|
Lees: Romeine 11:17-24
In my kleintyd was daar nie allerhande soorte meghêftertjies om die manne
besig te hou wat daar vandag is nie - daar was nie rekenaars en e-pos en
interessante webwerwe om ure lank te sit en deurblaai nie. 4x4’s was beperk
tot die Land Rover, en hy was nie gebruik om mee rond te kerjakker nie - hy
is gebruik om jou op plekke te bring waar daar nie paaie was nie. GPS’e was
nog nie eers in enige mens se gedagtes nie, nie eers gepraat van selfone of
selfs TV’s nie. Nee, die manne het hulleself besig gehou met ander dinge -
baie eenvoudiger as vandag se manne-speelgoed.
In die meeste agterplase was daar ‘n groentetuintjie en ‘n paar vrugtebome (dis
die tyd toe daar nog ‘n agterplaas was, en nie ‘n ontspanningsarea met ‘n
grênd lapha en swembad en ingevoerde braaistellasie nie!). En dit was juis
in hierdie vrugteboordjie waar die manne hulle vernuf gewys het. Party manne
was tevrede om reuse boerpampoene en koolkoppe te vertroetel, maar ander het
allerhande slim dinge met hulle vrugtebome aangevang. Een ou sal byvoorbeeld
onder groot geheimhouding ‘n paar nou-nek bottels in ‘n peerboom installeer,
en na ‘n maand of twee se vertroeteling tot almal se groot verbasing spog
met sy pere in die bottel. Vir die on-ingeligte lyk dit totaal onmoontlik
dat daardie peer by die nou nekkie ingedruk kan word, maar die geheim is dat
die peer binne in die bottel groei van kleintyd af.
Die ander gewilde tydverdryf was om bome te ent. Met groot vernuf en
omsigtigheid word ‘n takkie aan ‘n vrugteboom voorberei, en dan word ‘n
takkie van ‘n ander soort vrug noukeurig gesny om presies op hierdie
voorbereide takkie te pas. Die “wond” word sorgvuldig versorg en vertroetel,
en algaande begin die takkie vasgroei aan die boom, totdat hulle twee
uiteindelik een is, en net die wondweefsel nog wys dat hulle eenmaal totaal
apart was. Die nuwe takkie is totaal afhanklik van die lewenssap van die
boom om aan die lewe te bly, en dit neem tyd vir die vate om behoorlik te
heg. Maar as dit eers gebeur het, stroom die volle krag van die moederboom
se lewegewende sap in die takkie in. ‘n Jaar of twee later, dan dra hierdie
takkie die pragtigste vrugte. Tot groot verbasing van almal wat hierdie boom
besigtig, is die vrugte aan hierdie tak anders as dié van die res van die
boom. Gewoonlik ent hy ‘n paar verskillende soorte vrugte aan een boom,
sodat jy dalk ‘n boom kry wat geelperskes, witperskes, lospitperskes,
appelkose en pruime tegelyk dra. Natúúrlik word al wat leef en beef op ‘n
toer van sy vrugteboord geneem om sy handewerk te vertoon. Vandag word die
metode van enting op groot skaal gebruik, maar om héél ander redes. In die
vrugtebedryf word die vrugdraende deel van ‘n boom op die wortelstelsel van
‘n ander boom geënt om die maksimum dravermoë daar te stel.
Die idee van enting kom natuurlik al ‘n baie lang pad - in Paulus se tyd was
dit alreeds wyd toegepas, en hy gebruik hierdie praktyk om ‘n waarheid te
illustreer. Naas druiwe, was olywe seker die belangrikste produk van die
lande om die Middellandse See. Paulus vergelyk die wilde olyf met die
gelowige. Jesus is die stam en wortelstelsel van die ware olyf. Ek en jy
word op hierdie Stam ingeënt. Aanvanklik moet hierdie nuwe hegting maar baie
vertroetel en gepamperlang word, maar uiteindelik begin die “lewenssap” van
die Stam in volle sterkte deur die are van die jong gelowige vloei. Met tyd
word hierdie verbinding al hoe sterker en sterker, en voed die Stam die
gelowige sodat hy baie vrugte kan dra. Ons moet egter weet, dat hierdie
“takkie” totaal afhanklik is van die Stam, want die oomblik as die
verbinding verbreek word, verwelk die “takkie” en gaan dood. Die ander
waarheid is natuurlik ook, dat as daardie “takkie” nie vrugte dra nie, dan
is hy waardeloos vir die Stam, en staan hy kans om afgesny te word.
Ons moet te alle tye onthou presies waar ons staan in die lewe. Ons moet
deeglik besef dat ons geënt is aan die Stam, Jesus Christus, en dat ons
totale lewensbestaan van Hom alleen afhanklik is. Géén gelowige het dus
enige rede om hoogmoedig te wees oor die feit dat hy of sy ‘n geredde
persoon is nie. Ek kan myself nie verhef bo enigiemand anders nie, want ek
het nie gekom waar ek nou is deur my eie toedoen nie. Jesus is my ganse
lewensbestaan, en sonder Hom is ek verdoem. Ek het al baie te doene gekry
met Christene wat neus in die lug loop oor hulle kwansuis ‘n trappie hoër as
die ander “gewone” gelowiges is. Met so ‘n houding keer jy dat ongelowiges
die ewige lewe kan bekom! Jy dwarsboom Christus!
Die ander saak wat ons ook deeglik moet besef, is dat daar baie verskillende
soorte takkies aan die Stam, Jesus geënt is, en dat ek maar net een van ‘n
groot verskeidenheid is. Elkeen van hulle het presies dieselfde status as ek.
Respekteer dus elke ander gelowige - maak nie saak hoe hulle lyk nie.
Gebed:
Dankie Here Jesus, dat ek die voorreg het om aan U geënt te mag wees.
|
|