|
Lees: Romeine 9:19-29
Die heerlike geur van vars, nat klei hang swaar in die lug as ek die
pottebakker se werkswinkel instap. Ek is opgewonde - wat gaan hy vanoggend
maak? In die vertoonlokaal staan die mees elegante kunswerke uitgestal, en
daar is te kies en te keur. Al die kleure van die reënboog is daar
verteenwoordig, en daar is van piepklein tot mammoetgroot - koppies, bakke,
blakers en potte.
“Kom kyk”, word ek vriendelik uitgenooi agter die skerms in, dáár waar die
dinge gebeur. Ek stap in ‘n totaal ander wêreld in - hier is dit half-morsig,
as ‘n mens die woord durf gebruik, want die vloer is nat, en van al die
glans en glorie van die vertoonlokaal is hier niks te bespeur nie. Aan die
vêrste ent van die vertrek staan ‘n reuse oond, en ek sien al hoe gloei hy
van binne met ‘n hitte wat die warmplek na ‘n vulletjie laat lyk. In die
middel van die vertrek staan die beroemde draaitafel - die plek waar die
groot wonders gebeur. Rondom is dit alles behalwe skoon - ‘n modderigheid
omring die draaitafel, en skielik begin my gedagtes te dwaal na die tyd toe
ek ‘n klein seuntjie was, op Oupa se plaas by Waterval Boven. Daar was ‘n
kleigat, net onderkant die fontein waar ons huis se drinkwater vandaan kom.
Taai, gladde blou klei, wat ek en my maters dikwels uitgegrawe het - en in
die proses vieslik vuil geword het. Dit was oorlog-klei, want kleilatgevegte
was aan die orde van die dag. Maar soms was dit ook lekkerspeel-klei,
waarmee ons klei-osse en allerhande kunswerke gemaak het. Ek het dit eenmaal
in Ouma se ou koolstoof se oond probeer bak, maar dit was ‘n volslae
mislukking!
Ek word terug geruk na die werklikheid as die pottebakker ‘n stuk klei neem
en dit begin brei totdat dit heerlik elasties en vormbaar is. Met méning
gooi hy ‘n stuk klei wat hy sorgvuldig afgemeet het op die wiel. Terwyl die
wiel draai, begin sy kunstige hande iets vorm. “Wat gaan hier uitkom?”,
wonder ek opgewonde. Sy hande word natgemaak, en die klei maak hulle
modderig, sodat sy hande en die klei op die wiel naderhand een is. Stadig
neem die voorwerp vorm aan, totdat hy skielik sê: “Daar’s hy, dis klaar”. Ek
is teleurgesteld - al wat hy gemaak het is ‘n plat bak. Ek wou sien dat die
pottebakker ‘n ingewikkelde kunswerk maak, maar nou dít! Ek verstaan nie -
sy talente word nie gebruik nie! Hy lees die vraagteken op my gesig, en dan
lag hy: “Hierdie gaan ‘n kleurvolle vrugtebak wees - ek gaan dit glasuur
wanneer die klei droog is, en dan gaan dit gloei met die vrolikste kleure.”
Laas week het ons gekyk na die uitverkiesing, en daar hang seker nog baie
vrae in die lug. Selfs Paulus vra die vraag: Is God dan onregverdig? Ds.
Thomas Dreyer stuur vir my gister hierdie stukkie kommentaar: Wyle Prof
Johan Heyns (in sy boek “Dogmatiek”) en Dr Louis Berkhoff (Systematic
Theology) sê : God se genade is so groot dat Hy wil hê dat elke mens wat in
Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal beërwe - daarvoor
het Hy die mens uitverkies - so is jy en ek en elke mens wat in Hom glo “uitverkies”.
Die hartseer saak - en ek glo dat die Here die hartseer deel - is dat
sommige mense hierdie onbegryplike, onverdiende genade in Christus verwerp
en kies vir hul eie manier van selfregverdiging deur “goeie werke”......
Die uitverkiesing, en daarmee saam baie ander vraagstukke, is vir ons
onverstaanbaar, en ons wil graag vir God voorskryf hoe dinge behoort te
gebeur. Paulus vergelyk God se handelinge met dié van ‘n pottebakker. Hy het
vrymag om te maak met die klei wat Hy wil, en dit te vorm na Sy hand. Soms
lyk dit wat Hy maak vir ons onregverdig, maar God se plan is soveel groter
as wat ons gedagtes kan verwerk. Ek wil soms vra: “Maar waarom het God my
dan nie ‘n Billy Graham of ‘n Angus Buchan gemaak nie?” Maar ek vergeet baie
gou dat ek maar net ‘n blob vaal klei was voordat God my begin vorm het. Hy
het nie nodig gehad om enigiets aan my te doen nie, want ek was vir Hom
absoluut waardeloos. Nogtans het Hy uit genade hierdie waardelose stuk slap,
modderige klei geneem en iets daaruit gevorm wat nuttig kan wees vir Sy
koninkryk. Daardie vormingsproses was natuurlik nie altyd so lekker nie,
want ek moes anders gemaak word as waaraan ek gewoond was, en om bruikbaar
te word moes ek geglasuur word en in ‘n baie warm oond bak (figuurlik
gesproke). Van my kant af was daar slegs een voorwaarde: ek moes gewillig
wees, want sonder my eie toestemming sou God nie hierdie proses met my begin
het nie. Wat behels hierdie “toestemming”? Om “Ja” te sê op God se roepstem,
en Jesus se geskenk van die ewige lewe te aanvaar. Maar dit gaan ook verder
- ek moet toelaat dat God my verder vorm en bruikbaar maak. Hoe doen ek dit?
Deur die sonde agter te laat en myself te bekwaam vir Sy diens, maar die
belangrikste is dat ek gewillig moet wees om my aan God se vormingsproses -
hoe pynlik dit soms ook kan wees - te onderwerp, en Hom, die Groot
Kunstenaar, met my lewe te vertrou.
Gebed:
Here, Skepper van die heelal - ek stel my vandag onvoorwaardelik in U
kunstenaarshande.
|
|