Meer as Oorwinnaars

 
 

Lees: Romeine 8:31-39

Dit was die jaar 1552 - ‘n volle 100 jaar voor Oorl’e Oom Jannie sy historiese voet aan die Kaapse kus geplant het. Twee Portugese skepe, die St. John en die St. Jerome seil uit die verre Ooste, swaar gelaai met speserye en handelsware, op pad huistoe, na Portugal. Die enigste pad is verby Jan van Riebeeck se toekomstige Kaap. Wanneer hulle egter die ooskus van Suid-Afrika tref, kom daar ‘n verskriklike storm op, en die St. Jerome sneuwel naby die Umhlatuzirivier - waar Richards Baai vandag is. Nie ‘n enkele mens oorleef nie. Die St. John - die grootste galeiskip daardie jare in die handelsvloot - vorder egter tot aan die Wildekus by Port St. Johns (vernoem na die skip), waar dit verpletter word teen die rotse. 500 mense, waarvan 300 slawe was, oorleef die ramp. Hulle enigste redding is om daarvandaan na Inhambane - die naaste nedersetting - te stap. Dit was 1000 km teen die kus op. Dit was ‘n nagmerrietog, veral vir die 200 ryk Westerlinge, wat nie gewoond was aan swaarkry nie. Aan die begin was party van hulle deur hulle slawe gedra! Riviere in vloed, sand, ‘n moordende son, wilde diere, koue, reën en ‘n gebrek aan kos - hierdie dinge het alles hulle tol ge-eis. Die inheemse bevolking in Mosambiek het meestal ‘n koue skouer gedraai - hulp sou daar nie van hulle af kom nie. By een geleentheid is hulle gekonfronteer deur ‘n impi vyandiggesinde krygers. Die manne het Dona Leonora, die skeepskaptein se edele vrou, raak gesien en ge-eis dat sy haar kaal uittrek. Sy het geweier, maar toe sy gedwing word, het sy haar naakte liggaam in die sand begrawe tot by haar nek, en geweier om weer daar uit te kom. Daar is sy uiteindelik dood. Van die 500 mense bereik slegs ’n bedremmelde groepie van 22 uiteindelik die hawe van Inhambane, onder begeleiding van ‘n paar inboorlinge. Die oorlewendes is aan die Portugese handelaars deur hulle begeleiers verkoop vir twee en ‘n kwart pennies elk!

Die vraag ontstaan, waarom hulle nooit plaaslik hulp kon kry nie? Die antwoord was eenvoudig: hierdie Portugese was slawehandelaars, en baie van die plaaslike bevolking se familie is deur hierdie einste mense gevang en as slawe verkoop. Die wiel het gedraai!

In ‘n skrille teenstelling met hierdie droewige verhaal, hef Paulus ‘n oorwinningslied aan: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” Soveel anders as die Portugese van die St. John, is ons as gelowiges meer as oorwinnaars saam met Christus. En ons strompel ook nie “Inhambane” binne soos die paar oorlewendes van die ramp nie, maar ons mars op in ‘n jubelende triomftog, soos die Bokke na hulle wêreldbekersege. Vir die Romeine was ‘n triomfoptog natuurlik nie ‘n nuutjie nie, want elke keer as ‘n generaal ‘n groot veldslag gewen het, was dit sy voorreg om so ‘n triomftog deur die strate van Rome te hou, en dit het gepaard gegaan met feeste en spele, en almal was uitbundig.

Vir ons as gelowiges kan elke dag ‘n triomftog wees met al die feesvieringe wat daarmee saamgaan. Onthou: ons is in die stryd gewikkel met die duiwel - die grootste vyand. Maar die “Generaal” wat ons geveg aanvoer is niemand anders nie as Jesus Christus sélf. Die feit is egter dat Hy reeds hierdie geveg gewen het, en dat ons nou veilig is in Sy kragtige beskerming. Christus is die oorwinnaar, en niks en niemand kan keer dat God sy genadewerk in ons lewe voltooi nie.

Hierdie feit beteken dan ook verder dat ons nood God se aandag sal kry. Die eerste deel het Hy reeds gedoen, deur sy Seun, Jesus vir ons te gee. Hy sal sy genade nooit van ons terug hou nie. Dit beteken natuurlik nie dat ek as gelowige nooit sal swaarkry nie. Maar die troos is dat ek selfs in my swaarkry op Jesus kan staatmaak, want Hy is reg langs my om my deur die swaarkry te help, en vir my by God te pleit wanneer ek struikel. Kyk maar hoe Hy vir Petrus opgehelp het, elke keer as die arme man geval het - selfs toe hy vir Jesus verloën het toe Jesus hom nodig gehad het. Petrus kon in die krag van God opstaan, en hy het oorwin. Ek en jy kan ook!

Beteken dit dat al my swaarkry verby is as ek in Jesus is? Nee, geensins. Maar die feit is egter dat absoluut geen omstandighede ons van Jesus se liefde kan skei nie. In vers 38 en 39 gee Paulus ‘n lysie van die skrikwekkendste dinge wat potensiëel tussen ons en Jesus kan kom - dood en lewe en engele en magte; hoogte en diepte en allerhande kragte. Hierdie dinge plaas ‘n verskriklike beklemming om jou hart. Ons kan hierdie lysie aanvul met die dinge wat vir ons ‘n nagmerrie kan wees, soos rooftogte en kapings, werkloosheid en grondonteienings, brandstofpryse en aardverwarming - hoe verskriklik hierdie dinge ookal mag voorkom - in Jesus kan ons geborge lewe, want Hy sal ons deur al hierdie verskrikkings van die lewe dra en in Sy sterk arms toevou. Deur Jesus se liefde kan ons elke oomblik van die dag waarlik vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan.

Gebed:

Here Jesus, dankie dat ek in die volle vrede van U genade kan leef, en dat ek elke oomblik kan besef dat ek ook ‘n oorwinnaar in U is.