|
Lees: Romeine 11:25-36
“Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen” - So sluit Paulus
die hartseer hoofstuk uit sy brief oor Israel af. Alles is nie verlore nie -
God is in beheer.
In die laaste deel van hoofstuk 11 wil Paulus vir sy lesers die versekering
gee dat sy geliefde volk, Israel nie totaal verlore is nie. Inderdaad het
ons in die vorige hoofstukke gelees hoedat Israel vir Jesus verwerp het -
hoedat hulle die Hoeksteen waarop die ganse geloof gevestig het afgekeur het.
Buiten vir ‘n klein handjievol wat hulle hele lewe gewy het aan Jesus, het
die res hulleself verhard teen die evangelie. Paulus verduidelik nou dat
hierdie verharding van hulle harte sal voortduur tot net voor die wederkoms
van Jesus - “totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk
ingegaan het” - so stel Paulus dit. En dan sê Paulus dat die hele Israel
gered sal word.
Hoe moet ons dit verstaan? Sommige mense glo dat ons Paulus se woorde hier
letterlik moet opneem, en dat fisies elke Jood gered sal word. Ek dink nie
dit was sy bedoeling nie, want net so min as wat elke heiden gered sal word,
so min sal elke Jood tot redding kom. Slegs die uitverkorenes van die Jode
sal gered word. Wat ons egter wél hierin kan lees is dat daar kort voor die
wederkoms ‘n groot bewuswording onder die Jode sal wees van Jesus, en dat
baie Jode tot geloof sal kom. Ons sien hierdie dinge alreeds gebeur, en
talle Jode is reeds gelowiges. Die beweging: Jews For Jesus waarvan ek ‘n
week of wat gelede gepraat het, doen wonderlike evangelisasiewerk onder die
Joodse volk.
Paulus noem egter ook ‘n ander saak wat hiermee verband hou, naamlik dat
Jode en nie-Jode mekaar bevoordeel. God se genadebewyse aan die een groep
bevoordeel ook die ander. In die begin het ons gesien hoedat God se seëninge
op die Jode oorgedra is na die heidene deurdat Joodse gelowiges net
eenvoudig nie kon stilbly oor wat met hulle gebeur het nie. Sendelinge soos
Paulus het die boodskap oor die ganse heidenwêreld versprei. Die wiel het
egter gedraai, en nou is dit weer die nie-Jode se beurt om die
evangelieboodskap aan die Jode te bring sodat hulle ook kan deel in God se
wye genade.
Hoe gaan hierdie misterieuse ontplooiïng van God se genade in die toekoms
ontvou? Ons weet nie, want dit is deel van God se groot raadsplan. Wat ons
wel weet is dat ek en jy deel is van hierdie plan, en dat ons ‘n roeping het
wat ons moet uitleef. Dalk kan ons ook maar net saam met Paulus sing: “O
diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! ..... Wie ken die
bedoeling van die Here?”
Inderdaad is Paulus hartseer omdat sy geliefde volk nie wil glo nie, en die
evangelie verwoed bly verwerp. Maar dan gaan hierdie hartseer oor in ‘n
loflied. “Maar hoe is dit moontlik om jou bittere hartseer so in ‘n loflied
te laat oorgaan?”, wil ‘n mens verdwaas vra. Hierdie massabekering van die
Jode wat hy voorspel, is nog maar net ‘n gedagte. Die hier-en-nou is dat die
Jode harte soos klippe het. Hoe moet ons vir Paulus verstaan? Die groot
geheim is dat Paulus sy loflied kan sing omdat hy vasgryp aan die Godheid
van God. Nee, hy hoef sélf nie al hierdie dinge te verstaan nie - dit is vir
hom gladnie deel van die voorwaarde vir sy geloof in God nie. Die reuse
troos is dat God getrou is en dat HY alles verstaan. Paulus besing dan juis
die ondeurgrondelike rykdom en wysheid en kennis van God.
Ja, ek en jy beleef dikwels ook baie hartseer oor dierbares in ons lewe wat
steeds hulle harte verhard teenoor die evangelie. Dikwels is daar ouers wat
bittere lyding deurgaan oor hulle kinders wat totaal afgedwaal het van die
mooi pad waarop hulle grootgemaak is. Ek ken menige ouers wat ure lank huil
oor hulle kinders. ‘n Mens wil totaal hoop verloor, want hoe sal hulle ooit
gered kan word? Maar dit is juis in hierdie skynbare onmoontlikheid van
hulle redding dat ‘n mens moet vasgryp aan God, Wie se weë totaal
ondeurgrondelik is. Wat vir ons menslik onmoontlik lyk is vir God baie
moontlik. Dink byvoorbeeld maar aan jouself, en hoedat jy op ‘n
wonderbaarlike manier gered is. Die wonder-verhale van mense se redding is
legio. Ek het self al situasies aanskou waar redding gans-onmoontlik gelyk
het, en waar God die wonderwerk laat gebeur het. Inderdaad gebeur
wonderwerke nog elke dag - om die waarheid te sê is elke redding van ‘n siel
‘n wonderwerk op sy eie, en kan ons maar net in aanbidding voor die grote en
almagtige God neerval daarvoor.
Ja, ek en jy moet so aan God se genade vasklou en vertrou dat ons nooit sal
ophou om te glo en te bid vir daardie dierbares van ons wat steeds ongered
is nie. Ons moet aanhou om ‘n voorbeeld vir hulle te stel, en vir hulle ‘n
spieël te wees wat God se helderwit lig weerkaats sodat hulle Hom in ons kan
sien. Dan sal jy ook saam met Paulus vanoggend hierdie loflied kan sing -
die loflied van God aan Wie die heerlikheid tot in alle ewigheid behoort.
Gebed:
Here, uit U en deur U en tot U is alle dinge - aan U behoort die heerlikheid
tot in alle ewigheid!
|
|