|
Lees: Romeine 10:16-11:17
Dit is so ironies dat die ganse heilsgeskiedenis in Israel begin het, maar
dat die Jode nog steeds nie God se vryspraak ervaar het nie. Dit het begin
by die Ou Testament, en Jesus se bloedlyn loop soos ‘n goue draad regdeur
die duisende jare se geskiedenis van die Joodse volk. Telkens duik daar
groot name uit die geskiedenis op wat in Jesus se stamboom ingewortel is.
Nie lank na Jesus se kruisiging nie, is daar ‘n magtige ontploffing van die
Christendom, reg in die hartjie van Israel, as drieduisend mense (meestal
Jode) op een dag gelowig word op Pinksterdag. Wie is dit dan wat die blye
boodskap van die evangelie die wye wêreld indra? Niemand anders nie as Jode!
Selfs die grootste sendeling van alle tye, Paulus, was ‘n Jood in murg en
been. Só Joods was hy, dat hy as jong man ‘n gesoute Fariseër was!
Wat het van al die Joodse Christene geword? Selfs in Paulus se eie tyd al
het die oorgrote meerderheid van Jode die Christendom verwerp. Telkemale as
Paulus in die moeilikheid kom, dan kan jy maar seker wees dat daar Jode sit
agter sy vervolging. En vandag? Wys my ‘n Jood wat ‘n Christen is - hulle is
bitter yl gesaai! Deur die eeue heen het die geskiedenis oor en oor bewys
dat die Jode ‘n hardkoppige nasie is.
Dis baie maklik om vinger te wys na die Jode, maar as ons na ons eie tyd kyk,
dan kom jy agter dat ons eintlik nou in ‘n post-Christelike era leef. Skaars
150 jaar gelede was ons voorvaders, die ou Voortrekkers beskou as ‘n
diep-gelowige volk, en slegs by groot uitsondering het iemand afgewyk van
die “smal weg”. Die bordjies is verhang, en nou is die gelowige eintlik die
uitsondering op die reël. O ja, statistieke het getoon dat 70% van Suid-Afrikaners
Christene is, maar dit is absoluut net in naam, want ‘n baie klein
persentasie van daardie sogenaamde “Christene” is gelowiges. Die res is wel
nie teen die Christendom gekant nie, en hulle lewe dalk ook nie doelbewus
sleg nie, maar Godsdiens geniet nie by hulle ‘n hoë prioriteit nie. Baie van
hierdie mense gaan selfs soms kerk toe om hulle gewete te sus, maar hulle
bevind hulleself in werklikheid in dieselfde posisie as die Jode, want hulle
staan in groot gevaar om God se vryspraak heeltemal mis te loop.
Dit plaas natuurlik op my en jou as gelowiges ‘n baie groot
verantwoordelikheid, want ons is die enigste ware preek wat hulle dalk ooit
sal hoor. Daarmee bedoel ek dat ons lewe by hulle só ‘n honger moet gee vir
die geloof, dat hulle sal reageer wanneer die evangelieboodskap hulle bereik.
Dit help gewoonlik nie as die boodskap aan hulle opgedring word nie, maar as
jy eenvoudig so ‘n persoon uitnooi om saam met jou ‘n Bybelstudie of
lofprysingsgeleentheid by te woon, kan dit deure oopmaak vir die evangelie.
Ek bid dat hierdie dagstukkies waarvan ek al baie meer as ‘n duisend
uitgestuur het, by iemand ‘n honger vir die evangelie sal wakker maak - en
inderdaad het dit al verskeie kere gebeur!
Om terug te kom by die Jode: die vraag is vanoggend of die Jode dan nou
finaal verlore is? Is daar geen salf te smere aan hulle nie - hulle het
immers die evangelie verwerp? Inderdaad is daar Jode wat die Evangelie
aanvaar het - Paulus is hiervan ‘n baie groot voorbeeld. Jare gelede was
daar in Durban ‘n liewe ou predikant - Ds. Adler. Hy was ‘n Jood, maar het
verkies om predikant te word in die NG Kerk. Vandag is daar ook ‘n baie
sterk beweging onder sekere Jode - sogenaamde Messiaanse Jode - wat die
evangelie aanvaar het, maar steeds hulle Joodse tradisies behou. In
Suid-Afrika is daar die beweging met die naam: Jews For Jesus wat gelowige
Jode is, en intensief evangelisasiewerk doen onder hulle mede-Jode. God het
nie die Jode verwerp nie - die Jode het God verwerp. Nogtans is God se
genade so groot, dat Hy enige Jood wat Hom verwerp het met liefdevolle, ope
arms sal verwelkom in Sy koninkryk.
Wat vir die Jode geld, geld natuurlik ook vir alle volke. God se genade is
so wyd as die heelal, en absoluut niemand is uitgesluit nie - selfs nie die
gehardste ongelowige of ateïs nie.
Paulus noem in vers 11 ‘n interessante ding, naamlik dat die geloof van die
heidennasies die Jode jaloers moes maak. Net so moet jou lewe sodanig wees
dat dit ongelowiges jaloers maak, sodat hulle ook wil hê wat jy het. Presies
net dít het met my gebeur, toe ek bitter jaloers was op ‘n jong meisie wat
haar geloof voluit geleef het. Hoekom kon ek nie ook bid soos sy nie? “Sy
dweep!”, het ek dikwels gedink, totdat ek later ook gered is deur God se
genade, en daar vir my ‘n totale nuwe lig opgegaan het oor waarom sy leef
soos wat sy leef. Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde dikwels, dat
gelowiges jaloers raak op die bandelose lewe van ongelowiges. Dit is egter
‘n hol en niksseggende lewe, en as jy vasbyt en streef na ‘n intieme
geloofsverhouding met God, raak hierdie dinge naderhand vir jou waardeloos.
Vermy ongelowiges se slegte invloed, en bid die Heilge Gees om jou die wil
te gee om ‘n geloofsvoorbeeld uit te leef wat ongelowiges soos ‘n magneet na
God sal trek.
Gebed:
Heilige Gees, help my asseblief om sodanig te leef dat ongelowiges jaloers
sal word, en U soek.
|
|