
haar lewe. Skei sy, en trou met ‘n ander man, dan is dit egbreuk, en dan
veroordeel die wet haar. Daar is slegs een manier om hieruit te kom, en dit
is as die man sou sterf, want eers dán is die vrou vry om ware liefde te
vind.
Die wet is in ‘n sekere sin dieselfde - dit domineer totaal jou lewe totdat
dit naderhand voel asof jy vasgevang is in ‘n wrede wet van reëls van “jy
mag nie dít nie en jy mag nie dát nie!”. Die dood is die enigste ding wat
jou uit hierdie wrede tronk kan red. Inderdaad het Christus namens jou
gesterf, en daarom is jy nou ‘n vry mens - bevry van hierdie monster van die
wet. In hierdie lewenshuwelik van jou is daar dan nou ook ‘n nuwe Bruidegom
- Jesus Christus - Hy wat jou ‘n volmaakte huwelik bied, vol goeie vrugte en
liefde. In hierdie huwelik word jy nie deur wette en reëls gedomineer nie,
en soos ‘n mishandelde vrou wat oplaas ware liefde gevind het, kan jy nou
vrede kry by God.
Nou ontstaan die vraag onmiddelik, of die wet dan so vreeslik sleg is. Is
die wet sonde? Inderdaad nee! Daar is niks met die wet verkeerd nie. Paulus
stel dit baie pertinent dat die wet ‘n onmisbare riglyn van ‘n gelowige se
lewe moet wees. As die wet nie daar was nie sou ‘n mens nie geweet het wat
reg en verkeerd is nie.
In hierdie deel van Paulus se brief gee hy ons nou so ‘n kykie in sy
persoonlike lewe en die dinge waarmee hy geworstel het, en dan sien ons dat
Paulus nie ‘n supermens was nie, maar ‘n doodgewone mens nes ek en jy, wat
ook maar met sonde geworstel het. Voor sy bekering was hy ‘n Fariseër wat
die wet tot in sy fynste besonderhede probeer nakom het as reddingsmiddel -
só gehoorsaam was hy, dat hy selfs daardie Christen-sekte wat die wet
bedreig het, wortel en tak wou uitroei. Paulus redeneer dat dit nie die wet
is wat die éintlike probleem is nie - die wet is nie sonde nie. Maar die
taak van die wet is om die sonde te ontbloot, en wanneer dit gebeur, dan
sien jy eers watter houvas die sonde werklik op jou lewe het. Sonde is
skrikwekkend: dit gebruik (misbruik?) die wet, wat inherent goed is, en
verslaaf jou deur aanhoudende oortreding van die dinge wat die wet voorskryf.
Dit bereik met ander woorde die slegte met behulp van die goeie.
Die tragiese is dat hierdie dinge ook in Paulus se lewe afspeel. Ons sien sy
diepe hartseer as hy dit uitsnik: “Ek, ellendige mens!” Hoe kan dit dan wees
dat ek elke keer by die slegte uitkom as ek die goeie wil bereik? Paulus se
verskriklike frustrasie en hartseer oor die sonde in sy lewe is ook die lot
van so baie gelowiges wat erns daarmee maak om voluit vir God te lewe. Ek
lees eenmaal van iemand by wie die beroemde Godsman, Andrew Murray, oornag
het. Die aand is huisgodsdiens gehou, en toe dit die vrome ds. Andrew se
beurt is om te bid, is daar ‘n stortvloed van boetedoening oor al die sonde
in sy lewe.
So, jy het gedink dat dit net jy is wat so met die sonde worstel? Nou kan jy
sien dat selfs veteraan-Gelowiges soos Andrew Murray en Paulus hierdie
worsteling beleef het. Maar wanneer Paulus dit uitsnik: “Wie sal my van
hierdie doodsbestaan verlos?”, dan verskaf hy sélf die antwoord: “Aan God
die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Ons durf die wet nooit weggooi of ignoreer nie, want dit is vir ons die
riglyn oor hoe God wil hê dat ons moet leef. Maar ons moet baie deeglik
besef dat die wet ons nooit kan red nie, en dat dit slegs God se
oorbluffende, allesomvattende, liefdevolle genade is wat ons van die verderf
kan red. Nou word die wet nie meer slawekettings nie, maar riglyne vir ‘n
lewe van liefde en dankbaarheid.
Gebed:
Dankie dat U my ook bevry het Here. Leer my om U wonderbare liefde
dag-vir-dag ten volle uit te leef uit dankbaarheid vir wat U vir my gedoen
het.
|
|