Sondige Verhoudings (deel 1) |
||
Lees: Romeine 1:24-28 Iemand skryf die afgelope naweek vir my en doen navraag oor die dagstukkies. Sy wil toe weet wat dit sal kos om hulle te kan ontvang, want sy sal moet gaan bereken of sy dit sal kan bekostig. Hierdie vragie het my hard aan die dink gesit, en ek antwoord haar toe soos volg: “Dit sal kos dat jy dit sal lees. Dit sal kos dat jy die boodskap sal oordink. Dit sal kos dat jy daaroor sal bid. Dit sal kos dat jy dít wat die Heilige Gees deur die boodskap vir jou sê jou eie sal maak en dit uit te leef. Dit sal kos dat jy die boodskap so wyd as moontlik sal bekend maak en met ander deel, net soos wat iemand dit dalk ook met jou gedeel het. As hierdie koste nie vir jou te groot is nie, stuur ek dit vir jou gratis aan met groot liefde.” Dalk moet ek vir jou ook vanoggend hierdie vraag vra: “Kan jy bekostig om hierdie dagstukkies te ontvang?” Wat is die ergste ding wat met ‘n mens kan gebeur? Ek dink die verskriklikste is om aan jou eie sondige self oorgelaat te word. ‘n Mens se natuurlike sondige ingesteldheid lei uiteindelik tot selfvernietiging, en juis daarom is die ongelowige sy eie grootste vyand. Baie mense dink dat hulle vryheid juis daarin lê dat hulle nie aan God en al Sy gebooie gebonde is nie, maar onwetend stel hulle hulleself juis hierdeur bloot aan die ergste vorm van slawerny - slawerny van die sonde wat op selfvernietiging en die dood uitloop. As sondige drange jou lewe begin regeer, dan eis dit sy tol van jou liggaam. As ons 1 Kor. 6:12-20 lees, dan sien ons duidelik dat ‘n mens se liggaam die tempel van God is waarin die Heilige Gees woon. Jou liggaam is dus in die eerste plek daar om fisiek uitvoering te gee aan die dinge wat God van jou vra. As jy jou oorgee aan jou sondige en selfsugtige begeertes, dan is jy besig om die tempel van God te onteer. Hierdie begeertes kan baie vorms aanneem: obsessiewe seksuele gedrag, alkoholmisbruik, nikotienverslawing, dwelms, verslawing aan kos (?!), en selfs dieetverslawing en werkverslawing. Al hierdie dinge kan jou liggaam op die lang duur afbreek. Maar Paulus gaan ‘n stappie verder wanneer hy praat van die gevare van ‘n mens se sondige drange: dit gaan ook oor verhoudings. In die leefwêreld van die Romeine was lesbiese en homoseksuele verhoudings ‘n algemene aanvaarde praktyk. Selfs van die keisers het in sulke homoseksuele verhoudings geleef - onder andere die groot Nero. Paulus noem dit teennatuurlik, pervers en onbetaamlik (Rom 1:26-28). Vandag gaan daar baie sterk stemme op vir die erkenning van homoseksuele en lesbiese regte, en daar is baie mense wat sulke verhoudings as ‘n alternatiewe lewenswyse sien. Die vraag is: hoe moet ek dink oor sulke verhoudings, en hoe moet ek sulke mense benader? Wat is die Bybelse beginsels in hierdie gevalle? In die eerste plek moet ons altyd die grootste gebod onthou, naamlik liefde. As gelowige moet jy in alle gevalle in liefde optree soos wat Jesus ons geleer het. ‘n Gelowige durf nooit so optree dat God se genade enigsins verduister word nie. In die tweede plek durf ons ook nie sulke mense met ‘n gesindheid van hoogmoed benader nie - “ek is beter as jy, want ek is ‘normaal’”. Sulke hoogmoed gee natuurlik ook aanleiding tot kwaadpratery, skinder en liefdelose hardvogtigheid. Hierdie dinge is sonde! Die vraag is of homoseksualiteit dan ‘n erger sonde is? Moenie my verkeerd verstaan nie - ek probeer nie homoseksualiteit goedpraat nie - uit die Skrifgedeelte wat ons vanoggend lees wys Paulus ons daarop dat homoseksuele en lesbiese verhoudings ongehoorsaamheid is aan God. Beteken dit dan dat ‘n homoseksuele persoon verlore is? Inderdaad nie! God se genade is eindeloos groot. As so ‘n persoon verdoem en verlore moet wees, dan is ek ook totaal verlore, want my sondes is enige tyd net so groot soos syne. Ek ken homoseksuele persone wat toegewyde gelowiges is en meer in die gemeente se aktiwiteite deelneem as meeste ander lidmate. Ek weet ook van sulke persone wat uit die gemeente uitgedryf is as gevolg van ‘n predikant se onsensitiewe, verdoemende preek. Hierdie mense is so verontnugter dat hulle nooit weer hulle voete in daardie kerk sal sit nie. Hiermee is die hele punt gemis, want die doel is juis om hulle in die kerk te kry, en nie om hulle daaruit te verdryf nie. Ek en jy moet baie mooi selfondersoek doen oor ons eie lewe voordat ons ander mense veroordeel. Hoe lyk my lewe? Is ek sonder sonde? Is daar nie dalk dinge in my lewe wat ek moet regmaak voordat ek ‘n vinger durf wys nie? Hierdie gedeelte van Paulus handel oor verhoudings - hoe lyk die verhoudings in my eie lewe? DV sal ons more ‘n bietjie besin oor die verhoudings waarin ons staan. Gebed: Here, gee my asseblief ‘n gesindheid van liefde in my hart teenoor almal wat ek mee in aanraking kom, en neem asseblief daardie sondige veroordeling uit my hart. |
||